Sentraal voorste span op Oakdale Landbou se week
Die sentrale streek se rugbyspelers het dié streek se naam hoog gehou op die jaarlikse rugbyweek wat deur Oakdale Landbou net buite Riversdal aangebied word. Nie minder as ses spelers van dié streek is in die vyftiental ingesluit wat op die week gekies word.
Die span speel nie ‘n wedstryd nie, maar spelers soos die Springbok Meyer Bosman ‘n oud-leerling aan die gasheer en eersterangse speler Marius Delport het die span op skool gehaal. Hoërskool Sentraal van Bloemfontein wat as die span van die week aangewys is, het drie spelers in dié span van die week. Die haker Ryno Gerber, slot SJ Wessels en vleuel Wian Koekemoer.
Wessels is as voorspeler van die toernooi aangewys. Hoërskool Upington se agtsteman Jasper Wiese en Diamantveld se senter Ruan Maritz is die ander twee spelers van dié streek wat die span gemaak het.
Die Tralies het slegs sy eerste wedstryd van dié toer teen Hoërskool Strand 10-15 verloor. Die span van die Rosestad het egter plaasvervangers speelkans in dié wedstryd gegee, maar sal steeds nie tevrede met die nederlaag wees nie.
Sentraal het in sy volgende twee wedstryde vir Durbanville (43-15) en Hoërskool Pietersburg (36-8) behoorlik geklop. In die laaste wedstryd het Gerber, SJ Wessels, die flank Stefan Kruger en Michiel Wessels goeie spel gelewer.
Voortrekker van Bethlehem het sy week in Riversdal met ‘n skitterende sege van 19-10 oor Vereeniging Gimnasium afgeskop. Die Trekkers het egter in sy volgende twee wedstryde nie na verwagting vertoon nie en teen Hugenote van Wellington (5-14) en Hoërskool Pietersburg (5-8) vasgeval.
Diamantveld het na sy nederlaag van 0-19 teen Oakdale Landbou in die hoofwedstryd van dié eerste dag vir Hoërskool Strand (26-3) geklop en 19-elk gelykop teen Augsburg Landbou gespeel.
Louis Botha het Strand (14-5) uitoorlê, maar op die laaste dag ‘n drag slae van 0-39 teen Oakdale Landbou op die lyf geloop. Die span van Bloemfontein het op die eerste dag vir Augsburg Landbou 13-6 verslaan.
Hoërskool Upington en Aliwal-Noord het ook met gemengde welslae vanaf die Suid-Kaap terug gekeer. Uppies het Hoërskool Bellville in sy voorlaaste wedstryd 24-22 geklop, terwyl hy in sy laaste wedstryd teen Montagu (6-10) vasgeval het.
Die span van die week is: Ruan Barnard (Oakdale Landbou), Arno van Staden (Pietersburg), Jacques Nel (Diamantveld), Burnan Myburgh (Overberg), Wian Koekemoer (Sentraal), Ewan Adams (Hermanus), Marshall Daars (Strand), Jasper Wiese (Hoërskool Upington), Michael Badenhorst (Durbanville), Benjamin Janse van Vuuren (Oakdale Landbou), Herman le Roux (Montagu), SJ Wessels (Sentraal), Jacques Lister (Pietersburg), Ryno Gerber (Sentraal), Ox Nche (Louis Botha).
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16