SuperSport Schools Plus

Prinse van Potch nou Bowl-konings danksy Bosch

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-08-25 Tags: , , , , , , , ,

ELRICH BOSCH, binnesenter van Potchefstroom Gimnasium, op die aanval teen Eldoraigne in die twee spanne se groepswedstryd in die Bowl-kompetisie. FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium se Facebook-blad.

Die naam Elrich Bosch sal vir nog ‘n wyle deur die strate van Potchefstroom weergalm.

Herleef al die Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Dit was danksy Bosch se drie, met speeltyd reeds verstreke, dat Potchefstroom Gimnasium sy eerste Noordvaal-titel sedert 2004 kon verower. Die Gimmies het vir Hoërskool Eldoraigne in ‘n naelbyt-eindstryd met 18-17 uitge-Bowl.

Daar was niks te kies tussen die twee spanne met die omdraaislag nie. Die eerste helfte het slegs ‘n strafdoel elk opgelewer en dit was eers in die tweede helfte dat albei spanne deurkomkans kon vind.

Die Gimmies se ster, David Ndala, het eerste deurgebreek en ook twee strafdoele en die laaste, uiters belangrike doelskop deur die pale gejaag. Dit het sy persoonlike bydrae in eindstryd op 13 punte te staan gebring. Bosch se sentermaat, Lourens Jacobs, was ook ‘n gereelde doring in die Drake se vlees.

Indien enigiemand vir Deon Anderson en die res van Eldoraigne se afrigtingspan in Junie gesê het dat hulle die topspan in die afdeling, in die eindstryd van die Bowl-afdeling, ál die pad sou druk, sou hulle dit beswaarlik kon glo. Die Eldo’s het ‘n uitstaande vertoning op verdediging gelewer.

Die klipharde vaskopstut, Jaco Fourie, het sy puik seisoen met een laaste groot vertoning afgesluit, deur te woel in die vastelos en een van die Drake se twee drieë te druk.

Die Eldo’s se veelsydige JP Meyer moes kort voor die aanvang van die wedstryd van heelagter na losskakel skuif, maar het uitstekend aangepas om ‘n goeie vertoning op die aanval te lewer en sy stewel, wat die Eldo’s heel jaar gedra het, was weer ‘n faktor. Hy was in die kol met twee doelskoppe en ‘n strafdoel, en het ‘n uiters effektiewe vennootskap met skrumskakel, Darren Bruwer, gevorm.

In die o.16-eindstryd het Hoërskool Randburg ‘n uitmuntende terugvegpoging geloods om vir Hoërskool Wagpos met 27-26 te troef. Die vleuels, Ewan van der Walt en Jayden Oosthuizen, wat elk ‘n tweekuns behaal het, het ‘n agterstand van 14 punte in die tweede helfte uitgewis en dit was verál Van der Walt wat met sy vaart en krag beïndruk het.

Wagpos se skrumskakel, Josef van der Berg, was die span van Brits se grootste uitblinker en het self twee keer agter die Randburgers se doellyn gaan kuier.

Merensky Landbou Akademie se voorspelers het al 11 sy punte in die tweede helfte aangeteken om vir Hoërskool Piet Retief met 11-7 te verslaan. Slot, Milan le Roux, het oorgeduik vir sy span se enigste vyfpunter terwyl agsteman, Andrich Venter, en loskopstut, Bradley Mdewa, het elk ‘n strafdoel deur die pale gejaag het om vir afrigter, Francois Bothma, ‘n spesiale verjaarsdaggeskenk te gee.

Regtervleuel, Lubanzi Mhlongo, het twee keer oorgeduik om te verseker dat die o.14-titel saam met Hoërskool Piet Retief na Mpumalanga terugkeer. Die Pieties het hul staal gewys om vir Eldoraigne se jongmanne met 22-17 te klop.

Puntemakers: 

Potchefstroom Gimnasium 18 (3) – Drieë: David Ndala, Elrich Bosh. Doelskop: Ndala. Strafdoele: Ndala (2). Eldoraigne 17 (3) – Drieë: Jaco Fourie, Ivan Vermeulen. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoel: Meyer.

Ander spanne: 

o.16

Hoërskool Randburg 27 (12) – Drieë: Ewan van der Walt (2), Jayden Oosthuizen (2). Doelskoppe: Josef van der Berg (2). Strafdoel: Van der Berg. Wagpos 26 (26) – Drieë: Myburgh Henning (2), Roelof van Wyk, Pieter Steenkamp. Doelskoppe: Gerhard Cronje (3).

o.15

Merensky 11 (0) – Drie: Milan le Roux. Strafdoele: Andrich Venter, Bradley Mdewa. Hoërskool Piet Retief 7 (0) – Drie: Carl-Hein Creydt. Doelskop: Creydt.

o.14

Hoërskool Piet Retief 22 (10) – Drieë: Lubanzi Mhlongo (2), Sithuli Zulu. Doelskoppe: Ferdi Brecher (2). Strafdoel: Brecher. Eldoraigne 17 (17) – Drieë: Jayden Calitz, Brendon Möller. Doelskoppe: Franco Vermeulen (2). Strafdoel: Dicci Stapelberg.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.