Oos-Moot oorgehaal om Menlo-vere te pluk
Hoërskool Oos-Moot gedenk ‘n paar eerstes vandag.
Dit is die eerste keer wat Oos-Moot vanjaar op die rugbyveld in aksie sal wees, wanneer hulle vanmiddag teen Hoërskool Menlopark, op laasgenoemde se tuisveld, in Pretoria te staan kom.
Dit is voorts vanjaar ook die eerste keer dat die span van die Moot in die NWU-Sportreeks deelneem.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.
Die Oosies sal uitsien daarna om hul seisoen teen strawwe kompetisie af te skop, en sal moed skep uit die feit dat sewe spelers van hul suksesvolle 2023-groep weer die gesogte ligbloutrui oor die kop sal trek.
Ruwan Allen, Tapiwa Rwafa en Wade Williams, wat aldrie ook deel was van die Oosies se geskiedkundige aflosspan, sal die kern van die die span se leierskap vorm.
Allen, wat verlede jaar op binnesenter uitgedraf het, sal vanjaar die nr. 10-trui oor sy kop trek, terwyl Williams en Rwafa weer hulle gereelde posisies, op onderskeidelik steelkantflank en linkervleuel, sal inneem.
Oosies se breier, Braam Pretorius, kom vir die eerste te staan teen die skool, waar hy in 2019 deel uitgemaak het van die afrigtingspan van die span wat, vir die eerste keer in Menlopark se geskiedenis, as Noordvaal-kampioen gekroon is.
“Dit voel beslis snaaks om nou teen Menlo, waar ek vyf jaar gelede betrokke was toe hulle Virsekerbeker gewen het, aan die ander kant te sit,” het Pretorius tong in die kies gesê.
In teenstelling met die Oosies, het Menlopark reeds die kans gehad om hul strukture op die proef te stel. Hulle het in ‘n naelbytstryd verlede naweek uitstekend teruggeveg om uiteindelik met 25-19 teen Hoërskool Eldoraigne die pyp te rook.
Dit het egter teen ‘n prys gekom. Login Botha, Menlopark se staatmaker op losskakel, sal weens harsingskudding vanmiddag buite aksie wees. Dit gee sy plaasvervanger, Andru Kuhn, die geleentheid om die leisels as generaal van die agterlyn op te neem.
Die spoedvraat op regtervleuel, Bladen Pieterse, bevind homself ook op die krukkelys met ‘n kniebesering. Reinardt Herbst vervang hom in die nr. 14-trui.
Die beseringspook het vroeg reeds by Hoërskool Dr EG Jansen en Hoërskool Transvalia kom draai. Die twee spanne pak mekaar vanmiddag in Boksburg.
Die tuisspan sal sonder die dienste van hul woelige agtsteman, Storm Labuschagne, moet klaarkom. Dit bied vir Gerhard van Aswegen die geleentheid om die Jansie-breiers te wys waartoe hy in staat is.
Transvalia is twee gevoelige houe toegedien. Skrumskakel, Anro Nagel, het ‘n ligte besering in die span se een-punt nederlaag teen HTS Middelburg opgedoen, terwyl binnesenter, Brandonlee Smit, homself ook op die krukkelys bevind.
Volgens die span se breier, AJ le Roux, is dit egter slegs voorkomende maatreëls en hoop die bestuurspan dat altwee staatmakers weer perdfris en gesond sal wees vir die groot stryd teen Hoërskool Kemptonpark eerskomende Saterdag.
Declan Hattingh neem die leisels oor by Smit op binnesenter, terwyl Nandus McLean op skrumskakel sal diens doen.
Die spanne:
Menlopark t. Oos-Moot om 19:00 in Pretoria:
Hoërskool Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Reinardt Herbst, 13 Ruben Fourie, 12 Ruben Rudolp, 11 Stefan van Niekerk, 10 Andru Kuhn, 9 Phillipus de Bruin, 8 Rocco Myburgh, 7 JN van Wyk, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagan Pretorius, 3 Phillip du Plessis, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.
Hoërskool Oos-Moot: 15 Naylan Albertus, 14 Jayden Pretorius, 13 Drew Williams, 12 Dewron Aford, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Ruwan Allen, 9 Franco O’Neale, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christiaan Smith, 2 Clayton de Bruyn, 1 Jandre de Beer.
Dr EG Jansen t. Transvalia om 17:00 in Boksburg:
Hoërskool Dr EG Jansen: R-Jay Pietersen, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Gerhard van Aswegen, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naude, 4 Ettienne Smit, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 3 Zian Marais.
Hoërskool Transvalia: 15 Tsepo Molakeng, 14 Kyle Esterhuysen, 13 Siyabonga Khambula, 12 Declan Hattingh, 11 Nkanyiso McCamel, 10 Dylan Steynman, 9 Nandus McLean, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazambu, 6 Juan Bishoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Vincent Brits, 3 Stiaan Breedt, 2 Jaydan McPhearson, 1 Dylan Booth.