SuperSport Schools Plus

Moeilike taak wag op Eldo-Drake in Alberton

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-26 Tags: ,

Hoërskool Eldoraigne se Drake het beslis nie ‘n maklike taak wat wag wanneer hulle Saterdag in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling weg teen Hoërskool Alberton te staan kom nie.

Die span van Centurion beleef tot dusver ‘n strawwe seisoen en kon nog slegs een keer wen, met 17-12 teen Hoërskool Ben Vorster.

Die Drake se breiers, Naas Botha en Deon Anderson, is egter positief dat die moeilike pad tot nou, nog vrugte in vanjaar se reeks sal afwerp.

Die span van Alberton het self ‘n moeilike reeks in 2023 beleef en was selde aan die wenkant. Hulle sal egter onder leiding van die nuwe en ervare breier, Bobby McLeod, glad nie te versmaai wees nie en verál daarop uit wees om die lewe by die afbreekpunte moeilik te maak vir die Drake.

Agsteman, Jay-Cee Nienaber, en die woelige steelkantflank, Luke Joubert, sal aan die spits van hul aanslag wees, met die twee wat sal wil voortbou op hul effektiewe spelpeil tot op hede. Agterlangs sal alle oë op heelagter, Ayanda Madekane, en die gevaarman in die middeveld, Sipho Sibanyoni, wees, met die hoop dat hulle die nodige vonk vir Alberton kan verskaf.

Die Eldo’s sal heel verlig wees dat hul staatmaker op binnesenter, Ian Bosch, sy terugkeer maak na ‘n ligte besering wat hy vroeër in die NWU Sportreeks opgedoen het. Dit beteken dat die generaal en skerpskutter, JP Meyer, sy gunstelingposisie op losskakel kan ineem.

Voorlangs maak die hardwerkende, SW Liebenberg, ook sy terugkeer aan die steelkant van die skrum, terwyl Jaydon Niehaus, wat nog aan die begin van die jaar op loskopstut diens verrig het, die nr. 8-trui sal aantrek.

Die spanne: 

Hoërskool Alberton t. Hoërskool Eldoraigne om 12:20 in Alberton

Alberton: 15 Ayanda Madekane, 14 Nathen Reicherdt, 13 Sipho Sibanyoni, 12 Ewan Muller, 11 Carlos Madjiet, 10 Dewald de Jager, 9 Thando Baloi, 8 Jay-Cee Nienaber, 7 Luke Joubert, 6 Amogelang Tokwe, 5 Herman du Preez, 4 Kay C Nel, 3 Marre, 2 Xander Schoeman, 1 Levi Louw.

Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Hendru van Zyl, 13 Ivan Vermeulen 12 Ian Bosch, 11 Tristan lee, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Jaydon Niehaus, 7 SW Liebenberg, 6 Rikus Rheeder, 5 Zander Engels, 4 MC Scheepers, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.