Die nuwe struktuur in vanjaar se Bowl-afdeling van die nuutvernoemde Virseker Noordvaal Cup gee aan drie nuwelinge die geleentheid om hul staal op ’n hoër vlak te toets.
Een van dié nuwelinge, Midstream College, sal Saterdag reeds behoorlik getoets word wanneer die Wes-streek van die Bowl-afdeling in Potchefstroom afskop.
Die ander streek, genaamd die Oos-streek, skop Saterdag, 9 Mei, af.
Die span van Midrand sal na die studentedorp reis om teen 2025 se naaswenner, Potchefstroom Gimnasium, in sy agterplaas swaarde te kruis.
Boonop was die Gimmies in 2024 dié afdeling se kampioen voordat hy ’n jaar later deur sy ou vyand, Potchefstroom Volkskool, onttroon is. Die tuisspan het hoeka ’n groot kontingent spelers wat van dié span oorgebly het.
De Wet Grobbelaar, wat vanjaar die span aanvoer, is waarskynlik een van die grootste bedreigings vir die besoekers. Grobbelaar was reeds as Graad 11 ’n uitblinker en klop vanjaar hard aan die Luiperds se Cravenweek-deur. Hy draf Saterdag op agtsteman uit.
Sy losskakel, Zandré Da Silva, is ook vir ’n tweede jaar terug op sy pos. Da Silva se eerste jaar op eerstespanvlak het reeds sy kalmte en goeie visie gewys, iets waarop die Gimmies vanjaar sal staatmaak in hul soeke om die Bowl-titel weer in hul kas te kry.
Vir Midstream sal ‘n sege oor een van die vroeë gunstelinge goud werd wees. Hy was oor die laaste paar jaar ’n konstante krag in dieselfde kompetisie se Afdeling 2. Daarom ook die rede dat hulle vanjaar die Bowl sal trotseer.
Die besoekers se pak, en spesifiek die lostrio, onder leiding van agtsteman Henke Griffoen sal na die volgende rat wil en móét oorskakel indien hulle Grobbelaar en kie wil neutraliseer. Agterlangs sal heelagter Ryan Strauss, ook die kaptein van Midstream se eerste krieketspan, fyn dopgehou moet word wanneer hy sy teenaanvalle loods.
Die spanne is:
Potchefstroom Gimnasium t. Midstream College om 12:30 op die Piet Malan-veld op Potchefstroom:
Potchefstroom Gimnasium: 15 Josh Pretorius, 14 MJ Potgieter, 13 Durand du Plooy, 12 Daniel Marais, 11 Rea Moalosi, 10 Zandré da Silva, 9 Brendon Kellerman, 8 De Wet Grobbelaar, 7 Damien Zwahlen, 6 Zach de Jager, 5 Joubert Niemann, 4 Ignu du Toit, 3 Nic Dreyer, 2 Hardu Wolmerans, 1 Rynel Rautenbach.
Midstream College: 15 Ryan Strauss, 14 Rikus Cilliers, 13 Ruan Bester, 12 Liam van Rooyen, 11 Estiaan Scheepers, 10 Dian de Villiers, 9 Paul Loubser, 8 Henke Griffoen, 7 Barto Oosthuizen, 6 Reuben Blom, 5 Martin van Rooyen, 4 Tristan van Heerden, 3 Robin Stassen, 2 Tehan Maré, 1 JH van Aswegen
Franco is a sports fanatic from Tzaneen, a small town in Limpopo. Obsessed with both cricket and rugby, he still does the sport at club level when given the chance. Combining the rush of sports with his other passion, writing, gives him the fix any sport-crazy fan needs. In his spare time, he spends quality time with family and friends, preferably around a braaivleis fire.