Menlopark behou status in Beker-afdeling danksy Noordvaal-besluit om Groep 1 te vergroot
Geen skole in Groep 1 van die SDC Noordvaal Cup sal vir 2024 gerelegeer word nie.
Dit beteken dat die Hoërskool Menlopark met sy velle nog op die draad sy status as ‘n Beker-afdeling skool behou het. Die Parkies het alles in die stryd gewerp om in die boonste afdeling van die kompetisie te bly en self prokureursbriewe aan die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) gestuur.
Die NVSRV het wel besluit om Groep 1 vir 2024 te vergroot, wat op die ou einde Menlopark asook ‘n heel paar ander skole se bas gered het. Daar sal wel aan die einde van die 2024-seisoen relegasies plaasvind.
“Daar was al vroeër vanjaar begin werk aan verskeie nuwe modelle vir die reeks. Ons het met die onderskeie rolspelers in Groep 1 vergader en daar is op die vergroting die boonste been besluit,” het Dr. Jorrie Jordaan, voorsitter van die NVSRV, gesê.
Die Beker-afdeling sal voortaan uit tien spanne bestaan met die Hoërskool Rustenburg wat uit die Plaat-afdeling vir 2024 gepromoveer is.
Die Plaat-, Skild- en Bowl-afdeling sal voortaan uit nege skole bestaan wat sal beteken dat elke span vier weg- en vier tuiswedstryde in die reeks sal speel.
Ligbron Akademie van Ermelo en Oos-Moot is die nuwelinge in die Plaat-afdeling vir 2024, terwyl HTS Middelburg se Rooi Bulle die relegasie vrygespring het. Die Rooi Bulle se behoud het waarskynlik ook die jaarlikse interskole tussen hulle en die Hoërskool Middelburg lewend gehou. Die interskole is sonder twyfel die grootste in die Puma-streek.
In die Skild-afdeling sal Die Anker van Brakpan en Wesvalia die nuwe gesigte wees, terwyl Lichtenburg sy plek danksy die besluit deur die bestuur behou het.
In die Bowl-afdeling maak Piet Retief, Potchefstroom Gimnasium en Wagpos van Rustenburg hul toetrede tot Groep 1. Dr. Malan van Meyerton word nog ‘n kans gegun deur nie na Groep 2 gerelegeer te word nie.
Die indelings vir Groep 1 in 2024:
# | Beker | Plaat | Skild | Bowl |
---|---|---|---|---|
1 | Garsfontein | Kempton Park | Die Anker | Potchefstroom Gimnasium |
2 | EG Jansen | Transvalia | Ben Vorster | Potchefstroom Volkskool |
3 | Helpmekaar | Hoërskool Middelburg | Hugenote (Springs) | Merensky |
4 | Waterkloof | Montana | Heidelberg Volkskool | Eldoraigne |
5 | Monument | Zwartkop | Jeugland | Hoërskool Alberton |
6 | Noordheuwel | Hoërskool Klerksdorp | Lichtenburg | Dr. Malan |
7 | Hoërskool Nelspruit | HTS Middelburg | Wesvalia | Piet Retief |
8 | Marais Viljoen | Ligbron Akademie | Hoërskool Pietersburg | Wagpos |
9 | Hoërskool Rustenburg | Oos-Moot | Secunda | Bergsig |
10 | Menlopark |