SuperSport Schools Plus

Louw vier 100ste met Oranje se vierde agtereenvolgende Vrystaat-titel

By Charne van der Merwe , in Netball | Featured Netball | News , at 2024-05-27 Tags: , , , ,

FOTO: Hannes Nienaber

Dit het as geen verrassing gekom toe die eerste netbalspan van Meisieskool Oranje in Bloemfontein nogmaals met die Vrystaatbeker-titel weggestap het nie.

Met hul oorwinning van 29-19 oor Hoërskool Jim Fouché in die afgelope naweek se eindstryd, het Oranje vir ‘n vierde agtereenvolgende jaar die titel ingepalm, wat hul oorheersing in die kompetisie opnuut bevestig het.

Een van Oranje se sterspelers, Marianne Louw, het boonop ook in haar 100ste wedstryd vir Oranje gespeel.

Oranje se algehele oorheersing is verder beklemtoon met hul o.15-netbalspan wat ook as Vrystaat-kampioen gekroon is.

In ‘n opwindende halfeindstryd teen Voortrekker moes Oranje se eerste span nietemin hard werk om uiteindelik met slegs vier doele te seëvier. In die finaal teen Jim Fouché het Oranje egter hul stempel deeglik afgedruk om welverdiend met ‘n marge van 10 doele as kampioen uit die stryd te tree.

Oranje het regdeur die toernooi merkwaardige bekwaamheid tentoongestel, deur vir spanne soos Teto en Witteberg met meer as 20 doele te verslaan, terwyl hulle selfs groter marges teen Wilgerivier (35-5) en Landboudal (39-5) behaal het.

Hoërskool Jim Fouché het tweede geëindig, gevolg deur Hoërskool Witteberg in die derde plek en Hoërskool Voortrekker vierde .

Die top-twee spanne van die Vrystaat sal eersdaags in Roodepoort aan die nasionale DStv Schools Netball Challenge deelneem. Dié gesogte toernooi word van 11 tot 13 Julie by Hoërskool Florida aangebied.

Die o.14’s, o.16’s en o.17’s speel eers die komende naweek.

Al die uitslae: 

Groep 1: Oranje 27, Teto 5; Oranje 35, Wilgerivier 5; Oranje 39, Landboudal 5; Oranje 30, Witteberg 8; Witteberg 24, Wilgerivier 21; Witteberg 22, Landboudal 16; Witteberg 20, Teto 15; Teto 18, Landboudal 13; Wilgerivier 27, Landboudal 7.

Groep 2: Voortrekker 42, Hoërskool Trio 16; Voortrekker 21, Sentraal 13; Jim Fouché 32, Voortrekker 25; Voortrekker 29, Welkom Gimnasium 15; Jim Fouché 22, Sentraal 20; Sentraal 24, Welkom Gimnasium 7; Sentraal 36, Hoërskool Trio 19; Jim Fouché 14, Welkom Gimnasium 13; Jim Fouché 16, Hoërskool Trio 11; Hoërskool Trio 20, Welkom Gimnasium 15.

Uitspeelwedstryde

Halfeindstryde: Jim Fouché 46, Witteberg 16; Oranje 24, Voortrekker 20.

3/4: Witteberg 29, Voortrekker 28.

Eindstryd: Oranje 29, Jim Fouché 19.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.