SuperSport Schools Plus

Klofies wys Kempies waar Dawid die wortels begrawe het

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-03-14 Tags: , ,

NewsG Waterkloof rugbyHoërskool Waterkloof het hul seisoen met mening afgeskop deur Hoërskool Kempton Park met 63-21 af te ransel.

Die Klofies het nie minder nie as nege drieë ingeryg, met haker, Ruan Jacobs, wat die toon aangegee het met ‘n kragtige tweekuns. Jacobs was boonop ook ‘n doring in sowel die vaste los as op die verdediging.

Die span van Pretoria het voorlangs sake absoluut oorheers.

In die vaste fasette het hulle na ‘n span gelyk wat vanjaar reeds ‘n hele paar kragmetings agter die blad gehad het. Die slotte, Stephan de Beer en Divan Smith, is ook elkeen met ‘n vyfpunter beloon vir hul geswoeg voor waar dit saak maak.

Agterlangs het Waterkloof se Cravenweek-senter, Happy Makate, oudergewoonte beïndruk. Makate het deurgaans gevaar voorspel vir Kempies in die middelveld, en het ook ‘n draai agter die doellyn gaan maak.

Heelagter, Ronan Bastiaanse, was kort op Makate se hakke, met ‘n drie van sy eie, en het ook ál nege sy span se drieë verdoel om sy totale bydrae vir die wedstryd na 23 punte op te jaag.

Die tuisspan se Preston Smith het, soos verwag, besielende spel op agtsteman gelewer. Smith het deurgebars vir een van sy span se drie drieë, en was die vernaamste uitblinker onder Kempton se voorspelers met sy hardnekkige pogings om die Klofie-oormag te probeer stuit.

Binnesenter, Tiaan Delport, het hom ook netjies van sy taak gewyt, en was verantwoordelik vir 16 van sy span se 21 punte – wat twee uitstekende drieë en drie suksesvolle doelskoppe ingesluit het.

Puntemakers:

Waterkloof 63 (33) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Stephan de Beer, Divan Smith, Ruben Cox, Happy Makate, Ronan Bastiaanse, Lendré Janse van Vuuren, Malcom George. Doelskoppe: Batiaanse (9). Kempton Park 21 (14) – Drieë: Tiaan Delport (2), Preston Smith. Doelskoppe: Delport (3).

Ander spanne:

o. 16: Kempton Park 32, Waterkloof 14.

o. 15: Waterkloof 20, Kempton Park 17.

o. 14: Kempton Park 26, Waterkloof 8.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.