Klofies wil sien hóé groot die “kloof” is

Hoërskool Waterkloof sien uit daarna om hul strukture op die proef te stel wanneer hulle hul seisoen om 16:30 teen Hoërskool Kempton Park in die NWU Sport-reeks, in Kempton Park afskop.
Klofies sal vanuit die staanspoor op alle silinders wil vuur, met ‘n goeie oorwinning vroeg in die seisoen, en boonop weg van die huis af, wat ‘n duidelike boodskap aan hul teenstanders, in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, sal rig.
Die span van Pretoria is egter nog nie op volsterkte nie, met ‘n paar beserings wat nog knaag.
Franco Cronje, die Klofies se staatmaker op losskakel verlede seisoen, is nog onder waarneming weens ‘n rugbesering wat hy tydens die krieketseisoen opgedoen het. Die moontlikheid bestaan egter dat die ervare Cronje vanaf die plaasvervangerbank tóg sy verskyning kan maak.
Die Klofies spog nietemin met hul senterpaar, bestaande uit Happy Makate en Riwan van Aswegen, wat ‘n uiters gedugte kombinasie in die middeveld vorm. Makate beskik reeds oor Cravenweek-ervaring, waar hy verlede op heelagter uigedraf het, terwyl Van Aswegen ook deel uitgemaak het van die Klofie-span wat verlede jaar met 26-19 vir Hoërskool Monument kon troef.
Die Kempies lek waarskynlik steeds hul wonde na verlede naweek se hewige nederlaag van 7-73 teen Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg . Dit behoort nietemin vir die span van Kempton Park as broodnodige motivering te dien om ‘n punt teen die Klofies te probeer bewys.
Hul hardwerkende agtsteman, Preston Smith, behoort voorlangs nie te skroom om Klofies aan te vat nie. Kempies se pak het swaar getrek teen die bulle van Boksburg en Clint van Niekerk, en die res van sy afrigtingspan, sal hoop dat Smith en kie hierdie slag heelwat meer woema aan die dag lê.
Marko Opperman, Kempton se losskakel, moet ook sy skopskoene inpak, aangesien stelskoppe deurslaggewend kan wees indien sy span enige kans wil staan om die kloof teen Waterkloof te probeer oorbrug.
Die spanne:
Hoërskool Kemptonpark: 15 Joshua Meyer, 14 Wian Rieckert, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Vaughn Fouche, 10 Marko Opperman, 9 Ryan Smith, 8 Preston Smith, 7 JP Barnard, 6 Armandt Botha, 5 Luann Schreuder, 4 JP Roos, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligane. 1 Aiden Nepgen.
Hoërskool Waterkloof: 15 Ronan Batiaanse, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Danre Tustin, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Codi Binneman, 7 Alrich Uys, 6 Ruben Cox, 5 Divan Smith, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.