SuperSport Schools Plus

Jacobs sorg vir Jansen-jolyt teen Kempies

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-09 Tags: , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Hoërskool Dr. EG Jansen het ‘n asemrowende 13 keer agter Hoërskool Kempton Park se doellyn gaan kuier, om met die afskop van die nuwe seisoen hul stempel af te druk met ‘n wegholsege van 85-3.

Kyk weer na al die wedstryde van die NWU Sport-reeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

In so ‘n eensydige kragmeting is dit altyd moeilik om slegs ‘n paar spelers uit te sonder.

Die linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, en plaasvervanger-heelagter, Deshaan Pietersen, was egter voor in die koor met twee drieë elk, terwyl bykans elkeen van EG Jansen se agterspelers minstens een keer gedruk het.

Dit was egter die vaart en voetwerk van die buitesenter, Juandré Jacobs, wat aan die wenspan die oorhand agterlangs besorg het. Dit was deurgans asof Kempies agterlangs nog ‘n verdediger of drie benodig het om Jacobs hok te kan slaan.

Pietersen het na slegs ongeveer 13 sekondes na sy verskyning sy eerste drie gaan druk. Hy het kort daarna vanaf die afskop vir sy tweede drie deurgedraf.

Matthew Bergman, die span van Boksburg se losskakel, het 17 punte bygedra deur ses van sy span se drieë te verdoel, en het self ook die doellyn oorgesteek.

Die Jansies se kaptein en vaskopstut, Duwan Potgieter, asook die flanke, Divan Francis en Zaide-Lee Rippenaar, het voorlangs ook sake beheer.

Die res van die NWU Sportreeks-kragmetings het egter vir naelbytstryde gesorg.

Hoërskool Menlopark moes  spook vir ‘n sege van 25-19 oor Hoërskool Eldoraigne in Centurion. Menlopark het op die nippertjie daarin geslaag om die knoop deur te hak, toe Divan Nel, Menlo se heelagter, in die doodsnikke deurgebreek het vir die wendrie.

Menlopark het uitstekend teruggeveg om 17 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aan te teken, nadat Eldoraigne die eerste helfde oorheers het om teen rustyd met 19-8 voor te loop. Benewens Rudolph, het Menlo se blitsvinnige Blanden Pieterse en Reinardt Herbst, sowel as, voorlangs, JN van Wyk, ook vir hulle drieë gedruk.

Eldoraigne se JP Meyer het uitgestaan in die nr. 10-trui. Hy het die veld volgespeel en het, veral in die eerste helfte, die Menlo-verdedigers lelik laat rond tas. Hy het een van sy span se twee drieë aangeteken en drie strafdoele bygevoeg. Die spoedvraat aan sy buitekant, Hendru van Zyl, het ‘n netjiese agterlynbeweging met ‘n vyfpunter afgerond.

Dissipline het die tuisspan egter gepootjie en was moontlik die rede hoekom hulle geen punte in die tweede helfte kon behaal nie.

HTS Middelburg het Hoërskool Transvalia se harte met ‘n strafdoel in die doodsnikke gebreek, om met 20-19 as oorwinnaars uit die stryd te tree. Dit was heel gepas heelagter, Jaque Stassen, wat 20 van sy span se punte aangeteken het, wat met die wenskop geslaag het.

Die kaptein en oopkantflank, Toy Engelbrecht, het ook ‘n reuse aandeel in sy span se sege gehad. Hy was die veld vol en is met ‘n drie, na ‘n uitstekende lopie, vir sy harde werk beloon.

Hoërskool Transvalia hoef egter geensins hul koppe in skaamte te laat sak nie, Die span van Vanderbijlpark het ‘n waardige vertoning opgedis, met die steelkantflank, Daniel Kazumbu, wat voorlangs die kollig gesteel het. Kazumbu het sy lyf op die spel geplaas, en was uitmuntend op sowel die aanval as verdeging.

Agterlangs het Siyabonga Khambul sy uitstappie op buitesenter geniet. Khambula se aanvalslyne het dikwels die Middelburg-verdediging oorhoops gelaat en hy is ook met ‘n drie beloon.

Hoërskool Nelspruit het ook ‘n puik terugvegpoging gelewer om ‘n 10-punt agterstand teen rustyd uit te wis en uiteindelik ‘n indrukwekkende 32-26 oorwinning oor Hoërskool Middelburg in Middelburg te behaal.

Haker, Regard Vermaak, het die besoekers se aanslag gelei, en het, na volgehoue druk, daarin geslaag om twee keer oor die die doellyn te bars. Agtsteman, Vaughn van Zyl, het vir die tweede week in ‘n ry ook uitgeblink.

Vir die tuisspan het vaskopstut, Wandisa Mthombeni, hand opgesteek het. Mthombeni het gewoeker in die vaste los en het kort voor rustyd oorgebars vir ‘n drie om sy span in ‘n stewige posisie te plaas. Sy kollega op slot, Rogan van der Walt, was ewe dinamies.

Matthew Abbey was oudergewoondte uitstekend vanaf die skopkegel en het met elke poging pale toe geslaag, om 16 van sy span se 26 punte by te dra het. Dit was egter, en ongelukkig vir die Middies, nie genoeg nie, en ‘n flater op verdediging het beteken dat hulle uiteindelik die knie moes buig teen die Laevelders.

Puntemakers: 

EG Jansen 85 (33) – Drieë: Keanu van Loggerenberg (2), Deshaan Pieterson (2), Riekus van der Merwe, Juandré Jacobs, Zaide-Lee Rippenaar, Matthew Bergman, R-Jay Petersen, Jean-dré Claassen, Zandré Naude, Duwan Potgieter, Markus Delport. Doelskoppe: Bergman (5), Delport (3), Petersen, Van der Merwe. Kempton Park 3 (3) – Strafdoel: Marko Opperman.

Menlopark 25 (8) – Drieë: Bladen Pieterse, JN van Wyk, Reinardt Herbst, Ruben Rudolph. Doelskop: Phillipus de Bruin. Strafdoel: Logan Botha. Eldoraigne 19 (19) – Drieë: JP Meyer, Hendru van Zyl. Strafdoele: Meyer (3).

HTS Middelburg 20 (10) – Drieë: Kagiso Gumbi, Toy Engelbrecht. Doelskoppe: Jacque Stassen (2). Strafdoele: Stassen (2). Transvalia 19 (14) – Drieë: Daniel Kazumbu, Siyabonga Khambula, Juan Bishoff. Doelskoppe: Dylan Steynman (2).

Hoërskool Nelspruit 32 (6) – Drieë: Regard Vermaak (2), Vaughn van Zyl, André Smith. Doelskoppe: Theuns Meyer (2), Christiaan van Deventer. Strafdoele: Divan de Kock (2). Hoërskool Middelburg 26 (16) – Drieë: Rogan van der Walt, Wandisa Mthombeni. Doelskoppe: Matthew Abbey (2). Strafdoele: Abbey (4).

Ander spanne:

o.16: Kempton Park 18, EG Jansen 0; Menlopark 48, Eldoraigne 14; Nelspruit 7, Middelburg 5; Transvalia 12, HTS Middelburg 12.

o.15: EG Jansen 29, Kempton Park 10; Menlopark 57, Eldoraigne 0; Middelburg 23, Nelspruit 6; Transvalia 24, HTS Middelburg 14.

o.14: Kempton Park 26, EG Jansen 17; Menlopark 24, Eldoraigne 5; Middelburg 17, Nelspruit 7; Transvalia 16, HTS Middelburg 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.