SuperSport Schools Plus

Trekkers en Henties wen groot in Griffon-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2011-05-22

VOORTREKKER en Hentie Cilliers is ongetwyfeld die vroeë gunstelinge om as kampioen van die Griffon-liga gekroon te word. Die twee spanne is die enigste twee onoorwonne spanne in die liga en het Saterdag albei oortuigende seges behaal.
Die Trekkers het Riebeeckstad 71-0 verwoes. Die span van Bethlehem was reeds rustyd 37-0 stewig in die saal. Die span se flank Ruan Janse van Rensburg, senter Christo Wessels em Meyer Maré het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier. Trekkers het 13 drieë in die sege ingeryg.
Hentie Cilliers het HTS Welkom 36-0 uit die pad gevee. Die Tekkies het al ‘n hele paar spanne opdraende gegee wat die oorwinning merkwaardig maak. Vir Henties het sy slot, HJ le Roux weer in die lynstane die teenstanders probleme besorg. Die twee stutte Gustav Potgieter en Jean Volkwyn het ook vir die wenspan uitgeblink.
Gerard Kroese van Witteberg het 25 punte in sy span se oorwinning van 40-32 oor Hoërskool Kroonstad aangeteken. Die span van Bethlehem het sodoende sy aanslag op ‘n plek in die halfeindstryd van die Griffon-liga ‘n stewige hupstoot gegee. Kroese het ‘n drie gedruk al vier sy span se drieë verdoel en ook vier strafdoele oorgeklits. Vir Blouskool het die heelagter Pieter Zietsman en flank Brian Meyer uitgeblink.
Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad moes hard werk om 12-8 teen Goudveld baas te wees. Gouties was lemoentyd 3-0 voor. Albei spanne het onnodige foute began. Vir Rooiskool het sy flank, Ignus Gresse weer by die afbreekpunte botoon gevoer. Die binnesenter van die wenspan, Danie van Zyl het uitgestaan op die verdediging sowel as die aanval. Vir Gouties was sy twee flanke Jonathan de Jager en Robert Randal puik. 
Puntemakers:
Voortrekker 71 (37) –
Drieë: Ruan Janse van Rensburg (2), Meyer Maré (2), Christo Wessels (2), Schalk Erasmus, Henro Liebenberg, Crause Becker, Johan van Heerden, Donovan Lourens, JC Moolman, Cardo Meiring. Doelskoppe: Janse van Rensburg, Moolman, Meiring. Riebeeckstad 0
Hentie Cilliers 36 (17) – Drieë: Renaldo Abrahams (2), Siya November, Kirsten Heyns, Brandon October, Athnol Kleinbooi. Doelskoppe: Luzune Williams (2), Riaan Pretorius. HTS Welkom 0.
AHS Kroonstad 12 (0) – Drieë: JW Bruwer, JP Nel. Doelskop: Stefan Schoeman. Goudveld 8 (3) – Drie: Billy Liebenberg. Strafdoel: Kallie Erasmus.
Witteberg 40 – Drieë: Jaco Potgieter (2), Gerard Kroese, Johan Joubert. Doelskoppe: Kroese 4. Strafdoele: 4. Hoërskool Kroonstad 32 – Drieë: Pieter Zietsman, Niel Oosthuizen, Charles Westley, Brian Meyer. Doelskoppe: Jaco Enslin (3). Strafdoele: Enslin (2). 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.