Gimmies steeds Prinse van Potch
POTCHEFSTROOM – Potchefstroom Volkskool sal nóg ‘n jaar moet wag om hul tradisionele vyande, Potchefstroom Gimnasium, as die Prinse van Potchefstroom te probeer onttroon.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Gimmies het weereens hul baasskap bewys in die jaarlikse FNB Classic Clashes-kragmeting deur op ‘n drafstap met 30-13 te wen. Vanjaar se derby het ook deel uitgemaak van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling.
Ten spyte van die taamlike groot wenmarge was dit nietemin ‘n opwindende kragmeting op die Volkies se tuisveld. Albei spanne het gevaarlik voorgekom op die aanval, met die besoekers wat op die einde van die dag eenvoudig beter afgerond het om uiteindelik met 17 punte te seëvier.
Die voorspelers het mekaar vir die volle 70 minute voos geduik. Volkies het uitstekend gevaar om die besoekers se agsteman, Elrich Bosch, en haker, Jaco Nel, aan bande te lê, maar het nie ‘n antwoord gehad vir Gimmies se Cravenweek-sneller, David Ndlala, se vermoë om die kleinste van gapings uit te buit nie.
Heelagter, PC Schutte, het ook deurentyd hoofbrekens vir die Volkies besorg wanneer hy by die agterlyn aansluiting gevind het, en hy en Ndala het elk ‘n tweekuns behaal.
Die tuisspan het self ‘n pragtige drie, vanuit hul eie halfgebied, gedruk, deur regtervleuel, Wickus van Aswegen, maar kon ‘n hele aantal ander geleenthede nie afrond nie en dit het tot hul ondergang gelei.
In Brits het Merensky Landbou Akademie hul greep op sake in die Bowl-afdeling verstewig. Die Ligbloues van Tzaneen het ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning behaal, danksy hul dominerende pak, deur vir Hoërskool Wagpos met 48-18 te verslaan.
Die Plasies se Cravenweek-agtsteman, Hardus Terblanche, het van voor gelei en het, na ‘n ietwat stil seisoen tot dusver, Saterdag sy stempel behoorlik afgedruk om die dag af te sluit met twee drieë agter sy naam.
Hoërskool Piet Retief het vir die eerste keer in die nuwe afdeling hul rieme styf geloop, toe Hoërskool Randburg vir hulle met 23-18 ore aangesit het. Die span van Randburg is mooi op dreef en spog met hul tweede sege in die drie wedstryde wat hulle reeds gespeel het.
Puntemakers:
Potchefstroom Gimnasium 30 (10) – Drieë: PC Schutte (2), David Ndlala (2), Dian Smith. Doelskop: Jhanco de Beer. Strafdoel: De Beer. Potchefstroom Volkskool 13 (6) – Drie: Wikus van Aswegen. Doelskop: Juandre Maree. Strafdoel: Maree.
Merensky 48 (17) – Drieë: Hardus Terblanche (2), Carl Volschenk, JD Boshoff, Heinrich Lubbe, Maritz Meintjies, Leon de Lange, Byron Hendicks. Doelskoppe: Hendricks (5). Strafdoel: Hendricks. Wagpos 18 (15).
Randburg 23 (13) – Drieë: Duncan Beaven, Josh Wigget, Shandre Vermaak. Doelskop: Hendri Oosthuizen. Strafdoele: Oosthuizen (2). Piet Retief 18 (13) – Drieë: Vuyani Tshabalala, Owethu Shabalala. Doelskoppe: Shabalala. Strafdoele: Shabalala (2).
Ander spanne:
o.16: Potchefstroom Gimnasium 14, Potchefstroom Volkskool 9; Wagpos 26, Merensky 24; Randburg 38, Piet Retief 29.
o.15: Potchefstroom Volkskool 18, Potchefstroom Gimnasium 3; Mernesky 17, Wagpos 10; Piet Retief 36, Randburg 7.
o.14: Potchefstroom Gimasium 12, Potchefstroom Volkskool 10; Merensky 19, Wagpos 15; Randburg 21, Piet Retief 21.