Geen Menlo-vere te pluk nie
Hoërskool Menlopark het 48 redes verskaf hoekom hulle nie vanjaar voortydig afgeskryf behoort te word nie.
Die Parkies het Dinsdag vir Hoërskool Oos-Moot gemaklik met ‘n telling van 48-7, in die NWU Sport-reeks, afgestof.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.
Menlopark het vroeg in die kragmeting dit duidelik gemaak dat hulle vanjaar hul stempel behoorlik wil afdruk.
Skrumskakel, Phillipus de Bruin, het kort na die afskop reeds ‘n blaps onder die besoekers se voorspelers uitgebuit om agter die Oosies se doellyn te gaan kuier. De Bruin was ook uitstekend vanaf die skopkegel om 21 punte tot sy span se totaal by te dra.
Voorlangs het slot, Keagan Pretorius, en vaskopstut, Phillip du Plessis, die pap dik aangemaak. Pretorius het twee drieë gedruk, wat altwee die resultaat was van kragtige dryfmaalbewegings deur die pak, terwyl Du Plessis soos ‘n wafferse losvoorspeler die veld volgespeel het. Die oorhand wat Parkies voorlangs geniet het, sou hul breiers breed laat glimlag het.
In teenstelling daarmee, was dit duidelik dat dit die Oosies se eerste wedstryd van die seisoen was. Ongedwonge flaters en powere lynstaanwerk het die span van die Moot deurgaans in die steek gelaat. Die enigste ligstraal was die dinamiese spel van agsteman, Deon Badenhorst, wat met sy span se enigste drie beloon is vir sy onvermoeide pogings.
Tuis in Boksburg, het Hoërskool Dr EG Jansen onkeerbaar gelyk in hul wegholsege van 41-0 oor Hoërskool Transvalia.
Die oopkantflank, Zade-Leigh Rippenaar, het sy indrukwekkende vertoning teen Hoërskool Kemptonpark opgevolg met selfs ‘n beter een teen Transvalia. Hy het gewoel in die vaste los, maar verál die oog gevang met ‘n paar blitsige lopies in die middeveld af.
Loskopstut, Zian Marias, was ook ‘n doring met sy rotsvaste verdediging. Hy het keer op keer homself, met enorme duikslae, aan die span van Transvalia bekendgestel.
Christiaan Liebenberg (slot), het vir die span van Vanderbijlpark uitgestaan. Hy was die ene toewyding en het daarin geslaag om ‘n keer of wat sy span, met begeesterde lopies, oor die voordeellyn te kry.
Puntemakers:
Hoërskool Menlopark 48 (21) – Drieë: Keagan (2), Phillipus de Bruin, Nathan du Plessis, Divan Nel, Xander Roets. Doelskoppe: Phillipus de Bruin (5), Andru Kuhn.Strafdoele: De Bruin (2). Hoërskool Oos-Moot 7 (0) – Drie: Deon Badenhorst. Doelskop: Ruwan Allen.
Hoërskool Dr EG Jansen 41 (24) – Drieë: Zade-Leigh Rippenaar, Jeandre Jacobs, Tow Bergman, Matthew Bergman, Danre Pike, Zian Marais, Craig Lightfoot. Doelskoppe: Matthew Bergman (3). Hoërskool Transvalia 0 (0).
Ander spanne:
o. 16: Hoërskool Menlopark 64, Oos-Moot 6; Hoërskool Transvalia 23, EG Jansen 19.
o. 15: Hoërskool Oos-Moot 20, Hoërskool Menlopark 19; EG Jansen 22, Hoërskool Transvalia 7.
o. 14: Hoërskool Menlopark 22, Hoërskool Oos-Moot 20; Hoërskool Transvalia 10, EG Jansen 7.