Garsies behaal belangrike sege oor Paarl Gim
PRETORIA. – Indien dit nie vir die feit is dat die Hoërskool Garsfontein verlede jaar vir die eerste keer in die geskiedenis as kampioen van die Beeld Noordvaal Trofee vir Makroskole gekroon is nie, sou sy oorwinning Dinsdag oor Paarl Gimnasium sonder twyfel sy grootste rugbyprestasie nog gewees het.
Garsies het Paarl Gimnasium in die laaste dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi met 15-13 geklop. Dit was reeds met die opdraf van albei spanne duidelik in die atmosfeer op Berepark dat dit dié kragmeting van die toernooi sou wees.
Op die ou einde was dit ’n stukkie Papier-magic wat vir die aanvoorwerk vir die wendrie deur die vleuel Shaun Williams gesorg het. Die span se heelagter, Abner van Reenen, het reg onder die pale ook die bal aangeslaan na hy uitstekend deur Gimmies se verdediging gevleg het.
Paarl Gimnasium se agttal het sake voorlangs oorheers. Hy het in die skrums die oorhand gehad, maar dit is die span se lynstaanspel wat die meeste beïndruk het. Die haker, Bernardt Swart, en sy twee slotte, Adriaan Ludick en Raymond Nel, verdien die meeste van die lof in die afdeling.
Die Turkoois Bere se agtsteman, Luke Fortuin, en die haker, Bees Ferreira, was vir hul span se vuur voorlangs verantwoordelik. Fortuin het sonder twyfel vir sy vertoning sy toekenning as speler van die wedstryd verdien. Ferreira het soos Fortuin feitlik elke keer oor die voordeellyn gestorm as hy in besit gestel is.
Die kantman Ryno Pieterse verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning in die vastelos. Gimmies se flank Janus Swart en die agtsteman, Muller Uys, was voorlangs aan die voorpunt vir hul span in die stryd in die vastelos.
Uys is as Speler van die Toernooi aangewys. Hy was verlede jaar saam met Ernst van Rhyn hul skool se slotpaar. Van Rhyn is ook verlede jaar as die Speler van die Toernooi aangewys. Hy het ook verlede jaar die Suid-Afrikaanse Skole-span aangevoer en het ook die toekenning as die Coca-Cola Cravenweek se Speler van die Toernooi ontvang.
Agterlangs het Gimmies se binnesenter, Wian van Niekerk, gewys dat hy nie net die bal myle ver op die krieketveld kan moker nie. Die heelagter, Wian van Zyl, het ook gewys dat in die laaste vesting dalk selfs nog ’n gevaarliker speler is, as wanneer hy die nommer-tien trui dra.
Puntemakers:
Garsfontein 15 (8) – Drieë: Hendré Eloff, Shaun Williams. Doelskop: Abner van Reenen. Strafdoel: Van Reenen. Paarl Gimnasium 13 (10) – Drie: Wian van Niekerk. Doelskop: Theo Boshoff. Strafdoele: Boshoff (2).




