Dubbele dosis déjà vu met Klofies, Parkies se herontmoeting in NWU-eindstryd

Sedert die nederlaag van 23-8 in die 2024-eindstryd van die NWU se Sportreeks, by Eldoraigne in Centurion, is Die Hoërskool Menlopark steeds op soek na sy eerste sege in bykans drie jaar oor die eerstespan van Hoërskool Waterkloof.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Sy derde kans vir ‘n hap van die kersiekoek kom Saterdag om 16:30 in die eindstryd van die einste NWU Sportreeks, op die hoofveld van die Hoërskool Kempton Park.
Dié twee spanne het mekaar intussen weer verskeie kere gepak, hetsy in die Noordvaalreeks of die NWU-reeks. Dit is ook waar die Parkies die naaste aan ‘n sege oor die Blou Tornado gekom het, nadat die twee topspanne van die reeks, oor die afgelope paar jaar, die NWU Sporttitel met ‘n gelykopuitslag (23-elk) in die eindstryd van 2025, gedeel het.
Dit maak van Waterkloof ‘n hekkie waaroor Menlopark graag sal wil kom. Boonop sal Klofies se hoofafrigter, Cobus van Dyk, sy droomweek wil voortsit na hy as voorspelerafrigter Maandagaand vir Tukkies gehelp het om die FNB Varsitybeker met ‘n sege van 31-3 oor die Pukke te beklink.
Indien die verloop van dié tween spanne se seisoen tot dusver enige aanduiding vir Saterdag is, beloof dit weer ‘n reuse-ontmoeting te wees. Die Klofies en Parkies het elk nog slegs een keer vasgeval.
Die Parkies se nederlaag het teen die gedugte span van Paarl Gimnasium (17-73) gekom. Waterkloof het teen sy ou aartsvyand, die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria, vasgeval (20-34).
Elkeen het nietemin hiervoor vergoed. Die Blou Tornado het vir Hoërskool Piet Retief dronk gehardloop met ‘n wegholsege van 90-14 voordat hy die Rhinos van Hoërskool Nelspruit verlede naweek, met 71-32, in die halfeindronde uit die pad gevee het.
Menlopark se grootste sege in vanjaar se reeks het ook verlede naweek gekom. Die streeptruie van Menlopark het vir Oos-Moot met 64-14 in die halfeindronde ‘n drag slae toegedien.
Klofies se sukses kan aan sy woelige pak toegedig word, terwyl ‘n giftige agterlyn van Menlopark gesorg het vir sý oorwinnings.
Die fokus val ook op die tweestryd in die middelveld tussen die buitesenters, Meyer Pretorius, wat onlangs sy terugkeer vanaf harsingskudding gemaak het, en die opwindende Danie Botma aan die kant van die Parkies. Botma is egter sedert die Noord/Suid-toernooi sonder sy sentermaat, Dylan Stumke, wat vir ‘n geruime tyd nog op die krukkelys sal wees.
Die Rhinos en Oos-Moot sal mekaar om 15:00 in die voorwedstryd pak, wat as uitspeelwedstryd vir die derde en vierde posisie dien.
Die span van Mbombela het sover gemengde welslae behaal. Indien hy egter soos in sy twee wedstryde by die Noord/Suid-toernooi kan vertoon, sal Oos-Moot ongetwyfeld sy hande vol hê. Die ervaring van kaptein en binnesenter, Rian Botha, saam met die vaardighede van agtsteman Vian Louw, sal ‘n groot rol in die Nellies se soeke na ‘n derde plek in die reeks speel.
Die manne van die Moot is ‘n gedugte span en hul rugbyprogram het van krag tot krag onder die leiding van Braam Pretorius gegroei. Pretorius sal ook die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek brei.
Die Rooi Bulle van HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg kon klaarblyklik nie tot 9 Mei wag nie. Middelburg sal om 12:00 Saterdagmiddag in rooi en groen verdeel word, hoewel die twee mekaar in Kempton Park vir die vyfde en sesde plek pak. Dit sal ‘n lekker bederf en ‘n voorsmaak vir die Middelburg-derby later vanjaar wees.
Middies moes verlede naweek met die Buffels van Hoërskool Ben Vorster sussie soen. Die twee spanne het gesamentlik vir 80 punte gesorg, met die wedstryd wat met 40-elk gelykop geëindig het. Middies het deurgedring nadat hy eerste en ook die meeste drieë in die wedstryd gedruk het.
Die Rooi Bulle het vir die Dokter van Boksburg, Hoërskool Dr EG Jansen, ore aangesit met ‘n sege van 46-31. Dit het egter teen ‘n prys gekom. Staatmaker-senter Jacques Greyling sal waarskynlik ‘n groot gedeelte van die seisoen misloop nadat hy sy milt in ‘n duikslag teen die Arende geskeur het.
Nietemin is die ontmoeting tussen rooi en groen selde ‘n teleurstelling en sal die vonke behoorlik spat in ‘n poging om die eerste hou vanjaar te land.
Die moontlike spanne is:
Waterkloof t. Menlopark om 16:30 in Kempton Park:
Waterkloof: 15 Alexander Griesel, 14 Mieder Erasmus, 13 Meyer Pretorius, 12 Ben Steyn, 11 Jacques Janse van Rensburg, 10 Liam Schutte, 9 Marcel Tsiakos, 8 Almero Gerritse, 7 Stefan Pieterse, 6 Hugo Dercksen, 5 Marius Venter, 4 Brayn Joubert, 3 Reinhard Duvenhage, 2 Stiaan Theron, 1 Wian Hetzel.
Menlopark: 15 Juan Joubert, 14 Lucian Reed, 13 Danie Botma, 12 Aidan Dicks, 11 Mendriano-Jody Abrahams, 10 Willie Pieterse, 9 Eben Botma, 8 Tiaan Boshoff, 7 Miller de Jager, 6 Duran Pieterse, 5 Dawid van den Heever, 4 Lyndon Fourie, 3 Reando Fourie, 2 Dian de Bruin, 1 Justin Toerien
Hoërskool Nelspruit t. Oos-Moot om 15:00 in Kempton Park:
Hoërskool Nelspruit: 15 Randzu Mkhabela, 14 Tye Habib, 13 Jendré Aucamp, 12 Rian Botha, 11 Hanré Smit, 10 Ewan van der Merwe, 9 Kamo Monkwe, 8 Vian Louw, 7 Christiaan de Klerk, 6 Aldo van Jaarsveld, 5 Christiaan Botha, 4 Dirk-Arnold Joubert, 3 Marcel Lindeque, 2 Obuhle Nyumba, 1 Christiaan Viljoen.
Oos-Moot: 15 Tyrese Adams, 14 Bradley Jacobs, 13 Jayden Meintjies, 12 Le Roux Smith, 11 LJ Vaughn, 10 Tesuis van der Merwe, 9 Stanley Watkins, 8 Riyaan Wilson, 7 Luhan Hay, 6 Pema Bramley, 5 Ulrich Gerber, 4 Calvin Jones, 3 Sinawo Stengana, 2 Thando Telelo, 1 Eben Koen.
HTS Middelburg vs Hoërskool Middelburg om 12:00 in Kempton Park:
HTS Middelburg: 15 Wynand Cronjé, 14 Fourie Joubert, 13 Danté Lubbe, 12 Nathan Janse van Vuuren, 11 Ruwan Graaf, 10 Ruhan Janse van Vuuren, 9 Ruan Pienaar, 8 Tiaan Bezuidenhout, 7 Andrea de Wet, 6 Reghardt Blake, 5 Ruben Kruger, 4 Max Venter, 3 Carlo Joubert, 2 Waldo Lourens, 1 Argu Kruger.
Hoërskool Middelburg: 15 Jano Wilson, 14 Lihle Nkadimeng, 13 Aiden van Heerden, 12 Blake Fader, 11 Kgotso Peta, 10 Kgontse Masilela, 9 Enio Manchica, 8 Menzi Siyaya, 7 Siya Mokgoatjana, 6 Johan Raulstone, 5 Khenzi Buthelezi, 4 Lihan de Vaal, 3 Dewald du Toit, 2 Ryan Blake, 1 Melchior van Niekerk.





