Christian aan spits van Louis Botha sege
Louis Botha se jaarlikse sportdag het aan sy Cravenweek-losskakel, Jeandré Christian, behoort. Hy het 35 punte in sy span se klinkende sege van 50-0 oor HTS Welkom opgestapel.
Christian het ‘n driekuns aan drieë behaal, vier van sy span se ses drieë verdoel en ook vier strafdoele tussen deur die pale gejaag. Die span van die Rosestad se binnesenter, Rallston Dreyer, het self ook twee keer deur gedraf. Louis Botha bied die sportdag al sedert 1983 aan.
Fichardtpark moes sweet om Wilgerivier van Frankfort in die vernaamste voorwedstryd met 14-7 te klop. Fichies se pak voorspelers het goed vertoon en veral met hulle dryfmaal-bewegings ver ente veld gewen. Die span se loskopstut, Wandre Nortjé, was sy span se beste speler. Hy het ook albei sy span se drieë gedruk. Die slot, Adriaan Grabe, en flank, Eckhardt Kuhn, kan ook maar vandag breëbors na hulle vertonings rondloop. Agterlangs was die senter, Myburgh van Zyl, soos gewoontlik ‘n staatmaker.
Wilgerivier se senter, GJ Janse van Rensburg, was uitmuntend op die verdediging. Hy het goed gedoen om Van Zyl en sy sentermaat, Luhan Zeelie, hok te slaan. Die span van Frankfort se heelagter, Stean Marais, het goed aansluiting by sy agterlyn gevind. Die flank, Clifford Davel, is maar klein, maar het nie ‘n tree voorlangs vir Fichies se agttal terug gestaan nie.
Sand du Plessis het met 22-17 oor President Steyn koning gekraai. Die Steyners se haker Melvin Marais, vaskopstut, Raymond Kruger en slot Janco Nel het voorlangs goeie spel gelewer. In die agterhoede het die senter Kobus van Tonder en en vleuel Ryno Nyce goed vertoon.
Hoërskool Kroonstad het vir Brandfort met 31-19 getroef. Blouskool se pak voorspelers het die grondslag vir die sege gelê, terwyl die agterlyn ook gevaarlik gelyk het wanneer hy aan die gang gekom het. Vir die verloorspan het sy stut Hanno Terblanche, slot Kamu Kgale en skrumskakel, Francois Fourie moedig probeer.
Ficksburg het vir Sehunelo met 29-17 in hulle kragmeting op dié sportdag uitoorlê. Vandré Rolls het twee keer vir Jim Fouché teen Goudveld agter die doellyn in sy oorwinning van 24-0 gaan kuier.
Hentie Cilliers het ‘n merkwaardige sege van 27-26 oor Maritzburg-kollege van Pietermaritzburg op sy tuisveld in Virginia behaal. Die span se skitterende losskakel, Domenic Smit, het die sege met ‘n skepdoel laat in die kragmeting beklink.
Noord-Kaap se Cameron Hufke was die ster in sy span se sege van 28-22 oor Marlow Landbou op laasgenoemde se tuisveld net buite Cradock. Die vleuel van Northerns het twee keer gaan druk en al vier sy span se drieë verdoel om ‘n seldsame sege oor die Wolramme in Cradock te beklink.
Die span se Cravenweek-agtsteman, Gerhard Holtzhausen, het die span van Kimberley se ander twee drieë afgerond.
Puntemakers:
Louis Botha 50 – Drieë: Jeandré Christian (3), Rallston Dreyer (2), Azakhiwe Afrika. Doelskoppe: Christian (4). Strafdoele: Christian (4). HTS Welkom 0.
Fichardtpark 14 (0) – Drieë: Wandre Nortjé (2). Doelskoppe: Pieter Snyman (2). Wilgerivier 7 (0) – Drie: Andries Burgers. Doelskop: Schalk Wilkinson.
Sand du Plessis 22. President Steyn 17 – Drieë: Kobus van Tonder (2), Ryno Nyce. Doelskop: Van Tonder.
Hoërskool Kroonstad 31 (19) – Drieë: Anton Steyn, Stian Wessels, Tinus van Schalkwyk, Henro de Vos, Stefan du Plessis. Doelskoppe: De Vos (2), Wessels. Brandfort 7 (0) – Drie: Hanno Terblanché. Doelskop: Henco de Wet.
Jim Fouché 24 – Drieë: Vandré Rolls (2), Victor Botes, Wian Meyer. Doelskoppe: Tiaan Schutte (2). Goudveld-Hoërskool 0.
Hentie Cilliers 27 – Drieë: Domenic Smit, Jovanian du Preez, Michael Kitching, Rico le Roux. Doelskoppe: Smit (2). Skepdoel: Smit. Maritzburg-kollege 26.
Noord-Kaap 28 – Drieë: Cameron Hufke (2), Gerhard Holtzhausen (2). Doelskoppe: Hufke (4). Marlow Landbou 22.
Waterkloof 48 (22) – Drieë: Chergin Fillies (3), Stedman Gans (3), Runan Venter, Eduard Pretorius. Doelskoppe: Quintin Bayards (4). Sentraal 5 (0) – Drie: Strafdrie.
Riebeeckstad 41 – Drieë: Solly Seeta (2), Morné Botha (2), Collin Cromhoudt (2), Mpho Matsepe. Doelskoppe: Cromhoudt (2), Wanga Shumi. Hoërskool Bloemfontein 7.
Theunissen 12 (5) – Drieë: Innocent Rakotsoane, Wian Jordaan. Doelskop: Rakotsoane. Winburg 5 (0).
Kalahari 15 – Drieë: Erlu Jonck (2), Kaylyn Griqua. HLNK Jan Kempdorp 9.
Reitz 36 – Drieë: Driaan Scheepers (2), JD Muller, Johan van der Westhuizen, Paul van Deventer, Adriaan Davel. Doelskoppe: Neil van der Merwe (3). Vanderbijlpark 0.




