Chillies sit segetog voort
Duineveld het opnuut gewys waarom hulle verlede jaar as die beste netbalspan in die Noord-Kaap aangewys was.
Die span, ook bekend as die Chillies, het met 13 doele teen Hoërskool Diamantveld geseëvier.
Die kragmeting het nietemin taamlik gelykop afgeskop in die eerste kwart, met die Chillies wat in daardie stadium met slegs 9-7 voorgeloop het. Die tweede en derde kwarte het steeds ‘n verbete stryd afgegee, met slegs ‘n verskil van vier punte (20-16) wat die spanne teen rustyd geskei het.
Die Chillies het egter in die derde kwart daarin geslaag om die gaping effens te vergroot deur nege doele teenoor die Diamonds se sewe aan te teken, en die telling op 29-23 te staan te bring.
In die laaste kwart het die Chillies heeltemal die oorhand verkry, om ‘n indrukwekkende totaal van 13 doele aan te teken vir ‘n welverdiende oorwinning van 42-29.
Die Brink-susters, Zandri en Zanelle, het uitgeblink vir die Chillies en deurentyd aansienlike druk op Diamonds se doele toegepas.