Brakkies het nie brieke nie

Die Hoërskool Brackenfell het hul onoorwonne rekord behou na die tweede dag van vanjaar se Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek, by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, om ‘n plek in Maandag se hoofwedstryd vas te maak.
Met ‘n losskakel wat oënskynlik nie ‘n voet kan verkeerd sit nie in Junior Louw, lyk die Brakkies oorgehaal vir ‘n groot seisoen in 2024.
Hulle het, in moeilike weersomstandighede op die tweede dag van die fees, Hoërskool Pietersburg se veldtog bemodder met ‘n hardverdiende sege van 10-6.
Die wedstryd het gesukkel om aan die gang te kom en in die eerste helfte was dit slegs Louw en Pietersburg se skrumskakel, Divan Brown, wat punte op die telbord kon plaas met ‘n strafdoel elk. Na die breuk het Brakkies se blitsige vleuel, Liam Lucas, egter ‘n deurbraak bewerkstellig met die enigste drie van die wedstryd.
Dié oorwinning beteken dat Brackenfell Maandag om 12:40 vir Hoërskool Charlie Hofmeyr, van Ceres, in die hoofwedstryd aandurf.
Die Charlies lewer nog heel naweek witwarm spel, en dit sal ‘n gesamentlike poging van die Kaapstad-seuns verg om hulle ritme te versteur. Brackenfell het egter reeds vanjaar, by hul jaarlikse sportnaweek, gewys dat hulle ‘n span is vir die groot oomblik, toe Louw 15 punte met die stewel teen Hopefield High School aangeteken het in ‘n dramatiese Vrydagaand-stryd onder ligte.
Hoërskool Die Anker het ook ‘n indrukwekkende sege oor ‘n sterk Parel Vallei High School-span behaal.
Nadat hulle op die eerste dag teen Charlie Hofmeyr vasgeval het met 12-45, het die manne van Brakpan uitstekend teruggekom om vir Parel Vallei met 29-8 te klop. Die pak voorspelers het sake voorlangs beheer en die span van Somerset-Wes verhoed om hul spelpatrone uit te voer.
Luhardt Boyens van Hoërskool Zwartkop het sy span tot ‘n naelskraapse sege van een punt oor Hoërskool Robertson gesool. Die 10 punte vanaf Boyens se stewel het opgemaak daarvoor dat sy span een minder drie as die Robbies kon aanteken.
Met slegs drie minute se speeltyd oor was die Zwarries nog met twee punte agter, toe Boyens pale toe aangelê het om die knoop deur te hak.
Hoërskool Robertson lewer egter wedstryd na wedstryd opwindende rugby en sal gretig wees om die gasheerspan Maandag aan te vat. Oakdale se verteenwoordigende vyftiental is nog onoorwonne by die byeenkoms, so die Wynlanders besef dat daar ‘n enorme uitdaging op hulle wag.
Hoërskool Montagu het teen Hoërskool Wagpos in die eerste helfte van hul kragmeting reeds met 29-12 voorgeloop, maar ‘n rits beserings kort na die rustyd het verhoed dat hulle enige verdere skade kon aanrig. Teen daardie tyd het hulle nietemin ‘n groot genoeg buffer opgebou om met 10 punte te wen.
Bepalings, Dag Drie, 25 Maart:
De Eike-veld: 08:00 – Volkskool Graaff-Reinet t. Die Anker; 09:10 – Lichtenburg t. Merensky; 10:20 – Oakdale XV t. Robertson; 11:30 – Potch Gimnasium t. Swartland; 12:40 – Brackenfell t. Charlie Hofmeyr.
Populiersbos-veld: 08:00 – Oosterlig t. Bredasdorp; 09:10 – Pietersburg t. Hugenote; 10:20 – Hoërskool Middelburg t. Upington; 11:30 – Strand t. Kempton Park.
De Tuine-veld: 08:00 – Vryburg t. Langenhoven Gimnasium; 09:10 – Sentraal t. Overberg; 10:20 – Augsburg t. Hermanus.
De Boord-veld: 08:00 – Westering t. Montagu; 09:10 – Parel Vallei t. Zwartkop; 10:20 – Wagpos t. Labori.
Puntemakers, Dag Twee, 23 Maart:
Hoërskool Brackenfell 10 (3) – Drie: Liam Lucas. Doelskop: Junior Louw. Strafdoel: Louw. Hoërskool Pietersburg 6 (3) – Strafdoele: Divan Brown (2).
Hoërskool Montagu 29 (29) – Drieë: Algurvine Everson (2), Xolani Stevens, Udo Windvogel, Keenen Plaatjies. Doelskoppe: Ronaldo Koker (2). Hoërskool Wagpos 19 (12) – Drieë: Adriaan Olivier, Tiaan van der Merwe, Nathan Louw. Doelskoppe: JG Olckers (2).
Hoërskool Die Anker 29 (19) – Drieë: Ruben Herbst (2), Tian Mills, Jonathan Jordaan, Brandon Crous. Doelskoppe: Crous (2). Parel Vallei High School 8 (3) – Drie: Iviwe Majingo. Strafdoel: Shudley Rhoda.
Hoërskool Zwartkop 20 (10) – Drieë: Danilson Metcalfe, Jaden Cromright. Doelskoppe: Luhardt Boyens (2). Strafdoele: Boyens (2). Hoërskool Robertson 19 (12) – Drieë: Windsor de Koker, Alexander Stemmet, Bernardo Diedericks. Doelskoppe: Jayden van Niekerk (2).
Augsburg Landbou 15 (3) – Drieë: Leon Loots (2). Doelskop: Hanré Swart. Strafdoelle: Swart (2). Hoërskool Labori 12 (12) – Drieë: Christiaan Kershoff, Joshua Gempies. Doelskop: Christiaan Beukes.
Hoërskool Oosterlig 18 (3) – Drieë: Jeandre Bekker, Joshua Booyens. Doelskop: Bouwers. Strafdoele: Bouwers, Tristan Else. Hoërskool Hermanus 7 (0) – Drie: Cameron Pedro. Doelskop: Giano da Kosta.
Hoër Volkskool Graaff-Reinet 38 (24) – Onbekend. Hoërskool Sentraal 0.