SuperSport Schools News

Bere teen die Rooi Bulle vir Beker-glorie

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-21

Soms word daar in rugby te veel klem op statistieke gelê.

As daar na die spanlyste van Saterdag se Beeld Noordvaal Trofee se eindstryd vir Makroskole tussen die Hoërskool Garsfontein se Turkoois Bere en die HTS Middelburg se Rooi Bulle gekyk word, sal Garsies met vier nasionale skolespelers wiskundig die gunsteling wees om as kampioen gekroon te word.

Albei spanne sal egter ná hul dramatiese seges in die doodsnikke van hul onderskeie halfeindstryde teen Monument en EG Jansen weet dat ’n sege net tussen die vier lyne beklink kan word.

Die Bere se SA Skole-skrumskakel, Embrose Papier, sal soos gewoonlik ’n groot rol in sy span se aanslag speel. Dit is nie net Papier se vernuf op die aanval wat van hom ’n gevaarlike speler maak nie, maar ook die feit dat sy dekverdediging waarskynlik die beste van enige skolespeler in Suid-Afrika is.

Die flank PJ Toerien het verlede jaar die nasionale skolespan verteenwoordig. Die senter Abner van Reenen en slot PJ Steenkamp het vanjaar die SA Skole A-span gehaal. 

Dit terwyl slegs twee van die Rooi Bulle se spelers – hul kantmanne, JC Pretorius en Chrisjan Steynberg, goed genoeg geag is om die Pumas op die Cravenweek in Stellenbosch te verteenwoordig. Die Pumas kon vir die tweede
jaar in ’n ry nie daarin slaag op ’n wedstryd in die toernooi te wen nie.

Pretorius word in Middelburg as die volgende Kwagga Smith beskou, wat ook ’n oud-leerling van dié skool is. Hy sal volgende week saam met die SA Skole se sewesspan na Samoa vir ’n toernooi vertrek. Pretorius se vennootskap met Steynberg en sy kaptein en agtsteman, Eric Basson, as lostrio is een van HTS Middelburg se sterkpunte. 

Garsies het vyf spelers in hul geledere wat in die beginspan vir verlede jaar se Beeldtrofee-eindstryd teen die Hoërskool Nelspruit se Rhinos in aksie was. Die Rhinos was met 20-19 baas.

Die vyf spelers is Shakeel Fredericks, Ruan Henning, JP Wegner, Toerien en Jaco Bezuidenhout. Wegner het sy staal onder druk gewys deur die deurslaggewende strafdoel in die sege van 37-36 oor Monnas met selfvertroue oor te klits.

Wegner het die afgelope twee jaar reeds 299 punte vir sy skool se eerste span opgestapel. As Garsies se kaptein en slot, Jaco Bezuidenhout, die trofee omhoog hou, sal hy die eerste kaptein
van sy skool wees wat dít doen.

HTS Middelburg was nog net een keer, in 1991, die alleenhouer van die beker. Die Rooi Bulle onder leiding van hul agtsteman, Japie Kleynhans, het Menlopark tóé met 18-10 in die eindstryd van die Direkteurstrofee verslaan.

Gunder Williamson, wat die kampioen se vaskopstut was, het lank eersterangse rugby vir onder meer die Valke, Blou Bulle en Luiperds gespeel.

Die Rooi Bulle het in 1995 met die eerste Beeldtrofee eindstryd met 24-elk gelykop teen Affies gespeel.
Die skool was ook in vier eindstryde in 1996, 1997 en 2001 teen Affies en in 2003 teen Waterkloof
aan die verloorkant.

MakroEind

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.