SuperSport Schools News

Bere se verdediging genoeg om Klofie-aanslag te oorleef, Parkies veg terug om Helpies om te dop

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-05-10 Tags: , , , , ,

Foto: Frans Lombard/Actionpix.

Dit was só hittete, maar ‘n hanteerfout deur Hoërskool Waterkloof het uiteindelik ‘n naelskraapse sege van 24-18 vir Hoërskool Garsfontein se Bere gegee.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Buiten die laaste hanteerfout, was die Klofies se agtsteman, Almero Gerritsen nietemin een van die Klofies se groot uitblinkers op die dag. Hy was, soos regdeur die seisoen, gevaarlik op die aanval en het die Bere gereeld aan die raai gehou wanneer hy met bal in hand op die aanval losgetrek het.

Die Bere se pak was egter op sy beste. Hý het veral in die skrums die grootste sê gehad wat vir hom die momentum agterlangs gegee het. Dit is opgesom deur die twee drieë wat deur lede van die pak gedruk is. Sy woelige slot, JJ Fourie, die Toring van Namibië, was hoeka die een wat uiteindelik die uitklophou toegedien het nadat hy vir die Bere se laaste drie oorgebars het.

Ruan Fluks het weer stelling op losskakel ingeneem met Joshua Gouws wat sy dienste op buitesenter verleen het. Fluks het dus ook die verantwoordelikheid vanaf die skopkegel opgeneem en met ‘n foutlose vertoning gespog. Hy het al drie sy span se drieë verdoel en ook met ‘n belangrike strafdoel geslaag.

Saam met Gerritsen was die Klofies se heelagter, Alexander Griesel, een van die tuisspan se ander uitblinkers. Griesel se aanhoudende aanvalle van agter het die Bere se verdedigers op hul tone gehou en is ook met een van sý span se drie drieë beloon.

Elders in Pretoria het Die Hoërskool Menlopark ‘n verbete terugvegpoging geloods om vir Helpmekaar Kollege met 38-31 om te dop. Dit was in die konteks van die Noordvaal-reeks ‘n belangrike uitslag vir die Parkies nadat hy verlede naweek teen Hoërskool Middelburg in Middelburg gegly het (26-25).

Sy senterpaar was uitstaande. Dylan Stumke se sterk lopies in die middelveld het die momentum in die guns van sy span gedraai. Sy sentermaat, Danie Botma, het die uitklophou toegedien met sy drie laat in die kragmeting.

Die kollig het egter op Willie Pieterse, die tuisspan se onderkaptein en losskakel, geval. Pieterse het 15 punte tot sy span se telling bygedra deur met twee doelskoppe en twee strafdoele te slaag en ook die Helpies se doellyn vir ‘n verdere vyf punte oor te steek.

Die Helpies se Shaye Lourens blyk of hy sy ritme op losskakel vind. Sy verspreiding na ‘n gevaarlike agterhoede was van hoogstaande gehalte. Hy het self ‘n goeie dag beleef met die 11 punte wat hy vir sy span, deur drie doelskoppe en ‘n drie, bygedra het.

Puntemakers:

Garsfontein 24 (7) – Drieë: Drewyn Baron, Brendon Branford, JJ Fourie. Doelskoppe: Ruan Fluks (3). Strafdoel: Fluks. Waterkloof 18 (8) – Drieë: Alexander Griesel, JJ Brits, Liam Schutte. Strafdoel: Schutte.

Menlopark 38 (17) – Drieë: Dylan Stumke, Tiaan Boshoff, Reandro Fourie, Willie Pieterse, Danie Botma. Doelskoppe: Pieterse (2), Stumke. Strafdoele: Pieterse (2). Helpmekaar Kollege 31 (17) – Drieë: Dewald du Preez, Ruben Coetzee, Zuan Krige, Shaye Lourens, Ethan Lourens. Doelskoppe: Shaye Lourens (3).

Ander spanne:

o.16: Garsfontein 17, Waterkloof 5; Helpmekaar 38, Menlopark 25.

o.15: Waterkloof 20, Garsfontein 7; Helpmekaar 38, Menlopark 22.

o.14: Garsfontein 32; Waterkloof 30; Helpmekaar 24, Menlopark 19.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.