Zwarries wag vir Marais Viljoen in Pretoria
Marais Viljoen sal hierdie naweek behoorlik getoets word wanneer hulle na Pretoria reis om met Hoërskool Zwartkop kragte te meet. Na afloop van die eerste ronde in die C-Afdeling van die Finsbury-reeks, spog albei die spanne met oortuigende seges.
Marais Viljoen het Hoërskool Pietersburg gemaklik met 149 lopies afgestof. Die span van Alberton se indrukwekkende wegbreekbouler, Declan Botes, sal weer op sy beste wil wees. Botes het reeds een “five-for” op sy Finsbury-kerfstok.
Die aanvangskolwer, Jaden Govender, se paaltjie sal ook een wees wat die Zwarrie-boulers vroeg sal wil oes. Dit behoort ‘n interessante stryd tussen hom en die Zwarries se aanvangsbouler, Rowan Mclaren, af te gee.
Mclaren was, saam met Wynand Frylinck, grotendeels vir die Hoërskool Ben Vorster se ondergang verantwoordelik in ronde een .
Met die kolf sal Nicholas Conradie die gevaarman wees en hy sal mik om die Marais Viljoen-boulers deurgaans besig te hou.
Midstream College reis na Pietersburg waar die Hoërskool Pietersburg op hulle wag. Die Pietes se aanvangsbouler, Hanno Coetzee, sal uitsien om van die toestande op tuisbodem uit te buit, terwyl sy kollega en aanvangskolwer, Philip Weterman, op sy goeie begin in die reeks sal wil verbeter.
Midstream College is egter nie te versmaai nie. Hulle voorslagkolwer, Janco van Heerden, behoort heelwat vetroue uit sy goeie eerste vertoning te neem. Saam met Van Heerden sal Maarten Nortje ook ‘n kritiese rol in die Pretorianers se middelorde speel.
Xander Senekal en Johnathan Wiseman se openingsvennootskap met die bal sal die Pieties se toporde behoorlik toets.
Hoërskool Lichtenburg pak die lang tog Tzaneen toe aan om met die Black Caps van Ben Vorster swaarde te kruis.
Die Vossies lek nog wonde na ‘n behoorlike loesing van 195 lopies teen die Zwarries in ronde een. Die tuisveldvoordel behoort egter nuwe wind in hul seile te blaas. Tzaneen is alombekend as ‘n moeilike plek om heen te toer.
Die Liggies sal dus op alle silinders wil vuur om ‘n tweede nederlaag in soveel weke te vermy. Hul aanvangsbouler, Ona Senekwane, sal ‘n vername rol hê om te speel. Met die kolf in die hand sal Lethabo Memani op sy goeie beurt teen ‘n sterk Midstream boulaanval wil verbeter.
Vir die Vossies kan die draaier, Anton Lourens, ‘n groot impak hê, indien hulle hoop om ‘n eerste oorwinning te behaal. Die paaltjiewagter en voorslagkolwer, Ruben Pohl, sal poog om die Vossie-beurt te anker en sodoende nog ‘n ineenstorting deur die middelorde te verhoed.