Zwarries se Vikings skop soeke na Noordvaal-titel teen Valia af


Hoërskool Zwartkop se Vikings is ‘n week gelede as die NWU Prestige-reeks se nuwe kampioen gekroon.
Dit is egter vir hom net nog ‘n stap in die rigting waarna hy werklik opsoek is, die titel van die Virseker Noordvaal Cup se baie kompeterende Plaat-afdeling.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Zwarries skop sy veldtog Saterdagmiddag, om 12:30 op tuisbodem in Centurion, teen een van die nuwelinge in dié afdeling, Hoërskool Transvalia, af. Valia het reeds een wedstryd onder die belt.
Die span van Vanderbijlpark lek nog wonde na sy 31-20 nederlaag teen Hoërskool Nelspruit se Rhinos verlede Saterdag.
Albei dié spanne is verlede jaar uit die reeks se Beker-afdeling gerelegeer en maak vanjaar se Plaat-afdeling, reeds ‘n moeilike een, nog meer kompeterend.
Die Zwarries bly egter een van die groot gunstelinge om met vanjaar se titel weg te stap. Sy hope ervaring met ‘n sterk matriekgroep beteken dat hy vanjaar nog net twee keer verloor het, teen Durban High School (31-14) en Kearsney College (22-19).
In die sterk matriekgroep dra name soos losskakel Tilon Baron, die neef van Garsfontein se heelagter, Drewyn Baron, en haker Regan Blignaut, die vaandel. Blignaut, ‘n groot aanspraakmaker om vir die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek uit te draf, sal Valia se haker, Justin Sampson, behoorlik toets, veral met sy gewoel in die vastelos. Dit is nietemin nie net Blignaut wat groot gevaar inhou nie, aangesien die pak voorspelers agter hom net soveel skietgoed saambring.
Die Wit Bulle van Hoërskool Montana trotseer ‘n moeilike uitdaging teen Hoërskool Nelspruit se onoorwonne Rhinos op sy tuisveld in Pretoria. Die Rhino het sy eerste twee wedstryde oortuigend gewen en blyk na een van die spanne te wees wat vanjaar opgewen is om amok te saai.
Die Monties het self reeds eenkeer in vanjaar se reeks uitgedraf. Hier het hy teen Hoërskool Wesvalia vasgeval (6-3) in ‘n modderige Klerksdorp, maar dieselfde span ‘n week later met 32-10 afgeransel om ‘n derde plek in die NWU se Prestige-reeks los te slaan. Hy sal egter die Rhinos se uitdaging sonder sy gesoute onderkaptein en buitesenter, Luan Barnard, moet aanpak. Daniel Bester vervang vir Barnard in die middelveld.
Hy het egter steeds sy inspirerende kaptein, Ulrich van Biljon, op agtsteman. Van Biljon se grootste taak sal wees om die Rhinos se woelige Vian Louw (agtsteman) te neutraliseer.
Hoërskool Kempton Park se sege van 27-12 oor die Rooi Bulle van HTS Middelburg het nuwe lewe in sy span geblaas. Dit het op die regte tyd gekom, net voordat hy Saterdag om 12:40 vir Hoërskool Oos-Moot op sy tuisveld in die Oos-Rand moet verwelkom.
Hoewel die Oosies in sy eerste uitstappie met 37-29 teen die Rhinos vasgeval het, was daar steeds tekens van ‘n gedugte span. Karel de Kock, gewoonlik ‘n staatmaker op binnesenter vir die Oosies, draf op losskakel uit. Die skuif beloof ‘n liplek-lekker stryd met Kempies se generaal, Heinrich Burger, agter twee pakke wat die skote sal laat klap.
Die spanne is:
Zwartkop t. Transvalia om 12:30 in Centurion:
Zwartkop: 15 Shayden Botha, 14 Garith Warrie, 13 Stiaan Botha, 12 David van Jaarsveld, 11 Waylin Papier, 10 Tilon Baron, 9 Ruvan Burger, 8 Wihan Roux, 7 Jethro Le Roux, 6 Mikka Allers, 5 Franco van Tonder, 4 Herman Potgieter, 3 Ruben Harvey, 2 Regan Blignaut, 1 Matthew Smith.
Transvalia (moontlik): 15 Dave Mthizi, 14 Jayden Gaybba, 13 Waldo McLean, 12 Jaydee Maree, 11 Xander Pretorius, 10 Nhlosenhle MacCamel, 9 Johan Smit, 8 Matthew van Niekerk, 7 Caylin McLauchlin, 6 GJ Rossouw, 5 Juhan Basson, 4 Marnes Wilson, 3 Damian van Heerden, 2 Justin Sampson, 1 Wimpie Mariz.
Montana t. Hoërskool Nelspruit om 12:30 in Pretoria:
Montana: 15 Edrich Strydom, 14 Corban Kruger, 13 Daniel Bester, 12 Henroe Colyn, 11 Christiaan Booysen, 10 Rubel Bester, Du Preez Prinsloo, 8 Ulrich van Biljon, 7 Enrico Smit, 6 Reghardt van Biljon, 5 Jayden Cloete, 4 Eric Potgieter, 3 Kyle van Schalkwyk, 2 Shawn Moabelo, 1 Louan Erasmus.
Nelspruit: 15 Rhandzu Mkhabela, 14 Tye Habib, 13 Juandré Aucamp, 12 Rian Botha, 11 Hanré Smit, 10 Ewan van der Merwe, 9 Kamo Monkwe, 8 Vian Louw, 7 Christiaan de Klerk, 6 Aldo van Jaarsveld, 5 Ruan Ehlers, 4 Robro MacGregor, 3 Marcel Lindeque, 2 Mphobuhle Nyumba, 1 Christiaan Viljoen.
Hoërskool Kempton Park t. Oos-Moot om 13:40 in Kempton Park:
Kempton Park: 15 Ruan Opperman, 14 Aubrey Hoskin, 13 Guillaume Botha, 12 Luca du Plooy, 11 Etteine Stroebel, 10 Heinrich Burger, 9 Kehan Kruger, 8 Christiaan Nixon, 7 Wihan Strey, 6 Bevan Grobler, 5 Juan Hall, 4 Ruan Mostert, 3 Reece van Loggennburg, 2 Mathhew Vermaak, 1 Tristan Marx.
Oos-Moot: 15 Michael Budha, 14 Brian Jacobs, 13 Jayden Meintjies, 12 Le Roux Smith, 11 LJ Vaughn, 10 Karel Kok, 9 Arno Badenhorst, 8 André Winter, 7 Riyaan Wilson, 6Divan Summers, 5 Calvin Jones, 4 Emile Kotze, 3 Sinawo Stengana, 2 Doneal Weideman, 1 Thando Telelo.





