SuperSport Schools Plus

Zwarries se beste kans sedert 2016 om baas van Centurion te wees

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-16 Tags: , ,

FOTO: Marius Nortjé

Hoërskool Zwartkop het ‘n gulde geleentheid om vanjaar ‘n eerste sege in die jaarlikse FNB Classic Clashes-stryd teen Hoërskool Eldoraigne te behaal.

Geniet al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).

Die Zwarries kon laas in 2016 daarin slaag om koning te kraai in die Centurion-derby, toe hulle die Eldo’s se Drake naelskraaps met 11-7 geklop het.

Daarna het agt droë jare gevolg waartydens hul Centurion eweknieë die oorhand geniet het, met die mees onlangse uitslag ‘n oorwinning van 23-19 vir die Drake.

Die twee spanne het albei ‘n wankelrige begin tot die 2024 seisoen beleef, maar die Zwarries lyk asof hulle tans die beste op dreef is. Dit, tesame met die tuisveldvoordeel in vanjaar se stryd, maak van Zwartkop gunstelinge, maar die Drake moet beslis nie voortydig afgeskryf word nie.

Eldoraigne verwelkom drie sleutelspelers terug na beserings. Jaydon Niehaus keer na sowat drie weke terug op agtsteman; die woellige oopkantflank, Cameron Kilian, sal ook weer vir die eerste keer in ‘n wyle sy verskyning aan die kant van die skrum maak; en Divan van Rooyen sluit weer by Kevin Earle aan in die middelveld.

Die terugkeer van die drietal is verblydend vir die Eldo’s se afrigtingspan, met die hoop dat ‘n sege hierdie week die keerpunt in hul seisoen kan beteken.

“Ons wil fokus om vir 70 minute by ons spelpatroon te hou en nie by Zwartkop aan te pas nie. Dit gaan beslis ‘n harde en vinnige wedstryd wees en, glo my, hulle is vasberade om ons vir die eerste keer in ‘n paar jaar te klop,” het Deon Anderson, die Eldo’s se agterlynafrigter gesê.

Die Zwarries verwelkom ook hul groot wapen en puntemasjien, Denlison Metcalfe, terug, nadat hy weens ‘n dyspierbesering die span se laaste twee wedstryde misgeloop het. Metcalfe sal egter eers later in die wedstryd te siene wees, met Milton Naudé wat steeds die vertroue van die Zwarries se breiers geniet.

Naudé moes in die kragmeting met Hoërskool Klerksdorp inderhaas sy stewels afstof om sy plek op regtervleuel in te neem. Hy het in dié wedstryd sy kanse optimaal benut om drie keer agter die doellyn te gaan kuier en as Speler van die Wedstryd aangewys te word.

Dit beteken dat albei die Zwarries se regtervleuels vir die volle 70 minute fyn dopgehou sal moet word.

Voorlangs sal die tuisspan hewig staatmaak op hul losvoorspelers, Brian Smith (agtsteman) en Leonard Lotriet (steelkantflank). Die duo het deur die loop van die seisoen gewys dat hulle nie terugdeins vir enige uitdaging nie en hul werkverrigting kan ‘n vername rol speel in die Zwarries se strewe na sukses.

Die spanne: 

Hoërskool Zwartkop t. Hoërskool Eldoraigne om 13:00 in Centurion

Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Milton Naudé, 13 Kyle Blignaut, 12 Luan Williams, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Neil Gous, 8 Brian Smith, 7 Leonard Lotriet, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Logan Knott, 4 Ettiene van Niekerk, 3 Brogan Ackerman, 2 Dirco la Marque, 1 Julian Lubbe.

Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Hendru van Zyl, 13 Divan van Rooyen, 12 Kevin Earle, 11 Tristan Lee, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Jayden Niehaus, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Kilian, 5 Rikus Rheeder, 4 SW Liebenberg, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.