SuperSport Schools News

Zwarries, Heidelberg Volkies bespreek plek in NWU Prestige-eindstryd

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2026-04-20 Tags: , , , , , ,

FOTE: Hannnes Nienaber.

Die eindstryd van vanjaar se NWU Prestige-reeks sal tussen die Vikings van Hoërskool Zwartkop en Heidelberg Volkskool beslis word.

Die Zwarries het sy eerste hekkie oorkom deur die Wit Bulle van Hoërskool Montana met 39-26 by Hoërskool Hugenote in Springs uit die pad te vee.

Dit terwyl die Volkies van Heidelberg met 26-15 oor Hoërskool Wesvalia, by Hoërskool Die Anker in Brakpan, koning gekraai het.

Die Vikings het reeds vroeg die oorhand oor die Monties gekry. Sy uitstekende eerste helfte het die grondslag en voorsprong vir hulle gegee om uiteindelik gemaklik te wen.

Die span van Centurion het reeds met 29-7 teen die omdraaislag voorgeloop. Die Monties het dit moeilik gevind om die Zwarries se giftige agterhoede onder beheer te hou.

Sy losskakel, Tilon Baron, se goeie verspreiding van agter sy pak op die voorvoet het beteken dat drie van die Vikings se drieë agterlangs gedruk is. Voorlangs was dit die slot, Jethro le Roux, en steelkantflank, Luan Wepener, wat die vuur aangesteek het. Die Zwarries se ander twee drieë het na dié duo gegaan as beloning vir hul harde werk.

Die Monties se dryfmale was hul grootste wapen. Dit het daartoe gelei dat hul haker, Juan Theunissen, twee keer die doellyn oorgesteek het. Luan Barnard het agterlangs uitgeblink, maar die Zwarries se agterhoede was uitstekend op die aanval.

Die tendens in die stryd tussen die Volkies van Heidelberg en Wesvalia was baie dieselfde. Die Volkies het ’n uitmuntende eerste helfte geniet. Hulle het ook teen rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 19-7 gehad. Albei die Volkies se vleuels het uitstekend afgerond en is elk met ’n vyfpunter beloon. Die Wessies het egter teruggeveg in die tweede 35 minute.

’n Drie deur Ruben de Klerk, asook ’n strafdrie, het die momentum oombliklik geswaai. Die Volkies se kalmte onder volgehoue druk het dividende betaal en kon hy so hul plek in die eindstryd op 1 Mei bespreek.

Twee driekunste aan drieë deur onderskeidelik Cayden Scheepers (Marais Viljoen) en Hoërskool Klerksdorp se Gerrit Koen het beteken dat daar uiteindelik niks tussen Marais Viljoen en die span van Klerksdorp te kies was nie.

Die wedstryd het uiteindelik in ’n 17-elk gelykopuitslag geëindig nadat dié spanne se onderskeie stelskoppers, Jared Mentz (Marais Viljoen) en Brendin Mathyse (Klerksdorp), elk ’n doelskop oorgeklits het.

Hoërskool Pietersburg se Ryno Mienie het in die laaste oomblikke van die wedstryd ’n doelskop deur die pale gejaag om aan sy span ’n sege van 12-11 oor Wagpos van Brits te gee.

Die span vanuit Brits het vir die grootste gedeelte van die wedstryd voorgeloop. Myburgh Henning en sy skopstewel het twee strafdoele oorgeklits. Ruben de Klerk het die span se enigste drie gedruk. Dit was egter die Pieties se Ziahn Lombard en Juan Dreyer se drieë wat die verskil gemaak het.

Potchefstroom Volkskool het sy beste vertoning tot dusver vanjaar opgelewer om vir Hoërskool Lichtenburg met 50-27 om te dop. Die Volkies van Potchefstroom het ses keer agter die Lichtenburgers se doellyn gaan draai.

Hul regtervleuel, Luke Davey, asook die senter River Samual het elk dubelle driedruk-plesier ervaar.

Die grondslag van die oorwinning is egter deur die inklimspel van die agtsteman, Johannes Lombard, en kantman Vian Victor gelê. Lombard het met sy stormramlopies ook gesorg dat sy span op die aanval op die voorvoet bly.

Die wenspan se heelagter, Carlo van der Merwe, het met sy kliniese skopwerk ook ‘n beduidende rol in die sege vertolk.

Puntemakers: 

Zwartkop 39 (29) – Drieë: Stiaan Botha (2), Luan Wepener, Waylin Papier, Shayden Botha, Jethro le Roux. Doelskoppe: Baron (3). Strafdoel: Baron. Montana 26 (7) – Drieë: Juan Theunissen (2), Eric Potgieter, Luan Barnard. Doelskoppe: Rubel Bester (3).

Heidelberg Volkskool 26 (19) – Drieë: Stef Loubser, Jano Dietrechsen, Albie Botha, Jerado Tafel. Doelskoppe: Vaughn Steynvaart (3). Wesvalia 15 (7) – Drieë: Ruben Klerk, Strafdrie. Strafdoel: Michael Kinnear.

Marais Viljoen 17 (12) – Drieë: Cayden Scheepers (2), Eldrique Adams. Doelskop: Jared Mentz. Hoërskool Klerksdorp 17 (12) – Drieë: Gerrit Koen (2), Elzeno Schalkwyk. Doelskop: Brendin Mathyse.

Hoërskool Pietersburg 12 (5) – Drieë: Ziahn Lombaard, Juan Dreyer. Doelskop: Ryno Mienie. Wagpos 11 (6) – Drie: Hendrik de Jager. Strafdoele: Myburgh Henning (2).

Potchefstroom Volkskool 50 (29) – Drieë: Luke Davey (2), River Samual (2), Johannes Lombard, Rynard de Klerk, Kyle Hattingh, . Doelskoppe: Carlo van der Merwe (6). Strafdoel: Van der Merwe. Hoërskool Lichtenburg 27 (22) – Drieë: Thato Seabo, Dries Pretorius, George Bingudza, Rea Moshusi. Doelskoppe: Hanjo Nieuwoudt (2). Strafdoel: Nieuwoudt.

Ander spanne: 

o.16: Klerksdorp 8, Zwartkop 3; Wesvalia 27, Pietersburg 25; Montana 31, Hugenote 26; Lichtenburg 21, Bergsig 19; Heidelberg Volkskool 21, Die Anker 19; Potch Volkies 38, Marais Viljoen 0.

o.15: Heidelberg Volkskool 31, Wesvalia 9; Montana 10, Zwartkop 10 (Montana wen as gevolg van meeste drieë); Klerksdorp 26, Wagpos 3; Pietersburg 14, Lichtenburg 5; Jeugland 19, Hugenote 13.

o.14: Montana 17, Zwartkop 15; Wesvalia 13, Klerksdorp 7; Montana 17, Zwartkop 15; Heidelberg Volkskool 24, Die Anker 15; Pietersburg 11, Marais Viljoen 9; Potch Volkies 15, Lichtenburg 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.