SuperSport Schools Plus

Zwarries breek wendroogte van agt jaar

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-20 Tags: , , ,

FOTO – Brian Callaghan

PRETORIA – Hoërskool Zwartkop se wendroogte van agt jaar in hul jaarlikse FNB Classic Clashes-kragmeting met Hoërskool Eldoraigne is iets van die verlede.

Die Zwarries dra vir die volgende jaar die kroon van Centurion, nadat hulle vir hul tradisionele aartsvyand met 22-16 verslaan het.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Die Zwarries het, in ‘n klipharde kragmeting, genoeg in die eerste 35 minute gedoen om teen rustyd met 19-11 voor te loop, en kon na die omdraaislag daarin slaag om voor te bly tot die einde toe.

Die tweede helfte het slegs ‘n strafdoel en ‘n drie opgelewer, met albei spanne wat rotsvas verdedig het. Dit ly geen twyfel dat daar na dese ‘n paar seer lywe in Centurion is nie.

Die Zwarries het voorlangs die stryd gewen. Agsteman, Brian Smith, en slot, Logan Knott, het die groot skare vermaak met hulle fisieke benadering en reuse duikslae. Die duo was ook aan die spits van die Zwarries se aanval, met ‘n drie elk, en het aggressiewe ondersteuning in die middeveld ontvang van buitesenter, Kyle Blignaut.

Die besoekers het nietemin hand en tand geveg om in die wedloop te bly, met oopkantflank, Cameron Killian, wat met sy terugkeer na die span uitmuntend was by die afbreekpunte. Slot, SW Liebenberg, wat vanjaar reeds bykans in elke posisie in die skrum diens verrig het, het, saam met Killian, ‘n barshou vir die Drake gespeel.

Skrumskakel, Darren Bruwer, het uiteindelik ook sy vorm herwin en waarskynlik sy beste vertoning van die seisoen gelewer. Bruwer se taktiese skopwerk het die tuisspan deurgaans laat omdraai, terwyl hy ook die Zwarrie-verdedigers gedurig aan die raai gehou het om die skrums en losskrums.

Puntemakers: 

Zwartkop 22 (19) – Drieë: Brian Smith, Logan Knott, Kyle Blignaut. Doelskoppe: Luhardt Booyens (2). Strafdoel: Booyens. Eldoraigne 16 (11) – Drieë: Rikus Rheeder, Marnus Prinsloo.

Ander spanne:

o.16: Zwartkop 71, Eldoraigne 0.

o.15: Zwartkop 16, Eldoraigne 13.

o.14: Zwartkop 24, Eldoraigne 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.