Witteberg baas in Bethlehem die eerste keer sedert 2017
Witteberg het Saterdag vir die eerste keer sedert 2017 koning gekraai in die FNB Classic Clashes-derby in Bethlehem.
Dié naelbytsege van 25-22 was grootliks danksy die geoefende skopskoen en kalm benadering van flank en kaptein, Llewellyn Beukes.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Voor die oorwinning in 2017 kon Witteberg laas in 2006 vir Voortrekker die loef afsteek in Bethlehem.
Die afgelope naweek het Beukes die besoekers se rekening geopen met ‘n strafdoel, voordat hul dinamiese binnesenter, Kenyon Morat, die eerste drie van die wedstryd gedruk het.
Witteberg het met 10-0 voorgeloop vir grootste gedeelte van die eerste helfte, voordat die Trekkers se groot stut, Cecil Parsons, deur die verdedigingslinie kon bars vir die tuisspan se eerste vyfpunter. Dit het die rustydagterstand na 7-10 laat krimp en na die omdraaislag het hul staatmaker haker, Arnold Ras, ook gaan druk om vir ‘n wyle die voorsprong aan Voortrekker te besorg, totdat Beukes met sy tweede strafdoel geslaag het.
Christiaan van der Sandt, skrumskakel van die tuisspan, het ook ‘n suksesvolle dag met die stewel beleef en was suksesvol met twee doelskoppe en ‘n strafdoel.
Dawie Fourie het sy span se derde drie gedruk om aan Voortrekker ‘n voorsprong van 22-13 te bied met slegs 15 minute oor. Die “Wittes” het egter geweier om te gaan lê en twee pragdrieë deur vleuel, Tsepho Motloung, en agsteman, Daniël Meintjies, asook ‘n allerbelangrike doelskop deur Beukes, het dié spogsege vir Witteberg beklink – dit boonop nog in die Trekkers se agterplaas.
Parsons en Ras het oudergewoonte uitgeblink vir Voortrekker, maar die besoekers het oor die algemeen ‘n briljante spanpoging gelewer om as oorwinnaars uit die stryd te kon tree. Beukes en Meintjies het die veld aan die brand gespeel, terwyl losskakel, Sydwell Sethi, vir die Trekkers se verdediging deurlopend aan die raai gehou het.
Volgende maand sal die twee Witteberg-senters, Morat en JC van Rhyn, asook stut, Riaan Roos, met Ras, Parsons en Kamohelo Moses van Voortrekker saamspan vir Griffons by die Cravenweek, maar vir eers spog Witteberg as die nuwe baas van Bethlehem.
Puntemakers:
Witteberg 25 (10) – Drieë: Kenyon Morat, Tshepo Motloung, Daniël Meintjies. Doelskoppe: Llewellyn Beukes (2). Stafdoele: Beukes (2). Voortrekker 22 (7) – Drieë: Cecil Parsons, Arnold Ras, Dawie Fourie. Doelskoppe Christiaan van der Sandt (2). Strafdoel: Van der Sandt.
Ander tellings
o.19 – Voortrekker II 21, Witteberg II 3; Voortrekker III 45, Witteberg III 7; Voortrekker VI 32, Witteberg IV 14; Diamantveld II 35, Sentraal 1ste XV 7; Diamantveld III 50, Sentraal II 14; Diamantveld IV 55, Sentraal III 0.
o.16 – Voortrekker A 53, Witteberg A 18; Voortrekker B 15, Witteberg B 15; Diamantveld A 34, Sentraal A 26, Diamantveld B 33, Sentraal B 0.
o.15 – Voortrekker A 22, Witteberg A 18; Witteberg B 29 Voortrekker B 5; Diamantveld A 12, Sentraal A 5; Sentraal B 39, Diamantveld B 5.
o.14 – Voortrekker A 18, Witteberg A 5; Voortrekker B 34, Witteberg B 12; Diamantveld A 59, Sentraal A 0; Sentraal B 24, Diamantveld B 19.