Witbulle heers steeds as konings van Krugersdorp

Hoërskool Monument se Witbulle dra vir nóg ‘n jaar die kroon van Krugersdorp, nadat hulle tuis vir Hoërskool Noordheuwel se Blues in ‘n boeiende kragmeting naelskraaps met 36-33 kon verslaan.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).
Daar was die afgelope week heelwat bespiegel oor hoe die Blues se pak teen die reuse agttal van die Witbulle sou opweeg. Die Witbulle het met oorgawe hierop geantwoord.
Dit was vernaam in gebroke spel waar die tuisspan se ysters behoorlik hul stempel afgedruk het.
Onder leiding van slot, Jacques Botha en sy begeesterde lopies met die bal in hand, het die Witbulle deurgaans daarin geslaag om die voordeellyn oor te steek. Die steelskantflank, RG Barnard, was oudergewoonte woelig op die aanval en het met een van sy begeesterde lopies vir een van die mooiste drieë op die dag gesorg.
Die Blues se pak het nieteenstaande ‘n aanduiding gegee dat hulle hul man teen enige pak voorspelers kan staan. Die besoekers het verál puik vertoon in die skrums en hul teenstanders selfs by ‘n hele paar geleenthede in trurat gedwing met hul kragtige skrumwerk.
Die grootste opwinding van die dag het egter agterlangs gelê. Die twee spanne van Krugersdorp se agterlyne het mekaar vir die volle 70 minute met mening aangevat.
Monument se twee snellers op vleuel, Ernesto Oersen en Kealan Milton, wat meermale vanjaar reeds gewaarsku het dat hul nie spasie gegun moet word nie, het weer die buiteveld aan die brand gehardloop en die Blues laat rondstaan met hul groot vaart en flink voetwerk.
Nories se linkervleuel, Lindsay Jansen, het op sy beurt tong uitgesteek vir die Leeus se keurders met ‘n ewe uitmuntende vertoning op sowel die aanval as verdediging. Jansen se bedrieglike vaart en vermoë om spasie aan te val het aan hom twee van die Blues se drie drieë besorg, terwyl hy meer as een keer tot die besoekers se redding gekom het met sy vasberadenheid op kruisverdediging.
Losskakel, Jeandre Uithaler, het ‘n inderdaad ‘n “Uithaler”-vertoning met die skopskoen gelewer. Hy het al drie sy span se drieë verdoel en met vier strafdoele geslaag om die telbord aan die rol te hou.
Die Blues se haker, Brendan Naudé, verdien ook ‘n pluimpie vir sy hoë werkverrigting, vernaam op die verdediging. Naudé het keer op keer sy lyf op die spel geplaas om die groot voorspelers van Monument in hul spore te probeer stuit, terwyl sy heldedade by die afbreekpunte ook herinner het aan dié van ‘n jong Malcolm Marx.
In Johannesburg moes Hoërskool Dr. EG Jansen se Arende swoeg om ‘n sege van 27-19 oor Helpmekaar Kollege te behaal.
Dit het ‘n uiters fisieke stryd afgegee, verál voorlangs waar die pakke voorspelers mekaar behoorlik opgedreun het. In die skrums was dit ‘n geval van “een vir jou, een vir my”, met geeneen van die twee agttalle wat wou handdoek ingooi nie.
Dit groot verskil was uiteindelik in die vastelos, waar die Jansies se losstrio en slot, Gerhard van Aswegen, wat basies die rol van ‘n vierde losvoorspeler vervul, oudergewoonte gewoeker het. Van Aswegen was ook verantwoordelik vir die Jansies se wendrie.
Die slot het vanuit sy eie halfgebied deurgebars om agter die doellyn te gaan kuier. Dit was nie die eerste keer dat Van Aswegen sy fenominale vaart en voetwerk, vir ‘n slot, so tentoongestel het nie.
Puntemakers:
Monument 36 (22) – Drieë: Keenan Myners, Nathan Erasmus, Ernesto Oersen, Juandre Mare, Jamaal Veldman, RG Barnard. Doelskoppe: Cruz La Moer (2), Justin Viljoen. Noordheuwel 33 (20) – Drieë: Lindsay Jansen (2), Gideon Diedericks. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (2). Strafdoele: Uithaler (4).
Dr. EG Jansen 27 (17) – Drieë: Zade-Leigh Rippenaar, Danre Pike, Gerhard van Aswegen, Jeandre Jacobs. Doelskoppe: Matthew Bergman (2). Strafdoel: Bergman. Helpmekaar 19 (7) – Drieë: JP Lombard, Delano Maritz, Tiaan le Roux. Doelskoppe: Michael Benzien (2).
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 30, Monument 20; Helpmekaar 48, EG Jansen 0.
o.15: Monument 17, Noordheuwel 3; Helpmekaar 19, EG Jansen 5.
o.14: Noordheuwel 8, Monument 3; Helpmekaar 21, EG Jansen 5.