SuperSport Schools Plus

Wie’s baas in Bethlehem?

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-16 Tags: , ,

FOTO: Wessel Hattingh

Bethlehem se buurskole, Voortrekker en Witteberg, is Saterdag weer slaags vir nie alleen spogregte op die dorp nie, maar ook die FNB Classic Clashes-titel en waardevolle Griffons- en Wesgrow-ligapunte.

Verlede jaar het die Trekkers met 24-16 koning gekraai, en hulle sal hierdie naweek daardie sukses voor hul tuisskare wil herhaal.

Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Kamohelo Moses, Arnold Ras en Tumi Khoza het elkeen drieë aangeteken in verlede jaar se sege. Moses en Ras is albei weer in die Trekkers se begin-vyftiental, terwyl Khoza ‘n impak sal wil maak vanaf die reserwebank.

Kirsten Fourie was verlede jaar nog Witteberg se reserwe-skrumskakel, met Dries Stemmet wat 11 van die span se punte in die nr. 9-trui aangeteken het. Fourie sal in sy voorganger se spore wil volg wanneer hulle Saterdag kans kry om die bordjies te verhang.

Die besoekers beskik self oor ‘n groot korps ervare spelers, soos Sydwell Sethi, Sakkie Brits, Kenyon Morat, Tshepo Motloung, Daniel Meintjies, Llewellyn Beukes, Marco Grobler, Pieter Nel en Colin van der Merwe, wat almal in 2023 reeds hul buiging vir die eerste span gemaak het.

Morat is lid van die Griffons se voorplopige Cravenweekspan, saam met nog twee Witteberg-gevaarmanne, JC van Rhyn (senter) en Rian Roos (stut).

Hulle sal volgende maand in Krugersdorp saam met Dawie Fourie (agsteman), Kamohelo Moses (vleuel) en Cecil Parsons (stut) van Voortrekker uitdraf, maar hierdie naweek is beide groepe se fokus slegs op die derby. Parsons het verlede jaar reeds uitgeblink by die Cravenweek, en Witteberg se pak sal op hul beste moet wees om die groot rooikopstut en sy makkers in toom te hou.

Die stryd tussen die losvoorspelers behoort ewe interessant te wees, met opwindende baljagters soos Meintjies en Fourie wat teenoor mekaar te staan kom.

Agterlangs beskik albei spanne oor vurige talent. Craig Mann en Christiaan van der Sandt is twee Trekkers om dop te hou, terwyl die Cravenweek-senterpaar, Van Rhyn en Morat, sake in die Witteberg-agterlyn dirigeer.

Verlede naweek het Witteberg hul spiere gebult met ‘n wegholsege van 52-0 oor Goudveld, terwyl Voortrekker vroeër vanjaar vir die Gouties net-net met 19-13 kon troef. Die Trekkers het verlede naweek egter vir ‘n begeesterde Hentie Cilliers span met 37-12 verslaan, terwyl Witteberg vroeër weer vir Henties met net 30-24 kon klop.

Die tafel is dus gedek vir ‘n reuse kragmeting in Bethlehem, met die inspuiting van energie wat die plaaslike ondersteuners by so derby bied, wat bydra tot die opwinding.

Intussen behou Diamantveld hul onoorwonne rekord in die Wesgrow-reeks. Hul tweede span sal steeds die naweek in Bloemfontein teen Hoërskool Sentraal se eerste span uitdraf, maar die Tralies gee ligapunte oor met die Diamonds se eerstes wat ‘n welverdiende blaaskans ontvang.

Duineveld sal probeer om hul indrukwekkende momentum te behou wanneer hulle vir Hoërskool Noord-Kaap in Upington verwelkom.

Voortrekker t. Witteberg om 14:15

Voortrekker: 15 Kaneng Komane, 14 Karabelo Chaka, 13 Frederik Fourie, 12 Craig Mann, 11 Kamohelo Moses, 10 Adriaan Bonthuys, 9 Christiaan van der Sandt, 8 Dawie Fourie, 7 Jayden de Jesus, 6 Wian Fourie, 5 Tristan Meyer, 4 Luttig Roux, 3 Cecil Parsons, 2 Arnold Ras, 1 Francois Maree.

Witteberg: 15 Janco Swart, 14 Sakkie Brits, 13 JC van Rhyn, 12 Kenyon Morat, 11 Tshepo Motloung, 10 Sydwell Sethi, 9 Kirsten Fourie, 8 Daniel Meintjies, 7 Llewellyn Beukes, 6 Lesego Mosikidi, 5 Marco Grobler, 4 Pieter Nel, 3 Colin van der Merwe, 2 Jacques van der Merwe, 1 Rian Roos.

Afskoptye:

A-veld: 14:15 – Voortrekker 1ste XV t. Witteberg 1ste XV; 12:20 – Voortrekker o.16 A t. Witteberg o.16 A; 11:10 – Voortrekker II t. Witteberg II; 10:10 – Voortrekker o.15 A t. Witteberg o.15 A; 09:10 – Voortrekker o.14 A t. Witteberg o.14 A; 08:00 – Voortrekker III t. Witteberg III.

B-veld: 12:20 – Voortrekker o.15 B t. Witteberg o.15 B; 11:20 – Voortrekker o.14 B t. Witteberg o.14 B; 10:20 – Voortrekker IV t. Witteberg IV; 09:10 – Voortrekker o.16 B t. Witteberg o.16 B.

Ander bepalings:

o.19: 13:40 – Sentraal t. Diamantveld II; 12:50 – Duineveld t. Noord-Kaap.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.