Wessies se titel-verdediging op koers, Mosienyane laat Kuruman-kanon bulder
Daar is geen onoorwonne spanne oor na die halfeindronde van die tweede Kovsie Smash-toernooi in Bloemfontein nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die oorblywende twee onoorwonne spanne, Hoërskool Pieterburg en Hoërskool Fichardtpark, het altwee in die hek geduik, met die span van Polokwane wat met 46 lopies teen die verdedigende kampioen, Hoërskool Wesvalia, vasgeval het.
Die Wessies se Eduard Dreyer het sy 2025-seisoen afgeskop nes die vorige jaar s’n en het nou sy totale aantal lopies in verlede jaar se toernooi geëwenaar. Dreyer, wat weer voorgevat het met die kolf, het 47 lopies aan die bopunt van die kolflys bygedra om sy week se totaal op 282 lopies te staan te bring.
Hy is bygestaan deur Marneau Dreyer (42*) en Zaindre Stopford (33). Stopford en Eduard Dreyer het ‘n deurslaggewende vennootskap van 71 lopies aanmekaargeslaan om die Wessies tot ‘n puik totaal van 158/3 in die toegelate 20 beurte aan te help.
Eduard Dreyer (3/26) en Stopford (2/12) het met die bal ook die toon aangegee om die Pieties se kolflys te laat wankel. Stephan Swanepoel (37), een van die Pietersburgers se sterre, en Celliers van der Merwe (35) het hardnekkig probeer teenstand bied, maar moes uiteindelik met 112/8 tevrede wees.
Kopano Mosienyane het die kanon uit Kuruman afgevuur om die Fichies se onoorwonne segetog te beëindig. Mosienyane het vier paaltjies platgetrek terwyl hy slegs 15 lopies in sy boulskof afgestaan het, en, met goeie ondersteuning van Leander Smit (2/24), het die Fichies gekrummel onder die druk om uiteindelik met 80 lopies die aftog te blaas.
Dylan Gerener (3/10) en Nathan Ackerman (2/7) het dapper probeer om Kalahari te troef, maar Louhan Noeth het koelkop gekolf vir sy 31 lopies wat net-net genoeg was om die span van Kuruman met twee paaltjies oor die wenstreep en tot in die eindstryd te dryf.
In ander kragmetings was Durandt Lubbe van Driehoek se uitmuntende boulsyfers van 5/18 nie genoeg om Witteberg van ‘n oorwinning met 28 lopies te ontneem nie. Janco Botha, aanvangskolwer van Witteberg, het die pas aangegee met sy beurt van 62 lopies, wat uit 53 balle bestaan en ses grenshoue, waarvan vyf viere en een ‘n ses, ingesluit het.
Hoërskool Transvalia se Kriegler Botha geniet homself gate uit in Bloemfontein en was hierdie slag die held met ‘n onoorwonne 40 om sy span tot ‘n oorwinning met vier paaltjies oor Hoërskool Rustenburg te lei. Botha en Declan Steinmann (2/9) het voorts met hul akkurate boulwerk vir die opposisie die finale nekslag toegedien.
Beknopte telkaarte:
Beker-halfeindstryde:
Wesvalia 158/3 (Eduard Dreyer 47, Marneau Dreyer 42*, Zaindre Stopford 33; Dian Gouws 1/24); Hoërskool Pietersburg 112/8 (Stephan Swanepoel 37, Celliers van der Merwe 35; Eduard Dreyer 3/26, Zander Stopford 2/12). Wesvalia wen met 46 lopies.
Fichardtpark 80 (Marno Smith 12; Kopano Mosienyane 4/15, Leander Smit 2/24); Kalahari 82/8 (Louhan Noeth 31; Dylan Gerener 3/10, Nathan Ackerman 2/7). Kalahari wen met twee paaltjies.
Bowl-halfeindstryde:
Hoërskool Rustenburg 115/7 (Tristan van der Linde 43, Henlo van Rooyen 27; Declan Steinmann 2/9); Transvalia 118/6 (Kriegler Botha 40*, Declan Steinmann 25; Marnus de Witt 3/30). Transvalia wen met vier paaltjies.
Bethlehem Voortrekker 128/6 (Vlag Janse van Rensburg 44, Joel Coetzee 40, Ruan Heunis 21*; Shelton Classen 3/19); Despatch 130/7 (Tyron Smit 45, Josh Bishop 23; Ruan Heunis 2/12, Rodney Turner 2/18, Leytin Kimmins 2/38). Despatch wen met drie paaltjies.
Skild-halfeindstryde:
Jim Fouché 116/7 (Niel Wilken 56*; Bernard Wandrag 2/9, Topher Elphinstone 2/12, Rinaldo Bornman 2/12); Merensky 118/5 (Rinaldo Bornman 44, JP Botha 34*, Schalk Rossouw 20; Cobus Wilken 2/17). Merensky wen met vyf paaltjies.
HTS Middelburg 74 (Brossouw de Wet 12; Danie Corbett 2/0, Anthony Schwan 2/9, Liam du Preez 2/13); Oos-Moot 75/3 (Chrisjan van Staden 24, :iam du Preez 24; Marinus Enslin 1/2). Oos-Moot wen met sewe paaltjies.
Plaat-halfeindstryde:
Hoërskool Upington 80 (Ruann Esterhuizen 23, Weilin Lombaard 23; Roche Le Roux 4/6, Christiaan Schoeman 3/24); Overvaal 81/8 (Janco de Lange 17; Ruann Esterhuizen 2/10, CJ Botha 2/17, Adin Likumbi 2/25). Overvaal wen met twee paaltjies.
Goudveld 83 (Kayden Pienaar 16; Pieter Coetzee 3/15, Niekie Smit 3/16, Joshua Visagie 2/18); Duineveld 84/5 (Kian Naude 26*; Ruan Dreyer 2/14, Edrich du Plessis 2/18). Duineveld wen met vyf paaltjies.
16de tot 20-halfeindstryde:
Witteberg 141 (Janco Botha 62, Xander Fourie 24; Durandt Lubbe 5/18, Rico Kruger 2/24); Driehoek 113/9 (Duan Taljaard 41, Hendro Strydom 21*; Jayden Jacobs 4/14, Dumisani Johnson 4/18). Witteberg wen met 28 lopies.
Trio 145/5 (Gabriel Mocjabela 47, WJ van Niekerk 44; Erik Prinsloo 2/32); Sentraal 111/9 (Janre Bornman 58*; Gabriel Mocjabela 4/10, Myburg Jacobs 2/19). Trio wen met 34 lopies.