SuperSport Schools Plus

Volkies maak lewe moeilik vir Marais Viljoen in Potch

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-03-11 Tags: , , , , , , ,

Potchefstroom Volkskool het die lewe vir die besoekende Hoërskool Marais Viljoen bitter moeilik gemaak.

Die Potchefstromers het verbete baklei vir die volle 70 minute van die kragmeting, maar moes uiteindelik met 17- 28 die aftog blaas teen die besoekers uit Alberton.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.

Die Volkies se agtsteman, Dewald Groenewald, het verál uitgestaan, en nie geskroom om die besoekers se fisieke pak met van hulle eie medisyne terug te betaal nie. Hy het dikwels, met kraglopies, oor die voordeellyn gekom, en dit het vir hom twee drieë in die sak gebring.

Marais Viljoen het egter koelkop gebly en die druk met groot ervaring verwerk. Cluade do Coute was ‘n doring in die Volkies se vlees. Die span van Alberton se binnesenter, met sy oog vir spasie en skerpsnydende aanvalslyne, het verwoesting geskep in die middeveld en ook ‘n tweekuns behaal.

Ethan Weideman, op linkervleuel, was ewe indrukwekkend, op die aanval maar verál wat sy rotsvaste verdediging betref het. Hy het ‘n goeie stukkie spel afgerond vir een van sy span se vier drieë.

Hoërskool Ben Vorster het hul seisoen op die bes moontlike noot afgeskop, deur Hoërskool Lydenburg oortuigend met 48-21 te verslaan. Binnesenter, Aza Mabe, het, soos verwag, uitgeblink in die middeveld en in ‘n japtrap deurgesny vir sy twee drieë.

Pontsho Selowa, Ben Vorster se buksie in die nr. 9-trui, het ook gaan druk, en was in die kol met vier doelskoppe.

Vir die tuisspan het die blitsige Candice Kok (linkervleuel) en  Pogisho Mohlala (binnesenter) uitgeblink, en is elk met ‘n drie beloon. Die loskopstut, Phillip Pienaar, het nie geskroom om die Ben Vorster-voorhoede aan te vat nie en het ook die Tzaneeners se doellyn oorgesteek.

Merensky Lanbou Akademie het hul besoekers van Phalaborwa, Hoërskool Frans du Toit, ‘n rugbyles geleer om met 43-14 koning te kraai. Die Plasies se heelagter, Maritz Meintjies, het die geleenthede om aan te val wat na sy kant toe gekom het, met altwee hande aangegryp en gevolglik ook twee keer die bal agter die opposisie se doellyn geplant.

Die ervaring van  Byron Hendricks, op losskakel, en buitesenter, Ulrich Mare, was opvallend, aangesien albei telkens net daardie rapsie meer tyd op die aanval gehad het.

Jabulani Shayi het as plaasvervanger op heelagter sy stempel afgedruk vir Frans du Toit, en na ‘n uitstekende stukkie individuele spel agter die Plasies se doellyn gaan kuier. Oopkantflank, Pieter Oosthuizen, het die Fransies se ander drie gedruk, met buitesenter, Kenny Moreku, wat albei verdoel het.

Bergsig Akademie het ‘n wegholsege van 47-0 oor Hoërskool Hoogenhout behaal. Losskakel, Simeon Botha, het met sy ervaring spel pragtig dikteer, en keer op keer sy driekwarte in hope spasie geplaas. Botha het self die doellyn oorgesteek, nadat hy sy eie tikskoppie opgevolg het, en was vyf keer suksesvol vanaf die skopkegel.

Die grondslag vir die oorwinning was nietemin voorlangs gelê, met die Bergsig-pak, met losskopstut, Tjaart Bernard, en steelkantflank, Dewald Potgieter, aan die spits, wat hul stempel deeglik afgedruk het.

Puntemakers: 

Hoërskool Marais Viljoen 28 (7) – Drieë: Claude do Coute (2), Rynier Welgemoed, Ethan Weideman. Doelskoppe: Rekkie Gerber (4). Potchefstroom Volkskool 17 (3) – Drieë: Dewald Groenewald (2). Doelskoppe: Johandre Maree (2). Strafdoel: Diaan van der Merwe.

=Ben Vorster 48 (19) – Drieë: Aza Mabe (2), Pontsho Selowa, Tumi Romohlale, Lethabo Sejake, Damian Bye, Chifu Banda. Doelskoppe: Selowa (4). Lydenburg 21 (14) – Drieë: Phillip Pienaar, Candice Kok, Pogisho Mohlahla. Doelskoppe: Pieter Maritz (2), Curtleigh Koetzee.

Merensky 43 (24) – Drieë: Maritz Meintjies (2), Tirelo Mashapa, Jens Bezuidenhout, Ulrich Mare, Heinrich Lubbe, Leruo Molemane. Doelskoppe: Byron Hendricks (2), JD Boshoff (2). Frans du Toit 14 (7) – Drieë: Pieter Oosthuizen, Jabulani Shayi. Doelskoppe: Kenny Moreku (2).

Bersig Akademie 47 (21) – Drieë: Simeon Botha, Tjaart Bernard, Dewald Potgieter, MJ Pretorius, Alzandro dos Santos, Steven Grobelaar, Johandre Steyl. Doelskoppe: Simeon Botha (5), Luan Duvenhage. Hoogenhout 0 (0).

Ander spanne: 

o. 16: Potchefstroom Volkskool 34, Marais Viljoen 5; Ben Vorster 19, Lyndenburg 7; Merensky 57, Frans du Toit 5; Bergsig Akademie 29, Hoogenhout 0.

o. 15: Marais Viljoen 17, Potchefstroom Volkskool 15; Ben Vorster 43, Lydenburg 7; Merensky 57, Frans du Toit 0; Hoogenhout 33, Bergsig Akademie 26.

o. 14: Marais Viljoen 25, Potchefstroom Volkskool 12; Ben Vorster 19, Lydenburg 0; Merensky 58, Frans du Toit 10; Bergsig Akademie 31, Hoogenhout 15

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.