Volkies, Dokkies straks die keur van die naweek se Finsbury-stryde

Daar heers groot afwagting in Heidelberg en Meyerton op die vooraand van wat straks die wedstryd van die naweek in die Finsbury-reeks kan oplewer.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Heidelberg Volkskool verwelkom sy tradisionele vyand, Hoërskool Dr Malan, Saterdag in Heidelberg vir ‘n kragmeting wat oudergewoonte gelaai behoort te wees met spanning en aksie.
Die Volkies, ná hul reuse oorwinning met 10 paaltjies oor Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen, behoort slaggereed te wees vir die aanslag uit Meyerton.
Die skitterende Maro Hartkopf lewer tans kookwater-spel met die kolf en was die voorste lopievraat teen die Vossies met ‘n aanskoulike beurt van 69 lopies. Hy het daarna ook die langsteel ingelê teen Randpark in die Johnny Waite T20-kompetisie vroeër vandeesweek om 46 lopies in ‘n oogwink op te stapel.
Middelorde-kolwer, Dave Pelzer, hou ook heelwat gevaar in vir die Dokkies in, soos wat sy onoorwonne 74 teen Randpark aangedui het.
Op sy beurt sal die Dokkies se kaptein en voorslagkolwer, Dewald Erasmus, sy stempel wil afdruk. Hy beskik nie alleen oor die vermoë om ‘n kragmeting met die kolf te swaai nie, maar sy ekonomiese boulwerk kan ook ‘n beduidende faktor wees. Die ervare en ewe veelsydige Luka Pretorius is nóg ‘n speler wat heelwat gesprek in die Volkies se spanvergaderings sou ontlok het.
Hoërskool Ben Vorster is vir ‘n tweede agtereenvolgende week op tuisbodem in aksie, wanneer hy vir Hoër Tegniese Skool Middelburg in Tzaneen verwelkom. Albei spanne het ‘n wankelrige begin tot vanjaar se reeks beleef, maar met rukke en stote belowende tekens getoon. Die blad in Tzaneen is bekend as ‘n kolfvriendelike een in die laatmiddag, wat sal beteken dat die span wat eerste kolf sy storie sal moet ken.
HTS se ST Rorich is stewig op dreef na sy 30 lopies teen Hoërskool Middelburg, terwyl die Black Caps oor die dienste van Lourens Kriel se skerp oog laer af in die orde beskik.
Die wedstryd tussen Hoërskool Middelburg en Uplands College is na ‘n latere datum verskuif, weens die Middies se betrokkenheid by die streek-uitspele van die Schools SA20-kompetisie in Gauteng.
Bepalings:
Week 3:
Heidelberg Volkskool t. Dr Malan
Ben Vorster t. HTS Middelburg