Visagie-vyf verwoes Driehoek, Barnard boelie HTS met die kolf
Dit sal heelwat verg vir iemand om die heldedade van Hoërskool Duineveld se Joshua Visagie te herhaal oor die volgende vier dae van die tweede Kovsie Smash-toernooi.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Duineveld het die loot gewen en besluit om Hoërskool Driehoek in uitdagende kolftoestande te toets.
Dit was ‘n besluit wat bykans onmiddelik vrugte afgewerp het met Niekie Smit (1/11) wat reeds in die eerste beurt ‘n deurbraak kon bewerkstellig. Dit was egter Visagie se skof wat Driehoek se doodskoot beteken het.
In die 3.4 beurte wat hy afgestuur het, het Visagie slegs vyf lopies afgestaan en 19 leë balle geboul. Dit was egter sy paaltjie-oes wat die grootste opskudding veroorsaak het.
Tesame met sy uiters ekonomiese skof, het die Duineveld-held nie minder as vyf paaltjies laat kantel nie. Dié vertoning het Driehoek tot slegs 69 beperk, ‘n totaal wat Duineveld se kolwers reeds in die 15de beurt, na ‘n effense gestoei, kon verbysteek om met vier paaltjies te seëvier.
Transvalia se Jeandre Barnard het sy boulers se puik vertoning uitstekend met die kolf opgevolg om HTS Middelburg met vyf paaltjies te troef. Nadat Kriegler Botha (3/6) en Declan Steinmann (3/19) gemaai het onder HTS se kolwers, was dit Barnard se kolf wat hope sout in die Middelburgers se wonde gesmeer het.
Die aanvangskolwer het 42 aflewerings gebruik om 46 lopies aan te teken, met Janco Jacobs wat hom bygestaan het met ‘n geduldige 29 in dié twee se vennootskap van 79 lopies.
Marinus Enslin en Armand Kotze was op hul beurt die span van Middelburg se silwerandjie met die kolf. Enslin het 36 lopies bymekaargemaak, terwyl Kotze ook ‘n klop op die skouer verdien vir sy swaarverdiende 32.
MJ van Wyngaard (3/10) en Christiaan Schoeman (2/18) het die Trio-kolwers laat klippe kou in Overvaal se oorwinning met ses paaltjies. Theuns van Rensburg het egter koelkop gebly om ‘n onoorwonne 45 lopies aan te teken en sy span se totaal op 113/8 na die toegelate 20 beurte te staan te bring.
Dit was spoedig egter duidelik dat dit nie genoeg sou wees nie met Ethan Kruger (28) en Luann Le Roux (23) wat die jaagtog gelei het. Shoeman het sy rol met die kolf ook goed vertolk om sy span oor die wenstreep te kry met ‘n aanskoulike 22*.
Voortrekker van Bethlehem se Vlag Janse van Rensburg en Joel Coetzee het die langsteel ingelê om die span van Tzaneen in Limpopo, Merensky Landbou Akademie, met ses paaltjies te verslaan. Janse van Rensburg het die aanslag gelei met ‘n beurt van 42 lopies, terwyl Coetzee, kort op sy hakke, met 38 gespog het om die teiken van 95 met gemak te haal.
Beknopte telkaarte:
Driehoek 69 (Lucius Goosen 19; Joshua Visagie 5/5, Pieter Coetzee 2/12, Wilmar Myburgh 2/13); Duineveld 72/6 (Kian Naude 42*; Lucius Goosen 2/5, Louis Pieterse 2/14). Duineveld wen met vier paaltjies.
HTS Middelburg 122 (Marinus Enslin 36, Armand Kotze 32; Kriegler Botha 3/6, Declan Steinmann 3/19, Mjee Roets 2/28); Transvalia 123/5 (Jeandre Barnard 46, Janco Jacobs 29; JP Muller 2/15). Transvalia wen met vyf paaltjies.
Trio 113/8 (Theuns van Rensburg 45*; MJ van Wyngaard 3/10, Christiaan Schoeman 2/18); Overvaal 114/4 (Ethan Kruger 28, Luann Le Roux 23, Christiaan Schoeman 22*; Bokang Mohasa 2/23). Overvaal wen met ses paaltjies.
Merensky 94/8 (Xander Schoeman 18; Jordan Buitendag 2/8, Joel Coetzee 2/16); Bethlehem Voortrekker 95/4 (Vlag Janse van Rensburg 42, Joel Coetzee 38; Wean Kruger 2/16). Bethlehem Voortrekker wen met ses paaltjies.