Vernude Middies oorgehaal om bordjies teen Rooi Bulle te verhang


Middelburg is tans rooi, met seges in die twee mees onlangse ontmoetings met Hoërskool Middelburg, maar kan die Middies sy goeie spelpeil voortsit om dié bordjies Saterdagmiddag in die King Price Derby Series kragmeting te verhang?
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of kanaal 216.
Die Rooi Bulle het in die laaste twee kragmetings, eers in die eindstryd van die Noordvaal se Plaat-afdeling (19-11) en daarna in die laaste ronde van die NWU se Sportreeks (15-12) vroeër vanjaar, koning gekraai.
Verlede Saterdag se uitslag van 26-25 oor Die Hoërskool Menlopark het die vernuwe Middies, nou onder leiding van nuwe hoofafrigter Christiaan Gouws, egter weer ’n groot uitdaging vir die Rooi Bulle gemaak. Die Rooi Bulle het ’n dag vantevore met 27-12 teen Hoërskool Kempton Park vasgeval, wat hom op sy beurt gevaarliker maak.
Gouws, ook die Middies se Direkteur van Rugby, het ná afloop van die NWU se Sportreeks as hoofbreier oorgeneem. Hy brei ook tans die o.15-span.
Die tuisspan se staatmaker-stut, Dewald du Toit, se vertoning teen die Parkies het gewys hoe belangrik hy tot sy span se sukses is. In die Rooi Bulle se voorry wag die woelige vaskopstut, Uzile Mathalela. Mathalela en Du Toit se gewoeker is eenders in die vastelos en die verskil tussen die twee sal heel waarskynlik in die skrums gemeet word.
Die tweestryd voorlangs word verder opgevlam deur die stryd wat tussen slotte Ruben Kruger (HTS Middelburg) en Khensani Buthelezi (Hoërskool Middelburg) wag. Buthelezi is ’n gesoute lid van die Middies se pak, terwyl Kruger tot dusver vanjaar die veld aan die brand gespeel het met sy begeesterde barslopies.
Indien die tendens van die vorige wedstryde voortgesit word, kan die skopstryd tussen die twee se stelskopers die uiteindelike sê in dié kragmeting hê. Middies se buitesenter, Jano Wilson, was uiters akkuraat teen die Parkies, terwyl die naam Cornelius Erasmus nog by die Middies sal spook ná sy strafdoel in die twee se vorige ontmoeting. Erasmus sal op heelagter uitdraf.
Verlede naweek in Kempton Park was dit egter losskakel Ruan Janse van Rensburg wat die dienste vanaf die skopkegel opgeneem het en sal hy, indien die kans homself voorstel, skade met die stewel wil aanrig.
Die spanne is:
Hoërskool Middelburg t. HTS Middelburg om 15:30 in Middelburg
Hoërskool Middelburg: 15 Jeanré Oosthuizen, 14 Kgontse Masilela, 13 Jano Wilson, 12 Blake Faber, 11 Kgotso Peta, 10 Buhle Mphlahlaza, 9 Enio Mahnica, 8 Sifiso Hlungwane, 7 Siyabonga Mokgoatjana, 6 Aiden Nel, 5 Khensani Buthelezi, 4 Lihan de Vaal, 3 Dewald du Toit, 2 Ryan Blake, 1 Melchior van Niekerk.
HTS Middelburg: 15 Cornelius Erasmus, 14 Fourie Joubert, 13 Wynand Cronje, 12 Nathan Janse van Vuuren, 11 Ruwan Graaff, 10 Ruhan Janse van Vuuren, 9 Ruan Pienaar, 8 Regard Blake, 7 Andrea de Wet, 6 Argu Kruger, 5 Ruben Kruger, 4 Max Venter, 3 Uzile Mathelela, 2 Jade Stimie, 1 Carlo Joubert.
Click here for more King Price Derby Series articles.




