SuperSport Schools Plus

Van Staden se skitterbeurt verdoof die Liggies, Dinamika oorbrug Midstream

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-21 Tags: , , , , ,

Hoërskool Zwartkop se kaptein, Zandre van Staden, het Hoërskool Lichtenburg se boulers gewys waar Dawid die wortels gegrawe het in dié spanne se eerste kragmeting in vanjaar se Finsbury-reeks Saterdag in Lichtenburg.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Van Staden, wat met die telling op 54/2, in die 15de beurt kom kolf het, het die Lichtenburgers in hul eie agterplaas gekasty met die kolf om die span van Centurion tot ‘n skittersege met 126 lopies te lei. Die Zwarries se voorslagkolwer het teen ‘n treftempo van 125,4 gekolf en net 118 aflewerings benodig om 16 viere en ses sesse te moker in sy onoorwonne beurt van 148 lopies.

WJ Esterhuizen (36) en Ewan Erasmus (25) het self waardevolle lopies aangeteken om, saam met Van Staden se spogtotaal, die besoekers tot 279/8 in die toegelate 50 beurte te neem. Die 40 pasella lopies wat die Liggies met ekstras afgestaan het sou na dese ook in diepte bespreek geword het.

Hoewel die Zwarries ook 31 ekstras geboul het, het Dawid Hanekom van voor gelei met die bal. In die 6.2 beurte wat hy afgestuur het, het hy 34 leë balle geboul en vier paaltjies vir slegs agt lopies laat spat. Die aanhoudende druk was eenvoudig té veel vir die Liggie-kolwers.

Raiyaan Khan (41) het ‘n verbete terugvegpoging as aanvangskolwer geloods, maar was die enigste wat ‘n noemenswaardige bydrae kon lewer en die tuisspan is uiteindelik vir 153 uitgeboender.

Op ‘n gunstige dag vir die boulers, het Hoërskool Dinamika se Mohammed Valli die span van Alberton tot ‘n naelskraapse oorwinning met drie paaltjies oor Midstream College gekolf.

Nadat Andrew Marais drie Midstream paaltjies vir 31 lopies te laat kantel het, het Valli tot sy span se redding gekom met die kolf. Midstream het hardnekkig baklei om hul totaal van 137 te verdedig, met Dian de Villiers wat uitgeblink het met syfers van 2/28 in sy toegelate 10 beurte.

Valli het egter soos ‘n gesoute bokser in die geveg gebly. Om die waarheid te sê, dit het amper gelyk of hy op ‘n ander blad kolf, met die bal wat selde die middel van sy kolf gemis het. De Villiers het uiteindelik, met sy telling op 53 van net 47 balle, van Valli ontslae geraak, maar was dit té laat om Dinamika te stuit.

Kyle du Plooy se 24 lopies het die uitklophou toegedien en verseker dat die besoekers die wenstreep in die 33ste beurt oorsteek.

Beknopte telkaarte: 

Zwartkop 279/8 (Zandre van Staden 148*, WJ Esterhuizen 36, Ewan Erasmus 25; Raiyaan Khan 2/24, Johan Duvenhage 2/46); Hoërskool Lichtenburg 153 (Raiyaan Khan 41, Juan van Rhyn 25, Ekstras 31; Dawid Hanekom 4/8, Vincent Matraiotti 2/12). Zwartkop wen met 126 lopies.

Midstream College 136 (Rikus Cilliers 37, Jonothan Wiseman 23, Dian de Villier 22; Andrew Marais 3/31, Branko Steenberg 2/11, Jesse Simpson 2/17); Dinamika 137/7 (Mohammed Valli 53, Kyle du Plooy 24; Dian de Villiers 2/28). Dinamika wen met drie paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.