SuperSport Schools Plus

Van Staden en Zwarries het Dinamika in hul visier

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-24 Tags: , , , , , ,

Die tweede week van aksie in Afdeling C van die Finsbury-reeks sal fyn dopgehou word met drie klipharde kragmetings wat op krieketaanhangers wag.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hoërskool Zwartkop durf die 80 km na Alberton aan waar Hoërskool Dinamika op hom sal wag. Albei spanne het hul reeks met goeie oorwinnings afgeskop.

Dinamika het beïndruk deur die gevaarlike Midstream College met drie paaltjies te verslaan, terwyl die Zwarries vir Hoërskool Lichtenburg op ‘n drafstap met 126 lopies die loef afgesteek het.

Die tuisspan sal vir Zwarries se kaptein en voorslagkolwer, Zandre van Staden, teiken as die grootste vangs in die Zwartkop-dam, nadat hy verlede week vir die Liggies met ‘n uitstaande 148* rondgejaag het. In die bouldepartement wag daar ‘n reuse stryd tussen die span van Centurion se Dawid Hanekom en Dinamika se bybreekbouler, Trent Shrives. Albei is normaalweg bedrywig in die middelbeurte, maar beskik elk oor die vermoë om paaltjies op nét die regte tyd te laat kantel.

Midstream College sal gretig wees om na die wenpad terug te keer, maar dit sal geensins maklik wees teen Hoërskool Pietersburg nie. Hoewel die Pieties die tog met die N1 vanuit die noorde moet aandurf, beskik hulle oor genoegsame skietgoed om die tuisspan in sy agterplaas te karnuffel. Celliers van der Merwe, wat onlangs taamlik opspraak gemaak het met die bal en kolf by die jaarlikse Kovsie Smash-toernooi, is een van die gevaarlike pyle in die Pieties se koker.

Midstream se Jonathan Wiseman, wat oor heelwat ervaring beskik, sal met sy veelsydige kaptein, Rikus Cilliers, ‘n vername rol hê om te vertolk indien die span van Centurion hoop om die besoekers stert tussen die bene huis toe te stuur.

Hoërskool Monument, wat teen Hoërskool Lichtenburg te staan kom, lyk witwarm op die oomblik, met die span van Krugersdorp se kaptein en voorslagkolwer, Logan Weetman, wat reeds met ‘n onoorwonne 87 lopies teen Queens in die Johnny Waite T20-kompetisie spog. Die Liggies is egter onvoorspelbaar en nóg ‘n pragbeurt deur hul aanvangskolwer, Raiyaan Khan, kan die Monumentare onder druk plaas.

Bepalings:

Week 2:
Dinamika t. Zwartkop
Midstream t. Pietersburg
Monument t. Lichtenburg

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.