Van Deventer, Pieters lê die wilgerlat in teen Gimmies
Hanré van Deventer en Wian Pieters het elk ‘n honderdtal aangeteken in Hoërskool Kempton Park se sege met 70 lopies oor Potchefstroom Gimnasium.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Van Deventer en Pieters, die Kempies se aanvangskolwers, het die Gimmie-boulers behoorlik laat les opsê. Die tuisspan kon eers, met die besoekers se telling reeds op 197, daarin slaag om die eerste paaltjie plat trek.
Pieters was eerste om te loop toe hy, net nadat hy sy honderdtal behaal het, deur die Gimmies se enigste suksesvolle bouler, Jhandré Coetzee (3/74) vir 101 terug pawiljoen toe gestuur is. Van Deventer het die teenstanders aanhou terroriseer totdat hy, ook kort na die ekstase van sy honderdtal, vir 103 sy paaltjie verloor het.
Coetzee, alhoewel ietwat aan die duur kant, se harde werk is met ‘n derde paaltjie beloon toe hy vir Sheldon Kruger (24) laat uitvang het. Dit was egter nie genoeg om te voorkom dat die besoekers ‘n reuse totaal van 312/3 in hul toegelate 50 beurte aanteken nie.
Die Gimmie-kolwers, op hul beurt, het hardnekkige teenstand gebied. Ongeag hul moeë lywe na 50 beurte in die veld, het Lukas Kotze en Christivan Coetzer van voor gelei. Kotze het sy span se hoogste telling van 70 behaal, terwyl Coetzer net ses lopies kort van ‘n welverdiende vyftigtal uitgehaal is vir 44.
Ulrich Botha het ook beïndruk met 31, maar die Kempie-boulers, gelei deur Kristian du Plessis (2/21), het genoeg gedoen om die tuisspan in die 46ste tot 242 te beperk vir ‘n oorwinning met 70 lopies.
Hoërskool Centurion het ‘n verbete terugvegpoging geloods, maar Hoërskool Montana het vasgebyt om die span uit Centurion met vier paaltjies te klop. Die Woeries ‘n totaal van 115 behaal, danksy kaptein, Morné Prinsloo, se beurt van 43. Die Monties se Juan Theunnissen het uitgeblink as aanvangsbouler met syfers van 3/6 in ses beurte.
Monties se kolfbeurt was ook effens wankelrig en hulle was in ‘n stadium ietwat in die knyp met die telling op 57/4. Luka Bairos het egter tot sy span se redding gekom ‘n kapteinsbeurt van 40 lopies, wat net-net genoeg was om die span van Pretoria deur te sien in die 33ste beurt.
Kenan Shaw en Kie het Marais Viljoen geroer in Hans Moore se 10-paaltjie oorwinning. Ten spyte van ‘n vermaaklike 67 deur die span van Alberton se Jaden Govender, was daar geen wegkruipplek vir die res van die kolflys nie. Shaw het dit uitgebuit om vyf paaltjies vir slegs 23 lopies in agt beurte laat spat.
Aanvangskolwers, Zander Swart en Stephan Vermaak, het verder sout in Marais Viljoen se wonde gesmeer. Swart het die grootste skade met sy bydrae van 62* aangerig, terwyl Vermaak goed vertoon het vir sy onoorwonne 44 lopies om die span van Benoni tot ‘n oortuigende sege te lei.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Kempton Park 312/3 (Hanre van Deventer 103, Wian Pieters 101, Marko Richter 33*, Sheldon Kruger 24, Stian de Villiers 21*;Jhandre Coetzee 3/74); Potchefstroom Gimnasium 242 (Lukas Kotze 70, Christivan Coetzer 44, Ulrich Botha 31; Kristian du Plessis 2/21, Garth van Deventer 2/29, Ethan Kotze 2/52). Hoërskool Kempton Park wen met 70 lopies.
Hoërskool Centurion 115 (Morne Prinsloo 43, Ekstras 24; Juan Theunnissen 3/6, Leejan van Jaarsveld 2/13, Frank van der Westhuizen 2/22); Montana 117/6 (Luka Bairos 40, Ekstras 24; Kyle Fourie 2/25). Montana wen met vier paaltjies.
Marais Viljoen 115 (Jaden Govender 67; Kenan Shaw 5/23); Hans Moore 117/0 (Zander Swart 62*, Stephan Vermaak 44*). Hans Moore wen met tien paaltjies.