SuperSport Schools Plus

Van der Merwe, Van Wyk roer die Nellies

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-26 Tags: , , , , , , ,

Cricket Ball on BatPotchefstroom Volkskool se Eduan van der Merwe en Louis van Wyk het Hoërskool Nelspruit se boulers gekasty met die wilgerlat.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

Dié twee kolwers het gesamentlik meer as die helfte van die Volkies se totaal van 303 lopies aangeteken. Van der Merwe was voor in die koor met ‘n uitmuntende 107, terwyl Van Wyk, kort op sy hakke, met ‘n pragbeurt van 86 kon spog.

Die Nellies se Juan Maritz is met drie paaltjies vir sy ekonomiese boulwerk beloon, en is goed deur Duan Smal bygestaan. Alhoewel Smal ietwat aan die duur kant was het hy steeds twee Volkie-kolwers teruggestuur pawiljoen toe.

Die Nellies se kolfbeurt het egter nie volgens plan verloop nie. Buiten Rico Nel, het die span van Nelspruit se kolflys grootliks in duie gestort. Nel het gelyk of hy op ‘n ander blad kolf en sy geduld is met 56 lopies beloon.

Die Volkies se voorslagbouler, Herman Hesse, was weer in ‘n verwoestende bui. Sy vier paaltjies vir slegs 13 lopies was die vernaamste rede vir die Nellies se ineenstorting. Handre de Beer het ook gedeel in die aksie met twee paaltjies om die span van die Laeveld tot net 140 lopies te beperk. Dit was die Nellies se tweede nederlaag in twee dae, nadat hulle Vrydag met vier paaltjies teen Hoërskool Rustenburg vasgeval het.

Hoërskool Eldoraigne het die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof, laat sweet vir ‘n swaarverdiende oorwinning met drie paaltjies. Ruan Steyn was uitstekend met die kolf vir ‘n spoggerige 55 en het, met behulp van Kyle de Bruyn se 40, die span van Centurion tot ‘n totaal van 214 gehelp.

Klofies se Ricardo Crous was egter net té goed op die dag. Na sy vertoning van 3/21 met die bal, het Crous tot sy span se redding gekom met ‘n kritieke 49 lopies. Kaptein Riley Miller het sy goeie spelpeil voortgesit met nóg 43 lopies op sy kerfstok. Dit was uiteindelik genoeg om die tuisspan oor die wenstreep te kry.

Hoërskool Rustenburg kon nie sy sukses van Vrydag herhaal nie. Die span van Noordwes het ‘n nederlaag met vyf paaltjies teen Hoërskool Menlopark op die lyf geloop.

Menlopark se aanvangsbouler, Tiaan Serfontein, het van voor gelei met syfers van 2/16, terwyl Matt van der Westhuizen die grootste skade met die kolf aangerig het. Sy 37 lopies, tesame met James Bronkhorst se 32, het ligte werk gemaak van die Rusties se totaal van 108.

Beknopte telkaarte:

Potchefstroom Volkskool 303/9 (Eduan van der Merwe 107, Louis van Wyk 86, Ekstras 25, Juan van Niekerk 24; Juan Maritz 3/23, Duan Smal 2/62); Hoërskool Nelspruit 140 (Rico Nel 56, Luan Siebrets 25; Herman Hesse 4/13, Handre de Beer 2/21). Potchefstroom Volkskool wen met 163 lopies.

Eldoraigne 214 (Ruan Steyn 55, Kyle de Bruyn 40, Jean du Randt 35, Ekstras 25, Vince Lotz 24; Ricardo Crous 3/21, Darius Maritz 2/34, Johan Feuth 2/37); Waterkloof 216/6 (Ricardo Crous 49, Riley Miller 43, Jaydon Blom 34*, AJ de Villiers 23, Ekstras 20; Kyle de Bruyn 3/32, Cornell Cousins 2/42). Waterkloof wen met drie paaltjies.

Hoërskool Rustenburg 108 (Manfred Wenhold 23, Ekstras 23; Tiaan Serfontein 2/16, Johan Bosch 2/26, Murray Hofmeyr 2/30); Hoërskool Menlopark 114/5 (Matt van der Westhuizen 37, James Bronkhorst 32, Morne Koekemoer 21*; Augie Behrens 2/17, Thian Labuschagne 2/29). Hoërskool Menlopark wen met vyf paaltjies.

Vrydag 24 Januarie: 

Hoërskool Nelspruit 266/7 (Vaughn van Zyl 81, Graham Waldemar 49, Luan Siebrets 42, Rico Nel 27, Duan Small 22; Henlo van Rooyen 2/47, Hendri Kemp 2/55); Hoërskool Rustenburg 269/6 (Thian Labuschagne 70, Callie Fryer 55, Hendre Robinson 54, Tristan van der Linde 26, Henlo van Rooyen 26*; Jan Malan 4/26). Hoërskool Rustenburg wen met vier paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.