Valke en WP in die hoofwedstryd van 2018 se LSOB-week
Die Valke sal Donderdag in die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark sy titel as nie-amptelike kampioen van die jaarlikse LSOB-week (vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes) teen die Westelike Provinsie verdedig. Die Valke het die naelskraapste van sege van 27-26 oor die Blou Bulle op die tweede dag van die toernooi behaal om hul plek in die hoofwedstryd te bespreek.
Die span se kaptein en losskakel, Chezlin Oosthuizen, was met sy skopskoen die verskil tussen die twee spanne. Oosthuizen is tans ook die voorste puntemaker met 34 punte na sy span se twee wedstryde.
Die Westelike Provinsie het sy plek in die hoofwedstryd met ‘n klinkende sege van 36-19 oor die Boland beklink. Die Wynboere het verlede jaar in die hoofwedstryd van die week in Durban teen die Valke met 25-12 in die stof gebyt. WP se rekord op vanjaar se toernooi is nie heeltemal vlekkeloos nie. Die Streeptruie het op die eerste dag met 7-elk gelykop teen die Oostelike Provinsie gespeel.
Die Oostelike Provinsie het die Pumas met 32-15 op die tweede dag verslaan, na hy met ‘n agterstand van 7-10 gaan rus het. Suidwestelike Distrikte het die grootste sege tot dusver op vanjaar se toernooi behaal deur die Goue Leeus BO (buitengewone onderwys) met 75-3 ‘n les te leer.
Die Vrystaat sal ook Donderdag teen die Oostelike Provinsie poog om sy toernooi onoorwonne af te sluit. Die Blikore het die Valke XV-tal met 21-7 vandag verslaan.
Die Griffons se flank Jean-Pierre Geldenhuis was met ‘n driekuns aan drieë aan die voorpunt van sy span se gemaklike sege van 53-10 oor die Sharks. Die Perses het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 17-0 opgebou en net na nog ‘n hoër rat in die tweede helfte oorgeskakel.
Puntemakers:
Valke 27 (8) – Drieë: Chezlin Oosthuizen, Chae Rouillon, Lorenzo Thompson, Rivano do Amaral. Doelskoppe: Oosthuizen (2). Strafdoel: Oosthuizen. Blou Bulle 26 (5) – Drieë: Cornelius Beukes, Jared Kleynhans, Morné Ludeke, Siyabongga Buthelezi. Doelskoppe: Luan Gouws (2), Beukes.
Westelike Provinsie 36 (19) – Drieë: Tsetse Kawaya (2), Bevan Trichardt, Mickael Williams, Geraldo Williams. Doelskoppe: Joshua Visagie (2), Mickael Williams (2). Strafdoel: Mickael Williams. Boland 19 (0) – Drieë: Austin Philips, Jascy-Lee Prins, Heinrich Arends. Doelskoppe: Shadley Gertze (2).
Oostelike Provinsie 32 (7) – Drieë: Siyolise Toko, Nando Kemp, Gaitisiwe Matoti, Bienie van Sensie, Dervin Cramford. Doelskoppe: Abel Goeda, Van Sensie. Strafdoel: Goeda. Pumas 15 (10) – Drieë: JP van Wyk, Stephan Slabbert. Doelskop: Slabbert. Strafdoel: Slabbert.
Griffons 53 (17) – Drieë: Jean-Pierre Geldenhuis (3), Thabiso Motloung, Tiaan Esterhuizen, Victor Porotloane, Brendin Weitsz, Abbey Seseane, Shane Makoko. Doelskoppe: Ruben Steenkamp (2), Seseane (2). Sharks 10 (0) – Drieë: Siyanda Ndaba, Dylan Conradie.
Goue Leeus 35 (8) – Drieë: Mendes Vangu (2), Mosa Maluka, Lelethu Nyabaza. Doelskoppe: Mazizi Mpolongwana (3). Luiperds 24 (15) – Drieë: Lucky Tjalentjane (2), Antonio Rodie. Doelskoppe: Lesego Seikaneng (3). Strafdoel: Seikaneng.
Vrystaat 21 (14) – Drieë: Sam Goodman (2), Geovani Prins. Doelskoppe: Katlego Molete (3). Valke XV 7 (0) – Drie: Matthews Malema. Doelskop: Carlo Passano.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12