Valia se neus steeds voor na goeie sege in Pretoria
Hoërskool Transvalia se neus is nog verder voor na hy sy stempel die afgelope naweek in die Jakarandastad gaan afdruk het.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die besoekers van Vanderbijlpark het hul veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling hervat met ‘n oortuigende oorwinning van 45-24 oor Hoërskool Montana.
Die span in die rooi- en ligbloutruie het ‘n verlengde blaaskans, danksy ‘n loslootjie, in die eerste ronde na die skoolvakansie geniet, maar dit het hul momentum duidelik nie veel geaffekteer nie.
Valia se gevaarlike agterlyn was weer hul sterkpunt, maar die oorwinning sou nie moontlik gewees het sonder ‘n dominerende vertoning deur die voorspelers nie.
Die besoekers het vanuit die staanspoor nie gehuiwer om die bal lug te gee nie, en sodoende kon hul sneller op linkervleuel, Tumi Moloi, vroeg reeds sy span se rekening met ‘n praglopie teen die kantlyn af oopmaak. Die Cravenweek-senters, Brandonlee Smit en Tshepo Molakeng, het ook uitgeblink aan die buitekant van losskakel, Dylan Steynman.
Vir die tuisspan het loskopstut, Marinus Oberholzer, hand opgesteek, met sy begeesterde barslopies waardevolle meters vir die Monties gewen en twee drieë gedruk. Hy het goeie ondersteuning ontvang van oopkantflank, Dieter Scheepers, wat verál in die vastelos uitgeblink het.
In Klerksdorp het Hoërskool Klerksdorp ‘n derde agtereenvolgende sege behaal deur vir Ligbron Akademie, van Ermelo, met 38-31 te troef.
Die tuisspan het reeds binne die eerste 10 minute drie keer agter Ligbron se doellyn gaan kuier. Agtsteman en kaptein, GJ Steenberg, gaan van krag tot krag en is met ‘n tweekuns beloon vir sy kragtige vertoning. Agterlangs het heelagter, Winton Abrahams, en binnesenter, Diwan Labuschagne, die besoekers se gevaarlike agterlyn grootliks in toom gehou.
Ligbron is egter ‘n span wat weier om weg te gaan en het, nes verlede naweek, ‘n verbete terugvegpoging geloods. Hul Cravenweek-heelagter, Anele Ngwenya, was aan die spits daarvan, maar skrumskakel, Renier van Staden, het uiteindelik die kollig gesteel deur 16 van sy span se 31 punte aan te teken.
Hoërskool Middelburg het nóg ‘n oortuigende sege op sy kerfskop geplaas. Die span van Mpumalanga het in Centurion vir Hoërskool Zwartkop oortuigend met 34-17 verslaan.
‘n Tweekuns deur vaskopstut en kaptein, Wandisa Mtombeni, het die grondslag vir die sege gelê en ook die vuur onder sy pak aangesteek. Mtombeni het goeie ondersteuning van slot, Enrico Thompson, ontvang.
Hoër Tegniese Skool Middelburg se kaptein, Toy Engelbrecht, was op sy beurt aan die voorpunt van HTS se oorwinning van 42-12 oor Hoërskool Kempton Park op die Oos-Rand, en het twee van sy span se vyf drieë gedruk.
Heelagter, WJ Enslin, wat gewoonlik op linkervleuel diens doen, het ‘n puik dag vanaf die skopkegel beleef. Enslin het ‘n 100% slaagsyfer met sy skopwerk pale toe behaal en ál vyf die Rooi Bulle se drieë verdoel.
Puntemakers:
Transvalia 45 (19) – Drieë: Dihan Crause (2), Arné Botes, Tumi Moloi, Brandonlee Smit, Tsepho Molakeng, Siya Khambule. Doelskoppe: Dylan Steynman (5). Montana 24 (3) – Drieë: Marinus Oberholzer (2), Dieter Scheepers. Doelskoppe: Devan van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe.
Hoërskool Klerksdorp 38 (28) – Drieë: GJ Steenberg (2), Diwan Labuschagne, Bokamoso Mabeleng, Louis Vorster, Tyran Masango. Doelskoppe: Cohan Witbooi (4). Ligbron Akademie 31 (17) – Drieë: Renier van Staden, Neo Zwane, Anele Ngwenya, Zakithi Zwane. Doelskoppe: Van Staden (4). Strafdoel: Van Staden.
Hoërskool Middelburg 34 (17) – Drieë: Wandisa Mtombeni (2), Enrico Thompson, Matthew Abbey, Kefilwe Phamotse. Doelskoppe: Abbey (2). Zwartkop 17 (3) – Drieë: Brian Smith (2). Doelskoppe: Luhardt Booyens (2). Strafdoel: Booyens.
HTS Middelburg 42 (21) – Drieë: Toy Engelbrecht (2), Luhan Graaff, WJ Enslin, Jaque Stassen. Doelskoppe: Enslin (5). Hoërskool Kempton Park 12 (5) – Drieë: Ryan Smith, Tian Aucamp. Doelskop: Tiaan Delport.
Ander spanne:
o.16: Transvalia 31, Montana 11; Ligbrona Akademie 31, Hoërskool Klerksdorp 5; Zwartkop 60, Hoërskool Middelburg 10; Hoërskool Kempton Park 31, HTS Middelburg 7.
o.15: Transvalia 13, Montana 8; Hoërskool Klerksdorp 34, Ligbron Akademie 19; Hoërskool Middelburg 38, Zwartkop 0; Hoërskool Kempton Park 38, HTS Middelburg 3.
o.14: Transvalia 62, Montana 0; Hoërskool Klerksdorp 26, Ligbron Akademie 0; Hoërskool Middelburg 14, Zwartkop 12; Hoërskool Kempton Park 19, HTS Middelburg 7.