Stellenberg behaal roemryke sege oor Monnas se Wit Bulle
Die Hoërskool Stellenberg se eerstespan het Dinsdag op Affies se hoofveld in Pretoria een van sy grootste seges in die skool se relatiewe jong geskiedenis opgelewer.
Die #JadeBrigade het die Wit Bulle van die Hoërskool Monument van Krugersdorp met 34-33 na die slagpale tydens die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi gelei.
Dit was nou wel ‘n naelskraapse sege op die telbord, maar dit was sonder twyfel ‘n welverdiende sege vir die span van Stellenberg.
Die groot held in die sege was Stellenberg se binnesenter, Damian Markus, wat amper na hartelus gapings in Monnas se verdediging gevind het. Markus is ook ‘n onderskep-koning – hy het met ‘n onderskep in die doodsnikke van die wedstryd die sege vir sy span beklink.
Markus het wel hierdie drie vir die plaasvervanger-vleuel, Chad van Wyk, gegee om af te rond. Monnas het na ‘n reuse terugvegpoging net voor rustyd en na rustyd daarin geslaag om voor die drie deur Van Wyk ‘n voorsprong van 33-29 te geniet.
Monnas was vroeg in die moeilikheid met Stellenberg wat ‘n voorsprong van 19-0 opgebou het. Die besoekers vanuit Durbanville het egter daarna op hul louere gaan rus en Monnas toegelaat om terug in die wedstryd te kom.
Monnas het danksy twee drieë deur Tylor Sefoor (heelagter) en HJ de Beer (slot) meer aansien aan sy poging in die eerste helfte gegee. Stellenberg het egter steeds met ‘n stewige voorsprong van 22-12 gaan rus.
Monnas se agtsteman, Tiaan Wessels, het vanaf die afskop van die tweede helfte ‘n kragtige lopie ingesit wat op ‘n drie vir sy kaptein, Jan-Hendrik Bessenger, uitgeloop het. Bessenger het twee van sy span se drieë gedruk.
Dit het geblyk om Monnas se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, die nodige terpentyn gevind het om sy pak voorspelers te smeer want daar was skielik heelwat meer vuur onder die agttal. Na Bessenger se tweede drie agt minute in die tweede helfte het die Wit Bulle vir die eerste keer in die wedstryd die voortou geneem.
Die terpentyn het egter sy effek so ietwat verloor hoe meer die wedstryd einde se kant toe gestaan het. Monnas beskik oor ‘n agttal met hope potensiaal, maar hulle sal hul sokkies moet optrek indien hulle vanjaar hul merk in die skool se 100ste bestaansjaar wil laat.
Buiten Markus was sy sentermaat, Jacquin Jacobus, asook die vlugvoetige heelagter, Jayson January, dorings in Monnas se vlees. Vir Monnas verdien sy binnesenter, Conrad Sevenster, asook die vaskopstut, S’fiso Magwaza, ook ‘n klop op die skouer.
EG Jansen van Boksburg was omgesukkeld teen Welkom Gimnasium en het uiteindelik met 38-7 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span van Boksburg het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 26-0 geniet.
Die wenspan se haker, Kyle Pepler, het twee keer van rolmaalbewegings af gaan druk, terwyl die heelagter, Jason Edwards, deurgans probleme vanuit die laaste vesting vir Gimmies besorg het.
Puntemakers:
Stellenberg 34 (22) – Drieë: Damian Markus, Jacquin Jacobus, Ughan Africa, Franco Roux, Chad van Wyk. Doelskoppe: Tommie Smook (3). Strafdoel: Smook. Monument 33 (12) – Drieë: Jan-Hendrik Bessenger (2), Tylor Sefoor, HJ de Beer, Jaco Bezuidenhout. Doelskoppe: Conrad Sevenster (4).
EG Jansen 38 (26) – Drieë: Kyle Pepler (2), BJ Bruntjies, Jason Edwards, Werner Edwards, Giovanni van Eeden. Doelskoppe: Kyle Benadé (4). Welkom Gimnasium 7 (0) – Try: Daniel van Heerden. Conversion: Bennie Human.
[powr-comments id=”cdf99014_1619603027674″]
- Seymore leads Paul Roos from the front at Peninsula Festival - 2025-01-08
- Khan and Roth gets SACS off to a good start at Peninsula Festival - 2025-01-08
- Hansen to lead SA u19 against England - 2025-01-07