SuperSport Schools Plus

Stellenberg begin netbal-seisoen met puik sege

By Charne van der Merwe , in Netball | News , at 2024-02-23 Tags:

Die meisies van Hoërskool Stellenberg het hul 2024-netbalseisoen op ‘n fantastiese noot afgeskop deur met die louere by die Distrik-netballiga weg te stap.

Hulle het onder die vaandel van Jade Brigade in die C-afdeling meegeding en hul vaardighede en spanwerk regdeur die toernooi tentoongestel.

Die toernooi het van 16 tot 18 Februarie by Rhenish Girls’ High School se bane in Stellenbosch plaasgevind, met spanne van verskeie ouderdomsgroepe en vaardigheidsvlakke wat in verskillende afdelings deelgeneem het.

Jade Brigade moes vier wedstryde speel om die eindstryd te haal en het Vrydag teen Hoërskool Swartland (32-29) en Eagles (38-28) gewen.

Saterdag het die span hul segetog voortgesit met ‘n oorheersende vertoning teen Desmond Tutu High (60-15), maar ‘n naelskraapse nederlaag teen Hoërskool Durbanville (25-30) gely.

In ‘n opwindende herontmoeting met Durbanville, in die eindstryd, het Jade Brigade ‘n uitstekende vertoning gelewer om die oorwinning te behaal met ‘n telling van 34-27. Regdeur die kragmeting het Stellenberg se meisies hul oorheersing tentoongestel, om elke kwart van die wedstryd te oorheers.

Stellies, wie se vernaamste teenstanders Paarl Girls High en Paarl Gimnasium is, se doelwit vanjaar is om die Interskole te wen, die Wes-Kaap by Topskole te verteenwoordig en uitnodigings na geleenthede soos Wildklawer-toernooi te ontvang. Hulle hoop dat al 10 eerstespanspelers die Wes-Kaap of Kaapstad-hoërskoolspanne, wat deelneem aan die onderskeie provinsiale toernooie, sal verteenwoordig.

Die span, gelei deur afrigters Megan Oosthuizen, Andrea van der Merwe en Delano Rasmus, met ‘n kondisioneringsafrigter, bestaan uit Zané Du Plessis, Salina Esterhuizen, Siba Tutu, Owami Mafata, Megan Ross, Lusché Koen, Maricia Venter, Danica Lötter, Caitlin Morris, en Mila Havinga. Elma Carstens dien as spanbestuurder.

error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.