Shaw, Coetzee trek Moorie-wa deur die drif, MV troef Gimmies met 11 lopies

Hoërskool Montana is ‘n harde neut om te kraak op sy tuisveld. Daarvan kan Hans Moore getuig, ná sy swaarverdiende sege die afgelope naweek.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Alhoewel die span uit die Noorde van Pretoria teen die Moories vasgeval het, het dit bloedsweet gekos vir die besoekers van Benoni om uiteindelik met drie paaltjies te wen. Dit was hoofsaaklik te danke aan die ervaring van twee van die Moories se voorslagkolwers.
Aiden Shaw (51) en die talentvolle Xavier Coetzee (49) het saamgespan vir ‘n uiters belangrike 91-lopie vennootskap om hul span uit die knyp te kry, nadat die Monties se Maans de Raubix (2/30) en Wouter Kotze (2/49) vir die besoekers kwaai hoofbrekens besorg het.
Die Monties se kaptein, Luca Bairos, het sy mede-kolwers, Adriaan Nel (45*) en Juvhanne Conradie (44), geduldig geïnspireer met ‘n beurt van 54 lopies, wat slegs twee grenshoue ingesluit het. Bairos se hardloopwerk tussen die paaltjies was egter uit die boonste rakke en het die pas vir die res van die kolwers aangegee.
Hoërskool Marais Viljoen het tuisveldvoordeel optimaal benut om die besoekende Potchefstroom Gimnasium in nóg ‘n naelbytstryd met 11 lopies te troef. Die span van Alberton se aanvangskolwer, Tiaan Hall, het sy beste spelpeil herwin met ‘n aanskoulike beurt van 54, terwyl die veelsydige Abdullah Tadwala (35) en kaptein, Jaden Govender (34), ook mooi gekolf het.
Hoewel die uiteindelike totaal van 174 nie veel vertroue ingeboesem het nie, kon die aanvangsboulers, Marco Hoffman en Abdullah Tadwala, tóg daarin slaag om, met hul effektiewe draaiboulwerk, dit suksesvol te verdedig. Hoffman se sewe beurte het drie paaltjies vir slegs 22 lopies opgelewer, terwyl Tadwallah 2/25 in sy beurte behaal het.
Divan van Eldik (37) en Jahndré Coetzee (29) het hul bes probeer om Gimmies weer op koers te kry, maar nóg ‘n paar paaltjies deur Tristan Thom (2/9) het die besoekers se doppie geklink, met hul laaste paaltjie wat in die 33ste beurt gekantel het.
Beknopte telkaarte:
Montana 195/7 (Luca Bairos 54, Adriaan Nel 45*, Juvhanne Conradie 44, Marco Rudolph 29; Ettiene Smith 2/27, Kyle Wratten 2/30); Hans Moore 199/7 (Aiden Shaw 51, Xavier Coetzee 49, Zander Swart 24, Kenan Shaw 22*; Maans de Raubix 2/30, Wouter Kotze 2/49). Hans Moore wen met drie paaltjies.
Marais Viljoen 185/7 (Tiaan Hall 54, Abdullah Tadwala 35, Jaden Gavender 34, Ethan van Rooyen 21; Thloni Tabatha 3/40); Potchefstroom Gimnasium 174 (Divan van Eldik 37, Ruhann Steenkamp 32, Jahndré Coetzee 29, Ekstras 25; Marco Hoffman 3/22, Tristan Thom 2/9, Abdullah Tadwalla 2/25). Marais Viljoen wen met 11 lopies.