Secunda maak stem dik in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup
Hoërskool Secunda het Saterdag weereens bewys hoekom hy die gunsteling is in hierdie jaar se SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling na hy vir Ligbron Akademie van Ermelo met 43-14 afgeransel het.
Oopkant flank, Sibusiso Ngubane, was weereens in ‘n verwoesdende bui en het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die binnesenter en onderkaptein, Tian Snyman, het van voor gelei om ‘n prag beweging af te rond om die span van Secunda se rekening oop te maak.
Secunda se agterhoede was vuurwarm. Die losskakel, Jean du Toit, beskik oor die vermoë om vir sy spanmaats ruimte te skep aan sy buitekant. Hul kon met die ruimte baljaar en goeie aanvallende bewegings aan die gang sit. Du Toit se taktiese skopwerk was ook van hoogstaande gehalte en het Ligbron telkens tot hul eie halfgebied teruggejaag.
Voorlangs het die span van Secunda ook sy stempel afgedruk en het hy die oorhand gehad in die vaste fasette wat die grondslag kon le vir die agterlyn.
Aan die kant van Ligbron was daar min beter as die agtsteman, Kyle Alves, en flank Ayanda Mkwebane nie. Die vurige agtsteman was sterk op verdediging het het nie geskroom om Secunda se verdediging aan te vat met bal in hand nie en kan spog met een van sy span se twee drieë, terwyl Mkwebane sy vaart gewys het laat in die wedstryd om ‘n goeie steekskop in te hardloop en af te rond om sy span se telling na 12 te verskuif.
Heidelberg Volkskool het vir Ben Vorster met 46-38 op sy tuisveld in Heidelberg kaf gedraf. Die kaptein en agtsteman, Daniel Jordaan, het sy troepe van voor gelei met sy driekuns aan drieë. Die grondslag vir die oorwinning is egter deur die agterlyn gele, wat daarin kon slaag om ‘n sterk vertoning deur die voorspelers af te rond.
Die Buffels sal bly wees dat sy voorryman Meyer Jacobs sy terugkeur kon aankondig met twee drieë. Asook die losskakel, Divan Spangenberg, wat sy ritme vanaf die skopkegel gevind.
Oos-Moot was te sterk op tuisbodem en kon gemaklik met Hugenote van Springs (39-21) afreken.
Die staatmaker van die Moot Charl van der Sluis (losskakel) was soos gebruiklik sekuur met sy skop voet om die telbord aan die rol te hou. Voorlangs was dit die agtsteman, Deon Badenhorst, wat die kollig gesteel het. Badenhorst het gewoeker in die vastelos en kon daarin slaag om twee keer agter die besoekers se doellyn te gaan kuier.
Die Hoërskool Lichtenburg het met ‘n afgeronde span vertoning daarin geslaag om vir Jeugland met 32-22 te verslaan en sodoende sy kanse vir ‘n plek in die uitspele vergroot.
Die heelagter, Collin Pereira, en linkervleuel, Antonio Vasjel, het gewys hoekom hulle die Luiperds by die onderskeie provinsiale weke sal verteenwoordig hierdie jaar. Perreira sal die Luiperds by die Cravenweek verteenwoordig, terwyl Vasjel op die Akademie-week in Johannesburg in aksie sal wees.
Aan die kant van Jeugland was dit heelagter, Oregopotse Shilubane, wat uitgeblink het met sy goeie teenaanvalle van agter.
Puntemakers:
Secunda 43 (29) – Drieë: Sibusiso Ngobane (2), Tyron Moolman, Tian Steyn, Ryan Erasmus, Jayden Schnuir. Doelskoppe: Luan Lottering (5). Strafdoel: Lottering. Ligbron Akademie 14 (0) – Drieë: Ayanda Mkebane, Kyle Alves. Doelskoppe: Diean Swart (2).
Heidelberg Volkskool 46 (20) – Drieë: Daniel Jordaan (3), AJ Engelbrecht, Lian Pelzer, Joshua Booysen, Rhys Thompson. Doelskoppe: Kayle Venter (4). Strafdoel: Venter. Ben Vorster 38 (19) – Drieë: Meyer Jacobs (2), Damian Bye, Nkateko Phakula. Doelskoppe: Divan Spangenberg (3). Strafdoele: Spangenberg (4)
Oos-Moot 39 – Drieë: Deon Badenhorst (2), Tapiwa Rafwa, Jadon la Douce, Braam Bezuidenhoud. Doelskoppe: Charl van der Sluis (3), Ruwan Allen. Strafdoele: Van der Sluis (2). Hugenote 21 – Drieë: Jason Joubert, Zandre van der Schyff. Doelskop: Miquelle Schultz. Strafdoele: Schultz (3).
Lichtenburg 32 (14) – Drieë: Collin Pereira, Dries Scheepers, Arno Vasjel, Eddie du Preez. Doelskoppe: Albert Joubert (3). Strafdoele: Joubert (2). Jeugland 22 (17) – Drieë: Lynghe Pretorius, Oregopotse Shilubane, Thando Ngomane. Doelskoppe: Marno Maritz (2). Strafdoel: Maritz.
Ander spanne:
o.16: Ligbron 17 Secunda 14; Heidelberg Volkies 10 Ben Vorster 7; Oos-Moot 25 Hugenote 24; Jeugland 28, Lichtenburg 10
o.15: Ligbron 19 Secunda 15; Heidelberg Volkies 17 Ben Vorster 8; Hugenote 38, Oos-Moot 22; Jeugland 55 Lichtenburg 5.
o.14: Ligbron 38 Secunda 7; Ben Vorster 24, Heidelberg Volkies 3; Oos-Moot 29 Hugenote 5; Lichtenburg 7, Jeugland 5.