Secunda het vanjaar meer as genoeg vroompa vir SDC Noordvaal Cup
Die eersterugbyspan van die Hoërskool Secunda het vanjaar meer oemf as Sasol se Super 100-brandstof van destyds.
Die span skop sy aanslag in vanjaar se SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling teen die Hoërskool Jeugland van Kempton Park af.
Die eerstespanne se kragmeting skop om 13:00 in Secunda af.
Die tuisspan het ses spelers in die voorlopige Cravenweek-span van die Pumas. Die dosyn spelers is Jayden Schnuir (haker), Hanré Hattingh (flank), Tian Steyn (losskakel), Tyran Moolman (senter), Luan Lottering (heelagter) en Thumelo Mtshali (stut).
Hattingh voer Secunda se span aan en is ook die vonkprop voorlangs wat die vuur aansteek. Agterlangs het die senterpaar, Steyn en Moolman, asaook die vleuel Lottering al ‘n hele paar spanne behoorlik laat bontstaan.
Secunda het vroeër vanjaar ‘n hele paar Stellenboschers laat Google – Waar is Secunda? Dit is toe hulle amper vir ‘n opskudding gesorg het, maar toe uiteindelik die knie met 5-17 teen een van Suid-Afrikaanse rugby se Springbok-fabrieke Paul Roos Gimnaisum die knie moes buig.
Secunda het nie vanjaar in een van die NWU-reeks gespeel nie, maar goeie voorbereiding gekry met oorwinnings oor HTS John Vorster (57-10) en Hoërskool Pietersburg (17-16).
Jeugland sal deeglik bewus wees van die taak wat Saterdag op hom wag asook wie die gevaarmanne vir Secunda is.
Die span van Kempton Park is wel ook nie ‘n span wat vanjaar sommer die stryd gewonne gee nie. Hy het vanjaar in die NWU Prestige-reeks goeie seges oor die Hoërskool Middelburg (25-23) en Potchefstroom Volkskool (41-26) behaal.
Oos-Moot is die verdedigende kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Skild-kompetisie. Hy het verlede jaar vir die Hoërskool Klerksdorp in die eindstryd getroef om met die louere weg te stap.
Klerksdorp is egter gepromiveer na die Plaat-kompetisie na afloop van die seisoen. Oos-Moot sal sy aanslag in vanjaar se reeks eers op 27 Mei teen Ligbron Akademie in Ermelo afskop.
Die spanne is:
Secunda: 15 Ethan Coetzee, 14 Ryan Erasmus, 13 Tyran Moolman, 12 Tian Steyn, 11 Luan Lottering, 10 Jean du Toit, 9 Jarno Haaroff, 8 Mike Pretorius, 7 Hanré Hattingh (kaptein), 6 Sibusiso Ngubane, 5 Armand Kwooitz, 4 John Opperman, 3 Henrico Fourie, 2 Lie-Chaen Müller, 1 Jayden Schnuir.
Jeugland: 15 Hassan Ruhongole, 14 Billy Rheeder, 13 Lynghe Pretorius (kaptein), 12 Jeandré Momberg, 11 Oregopotse Shilubane, 10 Jacques du Plessis, 9 Marno Maritz, 8 Relebohile Letlala, 7 Siyanda Mbanjwa, 6 Rynhardt Olivier, 5 Sharon Nsenda, 4 Thadiwa Zvomuyo, 3 Mundilu Emeraude, 2 Devan de Jager, 1 Keanan Watson.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16