Secunda gooi wal op tuisbodem
SECUNDA – Hoërskool Die Anker het Saterdag bitter naby daaraan gekom om te vergoed vir ‘n pynlike nederlaag van 17-18 in Secunda twee jaar gelede. Hoërskool Secunda het egter genoegsaam wal gegooi om nóg ‘n naelskraapse oorwinning te verseker.
Die twee spanne het mekaar met mening die stryd aangesê in hul Skild-wedstryd in vanjaar se SDC Noordvaal Cup. Dit was, soos verwag, ‘n uiters fisieke kragmeting, met die tuisspan wat uiteindelik met 25-21 kon seëvier.
Teen rustyd was die telling nog gelykop met 7-7 en was dit duidelik dat die toeskouers maar kon regskuif vir ‘n senutergende tweede helfte. Die klipharde dryfspel en groot duikslae voorlangs was derhalwe selfs meer verwoed ná die omdraaislag.
Die tuisspan se oopkantflank, Zander van der Merwe, het moue opgerol en die lewe geweldig moeilik gemaak vir die besoekers by die afbreekpunte. Van der Merwe was soos ‘n wafferse Jack Russel agter ‘n tennisbal aan en het keer op keer omgekeerde balbesit bewerkstellig.
Die besoekers se steelkantflank, Xander Fraser, en slot, Gerhard Oosthuizen, het die pap ook dik aangemaak en verál hul stempel afgedruk in die vastelos,
Agterlangs het die snellers mekaar deurgaans met venynige aanvalslyne uitgedaag en die tweestryd tussen in die middelveld was verál iets om te aanskou. Secunda se, buitesenter, Ryan Erasmus het dikwels deur die kleinste moontlike spasie gesny om oor die voordeellyn te kom, terwyl Die Anker se, binnesenter, Brandon Crous vir Secunda se middeveld besig gehou het met sy kragtige barslopies.
Die tuisspan se verdediging het egter sterk gestaan teen die einde om die aanslag van die Brakpanse span suksesvol af te weer.
Hoërskool Wesvalia het, in Heidelberg, so hittete die eerste keer bloedneus gekry in vanjaar se reeks. Die span van Klerksdorp het in die doodsnikke daarin geslaag om vir Heidelberg Volkskool met 34-28 te troef.
Die Wessies se steelkantflank, Francois Dumond, het weer gewys hoekom die provinsiale keurders op hom besluit het om die Luiperds se nr. 7-trui te dra by vanjaar se Cravenweek, en het ‘n briljante tweekuns behaal.
Die Volkies, het ondergewoonte nooit tou op gegooi nie en keer op keer aanvalle geloods wat die besoekers gedwing het om te keer vir ‘n vale. Hul ervare losskakel, Kayle Venter, was uitstaande en het, nes Dumond, twee keer agter die doellyn gaan kuier en ook met ‘n doelskop en twee strafdoele geslaag om 18 van sy span se 28 punte by te dra.
In Tzaneen was Hoërskool Hugenote van Springs té sterk vir Hoërskool Ben Vorster om hul segetog in die reeks voort te sit met ‘n sprankelende sege van 38-7. Buitesenter, Vian van Dyk, het die Buffels se middeveld deurentyd onder druk geplaas en ook by twee geleenthede deurgebreek vir drieë.
Hoërskool Lichtenburg kon, na ‘n verbete terugvegpoging, herrys uit die as met ‘n oorwinning van 40-33 oor Hoërskool Jeugland. Die Liggies het teen rustyd ‘n agterstand van 12-26 in die gesig gestaar.
Vaskopstut, JJ Jonker, was ‘n reus in die voorspelerstryd met sy hoë werkverrigting en energieke dryfspel, en is ook met ‘n tweekuns beloon.
Puntemakers:
Hoërskool Secunda 25 (7) – Drieë: Zander van der Merwe, Brink la Grange, Bismarck Jansen. Doelskoppe: Damian de Beer (2). Strafdoele: De Beer (2). Die Anker 21 (7) – Drieë: Xander Fraser, Danie Smit, Brandon Crous. Doelskoppe: Xavier Erasmus (4).
Wesvalia 34 (13) – Drieë: Francois Dumond (2), Junior Kuhn, Xander Smit. Doelskoppe: Rickardt van Heerden (4). Strafdoele: Van Heerden (4). Heidelberg Volkskool 28 (11) – Drieë: Kayle Venter (2), Juan de Villiers, Stefan Botha. Doelskop: Kayle Venter. Strafdoele: Venter (2).
Hugenote (Springs) 38 (14) – Drieë: Vian van Dyk (4), Xavier Ungerer, Arné Marais, Hendrik Eybers. Doelskoppe: Corné Pretorius (4). Ben Vorster 7 (0) – Drie: Stiaan du Randt. Doelskop: Pontsho Selowa.
Hoërskool Lichtenburg 40 (12) – Drieë: JJ Jonker (2), Albert Joubert, Rea Motsusi, Abrie Coetzee, Dundré Dempers. Doelskoppe: Albert Joubert (5). Jeugland 33 (26).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Secunda 14, Die Anker 5; Heidelberg Volkies 36, Wesvalia 5; Ben Vorster 41, Hugenote (Springs) 19; Jeugland 26, Lichtenburg 3.
o.15: Die Anker 17, Hoërskool Secunda 15; Heidelberg Volkies 29, Wesvalia 17; Ben Vorster 29, Hugenote (Springs) 12; Jeugland 32, Lichtenburg 29.
o.14: Die Anker 12, Hoërskool Secunda; Wesvalia 38, Heidelberg Volkies 8; Ben Vorster 46, Hugenote (Springs) 0; Lichtenburg 24, Jeugland 5.
- Lions favourites to defend Academy Week title - 2025-07-10
- Sithole brace helps Border down Pumas - 2025-07-09
- Lions whack EP to close in on third straight Academy Week title - 2025-07-09