Secunda en Die Anker sal sake in eindstryd van die Bowl-kompetisie uitspook
Die eindstryd van die Noordvaaltrofee se Bowl-kompetisie beloof om ‘n strawwe tweestryd te wees.
Die Hoërskool Secunda en Die Anker van Brakpan het Saterdag met sege in die halfeindronde ‘n afspraak met mekaar vir die eindstryd opgesit.
Secunda moes so bietjie harder werk as verwag om die Hoërskool Pietersburg met 19-7 die loef af te steek.
Daar was teen rustyd met die telling op 7-elk niks tussen die twee spanne te kies nie. Die wenspan se losskopstut, DJ Loock, het weer gewys dat hy ‘n gevaarlike spelers is met die bal in die hand. Hy het twee keer Pietersburg se doellyn oorgesteek.
Secunda se flank Hanré Hattingh het ook ‘n goeie dag op kantoor op die aanval as wel op verdediging beleef. Hattingh het ook ‘n hele paar keer daarin geslaag om omgekeerde balbesit by die afbreekpunte te verseker.
Agterlangs het die senterpaar, Tian Steyn en Tyron Moolman, goed saam met die losskakel, Jean du Toit, gekombineer.
Die Anker het op sy tuisveld in Brakpan vir Potchefstroom Volkskool met 34-18 uitoorlê. Die span van Brakpan het in die eerste teen ‘n sterk wind gespeel, maar kon ondanks die feit steeds daarin slaag om ‘n voorsprong van 20-13 teen rustyd op te bou.
Volkies het in die tweede helfte gesukkel om uit hulle gebied te kom en daarom kon hul nie die druk van Die Anker verlig nie. Die Anker se voorspelers verdien lof vir die fondasie wat hul vir hul gevaarlike agterlyn gelê het.
Die kaptein en agtsteman, Christiaan van Schalkwyk, het veral ‘n barshou gespeel en telkemale gesorg dat sy span oor die voordeellyn kom. Agterlangs het die losskakel, Gunter Jacobs, spel goed met sy skopvoet dikteer en vir homself die Speler van die Wedstryd toekenning losgespeel.
Daar was nie veel tussen Secunda en Die Anker te kies in hul ligawedstryd nie. Secunda was op sy tuisveld met 28-24 baas danksy ‘n drie in die doodsnikke deur die loskopstut, DJ Loock.
Die eindstryd beloof dus een om vir die boeke te wees.
Puntemakers:
Secunda 19 (7) – Drieë: DJ Loock (2), Tyron Moolman. Doelskoppe: Luan Lottering (2). Hoërskool Pietersburg 7 (7) – Drie: Wian Terblanche. Doelskop: Terblanche.
Die Anker 34 (20) – Drieë: Buks Britz, Henrico Venter, Duhan du Plessis, Sarel Vermaak. Doelskoppe: Gunter Jacobs (4). Strafdoele: Jacobs (2). Potchefstroom Volkskool 18 (13) – Drieë: Johan van Tonder, Niël Esterhuizen, Tiaan Kotze. Strafdoel: Renaldo da Lima.
Ander spanne:
o.16: Secunda 5, Die Anker 0; Wesvalia 22, Pietersburg 13.
o.15: Secunda 30, Wesvalia 0; Pietersburg 19, Die Anker 10.
o.14: Pietersburg 20, Potch Volkies 7; Wesvalia 16, Secunda 12.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12