SuperSport Schools Plus

Rooi nie genoeg om Hansies op tuisbodem te stuit


Nie eens ‘n rooikaart, kort voor rustyd, was genoeg om Hoërskool Hans Strijdom in die hoofwedstryd op die eerste dag van hul Mauritz Hansen-rugbyweek te stuit nie.

Die gashere kon, danksy ‘n strafdrie in die doodsnikke, met ‘n telling van 12-10 oor Northcliff High School, van Johannesburg, seëvier.

Slot en kaptein, Pieter Harmse, en steelkantflank, Janneman Benson, het uitgeblink onder die Hansies se groot pak voorspelers, en is elkeen met met ‘n drie vir hul harde werk beloon.

Northcliif het nietemin ‘n verbete stryd opgesit. Om die waarheid te sê, die Johannesburgers het vir die grootste gedeelte van die wipplankstryd die oorhand geniet en was verál voorlangs uitstekend.

Die Northcliff-pak het telkens, met rotsvaste verdediging in die vaste los, die Hansies se balbesit ontwrig, met agsteman, Mardoche Katanga, wat uiters prominent was in dié opsig. Binnesenter, Matthew Hunt, het agterlangs die septer geswaai en vir die besoekers ook met sy geleerde skopvoet deeglik in die wedloop gehou.

Hoewel Ligbron Akademie vir Hoërskool Witteberg met 22-5 kon verslaan, was die eindtelling geensins ‘n getroue weergawe van die gebeure nie. Inteendeel, die span van Bethlehem was teen rustyd met 5-0 voor.

Ligbron se gevaarlike agterlyn het in die laaste 20 minute egter die krane begin oopdraai. Die span van Ermelo se aanslag is deur hul sneller op linkervleuel, Bandile Thanjekweyo, gelei. Hy was deurgaans ‘n gevaar met die bal in die hand, en was duidelik op sy gelukkigste, en gevaarlikste, uit gebroke spel.

‘n Driekuns deur haker, Luan Pretorius, het bygedra dat ‘n uiters indrukwekkende Hoërskool Hugenote met ‘n telling van 38-0 teen Hoërskool Linden as oorwinnaars uit die stryd kon tree. Die span van Springs het voorlangs sake oorheers, om ‘n platform te lê vir die gevaarman in die middelveld, Vian van Dyk (binnesenter), om twee keer agter die Linden doellyn te gaan kuier.

Petri Shutte en Hoërskool Fochville het hulle week met ‘n puik oorwinning van 26-12 teen Hoërskool Pretoria-Noord afgeskop. Schutte was oudergewoonte venynig op die aanval en het, benewens drie doelskoppe, ook na ‘n skitterende individuele lopie gaan druk.

Sy goeie visie en balverspreiding het voorts die grondslag gelê vir Marchand de Villiers se indrukwekkende vertoning op binnesenter. De Villiers het met netjiese aanvalslyne daarin geslaan om twee keer deur te breek vir drieë.

Hoërskool Kalahari en Hoërskool Brits moes albei hard spook vir hul eerste oorwinnings by vanjaar se toernooi. Die span van Kathu het twee keer agter Ferrum High School se doellyn gaan kuier vir ‘n sege van 14-0. Die manne van Brits kon eers in die laaste 20 minute die nodige ritme bewerkstellig om met 28-3 oor Empangeni High School te seëvier.

Hoërskool Frans du Toit het, na ‘n beter vertoning in die tweede helfte, met 23-17 vir Hoërskool Die Anker se tweedespan getroef.

Puntemakers:

Hoërskool Hans Strijdom 12 (5) – Drieë: Janneman Benson, Pieter Harmse, Strafdrie. Northcliff High School 10 (10) – Drie: Mardoche Katanga. Doelskop: Matthew Hunt. Strafdoel: Hunt.

Ligbron Akademie 22 (0) – Drieë: Bandile Thanjekweyo (2). Doelskoppe: Divan van Jaarsveldt (2). Strafdoel: Van Jaarsveld. Hoërskool Witteberg 5 (5) – Drie: Kirsten Fourie.

Hoërskool Hugenote (Springs) 38 (24) – Drieë: Luan Pretorius (3), Vian van Dyk (2). Doelskoppe: George Lourens (4). Hoërskool Linden 0 (0).

Hoërskool Fochville 26 (14) – Drieë: Marchand de Villiers (2), Junoir Naude, Petri Shutte. Doelskoppe: Petri Schutte (3). Hoërskool Pretoria-Noord 12 (7) – Drieë: Clayton van der Colf, Wian van der Merwe. Doelskop: Anthony Smith.

Hoërskool Kalahari 14 (7) – Driee: SW van Heerden, Luchiano Gouws. Doelskoppe: Zelwyn Julie (2). Ferrum High School 0 (0).

Hoerskool Brits 28 (7) – Drieë: Tjaart labuschagne, Henro van de Walt, Ethan Lindeman, Kiaan Schoeman. Doelskoppe: Hanko Swanepoel (4). Empangeni High School 3 (3) – Strafdoel: N Dube.

Hoërskool Belville 19 (13) – Drie: Ronaldo Lackay. Doelskop: Lackay. Strafdoele: Ashwin Cox (3). Lackay. Hoërskool Piet Retief 13 (3) – Drie: Louis Grobler. Doelskop: Owethu Shabalala. Strafdoele: Shabalala (2).

Hoërskool Frans du Toit 23 (3). Hoërskool Die Anker II 17 (10).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.