SuperSport Schools Plus

Rhinos gaffel Wit Bulle in Mbombela

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-07-21 Tags: , , , , ,

FOTO: Dirk Kotze/HH Photograpy & Design

Nóg ‘n reuse vertoning, nóg ‘n reuse oorwinning vir die Rhinos.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com

Mpumalanga se hoofstad, Mbombela, het vir ‘n tweede agtereenvolgende naweek gejubel nadat Hoërskool Nelspruit Saterdag vir die Wit Bulle van Hoërskool Monument met 21-12 die loef afgesteek het.

Dit was nogmaals ‘n geskiedkundige sege vir die span van Mpumalanga aangesien hul vorige oorwinning oor die Wit Bulle (24-19) 10 jaar gelede was in die halfeindstryd van die Beeld-trofee in 2014.

Dit was dus ook die tweede agtereenvolgende naweek wat die tuisspan ‘n opponent vir die eerste keer sedert 2014 kon klop. Hul sege oor Hoërskool Garsfontein in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling was ook die eerste sedert hulle die Bere in die eindstryd van die Beeld-trofee in 2014 gegaffel het.

Die Rhinos-agterlyn, onder aanvoering van hul indrukwekkende binnesenter en kaptein, Ian Wood, het keer op keer houe geland wat die Monumentare laat terugsteier het. Loskakel, Theuns Meyer, en Wood, kon danksy skrumskakel, Liam Pringle, se flink diens, die toutjies na hartelus getrek om sy span op die voorvoet te plaas. , terwyl Pringle se akkurate skopwerk rondom die breekpunte ook die besoekers se groot pak gereeld laat omdraai het.

Vaughn van Zyl, die Rhinos se agtsteman wat sy stempel vanjaar behoorlik afdruk, was ‘n rots op die verdediging. Sy fisieke teenwoordigheid het oudergewoonte ‘n reuse rol gespeel om die besoekers se momentum te stuit.

Haker, Regardt Vermaak, het self weer sy normale barshou gespeel en in die vastelos gewoeker. Vermaak was gereeld aan die voorpunt met die bal in hand, en het ook nie geskroom om kop in te druk en omgekeerde balbesit te bewerkstellig nie.

Die Wit Bulle se verdediging was ‘n rapsie beter in vergeleke met hul vertoning teen Jeppe High School for Boys, maar sou steeds nie na wense gewees het vir afrigter, Tjaart van der Walt, en die res van sy span nie. ‘n Gebrek aan behoorlike balbesit het die besoekers ook geknou en beteken dat die gevaarmanne agterlangs selde geleentheid gekry het om die Rhinos op die punte te toets.

Ernesto Oersen, die Wit Bulle se linkervleuel en driedrukmasjien het wel by twee geleenthede gewys wat op die voorvoet vermag kan word deur sy span se enigste twee drieë te druk.

FOTO: Andrew Campbell

Hoërskool Menlopark het einde ten laaste ‘n eerste oorwinning in die reeks behaal. Die Parkies moes uithaal om die tuisspan, Hoërskool Marais Viljoen, met ‘n 40-33 te troef.

Die besoekers se heelagter, Divan Nel, en agtsteman en kaptein, Rocco Myburgh, was aan die voorpunt van die drieëfees met twee elk. Nel was oudergewoonte ‘n doring in die vlees wanneer hy spasie gegun is, terwyl Myburgh se barslopies die besoekers op die voorvoet kon hou.

Dit het as geen verrassing gekom dat die buitesenter, Brandon Els, een van die tuisspan se uitblinkers was nie. Els het vir die soveelste keer vanjaar gewys dat hy die kleinste van spasies kan uitbuit en het self die besoekers se doellyn twee keer oorgesteek.

Voorlangs was dit steelkantflank, Divan Scheepers, wat die Parkies besig gehou het met sy fisieke benadering op die aanval en verdediging.

Puntemakers:

Hoërskool Nelspruit 21 (7) – Drieë: Vaughn van Zyl, Ian Wood, Ruben Greeff. Doelskoppe: Theuns Meyer (3). Monument 12 (5) – Drieë: Ernesto Oersen (2). Doelskop: Caylem Schooney.

Menlopark 40 (7) – Drieë: Divan Nel (2), Rocco Myburgh (2), Nathen du Plessis, Mattheus Prinsloo. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (5). Marais Viljoen 33 (14) – Drieë: Brandon Els (2), Rio Tshimbalanga, Bjorn Pieterse, Dian Scheepers. Doelskoppe: Recce Gerber (3).

Ander spanne: 

o.16: Monument 36, Hoërskool Nelspruit 17; Menlopark 49, Marais Viljoen 3.

o.15: Monument 48, Hoërskool Nelspruit 14; Menlopark 40, Marais Viljoen 12.

o.14: Monument 22, Hoërskool Nelspruit 19; Menlopark 29, Marais Viljoen 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.