Rhinos en Rusties stoom voort in Noordvaal-trofee se Plaat-kompetisie
Die Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Rustenburg is sonder twyfel die twee spanne om te klop in vanjaar se Plaat-kompetisie van die Noordvaal-trofee.
Nelspruit se Rhinos het Vrydag in Tzaneen die verdedigende kampioen van die kompetisie, Ben Vorster, met 42-21 die loef afgesteek.
Die Rhinos het teen die omdraaislag reeds ‘n stewige voorsprong van 35-7 geniet, maar ‘n rooikaart vir vuilspel aan hul slot Juan Bezand vroeg in die tweede helfte het die wind ietwat uit hul seile geneem.
Nelspruit se senterpaar, Ricardo Correira en Drikus Greeff, het deurgans vrae aan die tuisspan se verdediging gevra. Greeff het twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Rusties het ook oor te veel skietgoed vir Transvalia van Vanderbijlpark beskik en was met 40-24 baas in die twee spanne se kragmeting. Die uitslag was teen rustyd met die telling op 19-17 in Rustenburg se guns egter nog in die weegskaal.
Hugo van Niekerk, haker van Rusties, het ‘n uitstekende dag op kantoor beleef. Die besoekers het ook goed in die skrums en lynstane gevaar wat die grondslag vir die sege gelê het.
Transvalia se aanslag in die kragmeting is ‘n knou toegedien toe sy skrumskakel, Juandre Nel, asook die flank Heinrich Bisschoff elk tien minute in die koelkas moes deurbring.
Montana sal baie gelukkig met hul sege van 23-15 oor die Hoërskool Middelburg wees. Die span van Pretoria moes hard werk in die tweede helfte na hy teen lemoentyd ‘n agterstand van 3-10 op die telbord gehad het.
Kempton Park het ‘n goeie dag teen Zwartkop beleef en danksy twee drieë deur sy voorryman Ryno Ludick wat ook twee keer die doellyn oorgesteek het ‘n sege van 29-21 behaal.
Ludick is ook na die wedstryd welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 42 (35) – Drieë: Drikus Greeff (2), Ethan van der Westhuizen, Francois Odendaal, Duard Diechmann, Danny van Staden. Doelskoppe: Van Staden (6). Ben Vorster 21 (7) – Drieë: Mias Koen (2), Jan Dippenaar. Doelskoppe: Joy Ngobeni (2), Tristan Buglass.
Hoërskool Rustenburg 40 (19) – Drieë: Jaydin de Fortier, Hugo van Niekerk, Callie van Wijk, Werner Kinnear, Damin Drake, Kelvin Grunewald. Doelskoppe Adriaan Liebenberg (5). Transvalia 24 (17) – Drieë: Pebo Pienaar, Dane Beytell, Dillon Slier. Doelskoppe: Duan du Toit (3). Strafdoel: Du Toit.
Montana 23 (3) – Drieë: Vian Kelly, Jahnno Lehmann, Estian Gouws. Doelskop: Jannie Kruger. Strafdoele: Rigard van Rensburg, Kruger. Hoërskool Middelburg 15 (10) – Drieë: Ben Jansen van Vuuren, Bongi Nkosi. Doelskop: AJ Oberholzer. Strafdoel: Oberholzer.
Kempton Park 29 () – Drieë: Ryno Ludick (2), Stiaan Harmse, Divan Bouwer. Doelskoppe: Henco Potgieter (3). Strafdoel: Potgieter. Zwartkop 21 () – Drieë: Stean van der Berg, Nathan van Aswegen. Doelskop: Juanre Venter. Strafdoele: Venter (3).
Ander spanne:
o.16: Nelspruit 26, Ben Vorster 7; Montana 20, Middelburg 19; Kempton Park 73, Zwartkop 7; Rustenburg 19, Transvalia 12.
o.15: Nelspruit 45, Ben Vorster 0; Middelburg 19, Montana 10; Kempton Park 19, Zwartkop 6; Rustenburg 14, Transvalia 13.
o.14: Nelspruit 0, Ben Vorster 0; Middelburg 28, Montana 17; Kempton Park 18, Zwartkop 0; Transvalia 22, Rustenburg 17.