Randburg behoort sy oorheersing oor Linden sedert 2017 voort te sit
Die Goudstad het sy vere reggeskud vir sy grootste Afrikaanse interskole-wedstryd.
Dis weer daardie tyd van die jaar waar die Hoërskool Randburg en Hoërskool Linden mekaar die stryd aansê. Die twee skole se eerstespanne pak mekaar om 19:00 op Randburg se hoofveld.
Al die kragmeting word regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) uitgesaai.
Albei skole het die afgelope paar jaar genoeg rede gehad om oor hul rugby te glimlag. Randburg het laas in 2016 teen Linden in die twee spanne se interskole die knie gebuig, terwyl Linden in 2023 sy tweede Springbok in Jean Kleyn opgelewer het.
Kleyn wat voorheen ook internasionale rugby vir Ierland gespeel het, was ‘n lid van die Springbok-span wat as wêreldkampioen verlede jaar in Frankryk gekroon is. Die skool se eerste Springbok was die heelagter, Thinus Delport. Boonop is nog ‘n oud-leerling, Morné van den Bergh, in die nuutste bok-groep van Rassie Erasmus ingesluit.
Randburg sal vanjaar weer as die gunsteling op die veld draf. Die span word deur Francois Vosloo en Etienne Engelbrecht gebrei. Vosloo het voorheen in sy afrigtingsloopbaan ook vir Linden afgerig.
Randburg het boonop ‘n Wiggett in sy geledere met Josh Wiggett wat op regtervleuel diens doen. Sy pa, Hennie Wiggett, was self ‘n blitsige rugbyspeler wat vir Transvaal se seniorspan uitgedraf het.
Hennie was ook natuurlik ‘n staatmaker op buitesenter vir Randburg se span wat in 1990 as kampioen van die Direkteurstrofee gekroon is. Waarskynlik Randburg se beste span in die skool se geskiedenis. Randburg het destyds vir Lichtenburg met 14-6 in die eindstryd verslaan.
Die uitvoerende hoof van ProVantage, Jacques du Preez, het op daardie dag ook ‘n sleutelrol vir Randburg vanaf die kant van die skrum vertolk. ProVantage sien om na die SDC Noordvaal Cup se kommersiële regte.
Linden wat deur Martin Henning en Ruan Basson afgerig word is stadig maar seker weer besig om rugbyprogram rigting te gee.
Die span het boonop ‘n Francois Steyn op losskakel so sake kan nie te sleg gaan nie. Steyn is ook sy span se kaptein.
Die spanne is:
Hoërskool Randburg: 15 Francois Groenewald, 14 Josh Wiggett, 13 Hendré Breet, 12 Zander Drake, 11 Charl le Roux, 10 Quinton Fillies, 9 Jayden Todd, 8 Duncan Beaven (kaptein), 7 Jean Venter, 6 Herman Goosen, 5 Willie Lindeque, 4 Tristan Nel, 3 Malan van Heerden, 2 Diedelof Fourie, 1 Gustav Vorster.
Hoërskool Linden: 15 Sandile Gumede, 14 Zander Fourie, 13 Etienne Fouché, 12 Aidan Mans, 11 Jeandré Müller, 10 Francois Steyn (kaptein), 9 Ruan Erasmus, 8 Ayden Davel, 7 Keatin Carlse, 6 Dylan Fourie, 5 Lincoln Engelbrecht, 4 Eric Beyl, 3 Ryan Nel, 2 Zackie Crow, 1 Xander Oelofse.
Bepalings:
19:00 | o.19A
17:30 | o.16A
16:20 | o.15A
15:10 | o.19B
14:00 | o.14A
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16